Beperk jou daaglikse skermtyd. Wanneer jy gedurig e-posse stuur of beantwoord, teksboodskappe stuur of daarop reageer of kyk na vars inligting en foto’s wat mense op sosiale media plaas, verplaas dit jou fokus en lei dit tot onproduktiwiteit.
Sosiale media: monsters wat kan vernietig
Sosiale media kan met groot vrug gebruik word, maar dit kan ook lewens verwoes wanneer inligting onoordeelkundig op verskillende platforms gedeel word.
Pedofiele
Jong kinders en tieners kan sonder om twee keer te dink oor watter gevaar dit vir hulle inhou, persoonlike inligting gee wat pedofiele kan gebruik om met die kinders kontak te maak.
Voorkoms
Photoshop skep die idee dat die wêreld wemel van mense met die perfekte voorkoms. Tieners (seuns en meisies) probeer enigiets om ook so “perfek” te lyk en in die proses ly hul gesondheid ernstig skade.
Selfbeeld
Sosiale media kan ’n kind se selfbeeld en -vertroue groot skade berokken. Kinders meet hul sukses en gewildheid aan die aantal vriende wat hulle op Facebook of Instagram het of wanneer hulle deel is van ’n spesifieke groep mense.
Vaardighede
Kinders wat te veel tyd aanlyn deurbring, ignoreer die belangrikheid van fisieke interaksie met ander mense. Dit sal ’n negatiewe uitwerking op hul sosiale vaardighede hê wanneer hulle volwassenes is. Nieverbale vaardighede soos liggaamstaal en gesigsuitdrukkings sal ook ernstig benadeel word.
Geweld
Mense word daagliks al meer aan geweld blootgestel. Veral tieners kan nie meer onderskeid tref tussen werklikheid en fantasie nie. Geweld word hul werklikheid weens die gewelddadigheid waarmee hulle in aanlyn speletjies en rolprente gekonfronteer word.
Seks
Seks sonder enige verantwoordelikheid – dit is die boodskap wat aan tieners verkondig word. Dit lei tot seksueel oordraagbare siektes, ongewenste swangerskappe, en so meer.
Vetsug
Tieners sit ure voor die TV of hul rekenaars. Swak eetgewoontes wat daarmee gepaardgaan, kan ernstige gesondheidsprobleme tot gevolg
Skoolwerk
Tieners staan te min tyd af aan hul akademiese werk en onderpresteer. Hul leesvaardighede is ook nie op standaard nie.
Gebrek aan privaatheid
Tieners deel baie maklik persoonlike inligting op sosiale media sonder om twee keer te dink. Hulle lees nie die privaatheidsbeleid nie en is onbewus daarvan dat derde partye soos adverteerders en versekeringsmaatskappye hul inligting sonder toestemming kan gebruik.
Misdadigers gebruik jou inligting op sosiale media en weet wanneer jy onder meer met vakansie is.
Sexting (stuur boodskappe van ’n seksuele aard): Wanneer gewaagde foto’s of kommentaar van ’n seksuele aard op sosiale media geplaas word, kan dit lei tot strafregtelike aanklagte of kinderpornografie. Hierdie foto’s en boodskappe word gesteel en dan sonder die persoon se medewete op pornografie-webtuistes geplaas.
Gevaarlike en lewensbedreigende mediese advies en selfdiagnose van gesondheidsprobleme word deur amateurs op sosiale media geplaas.
Gevaarlike en lewensbedreigende mediese advies en selfdiagnose van gesondheidsprobleme word deur amateurs op sosiale media geplaas.
Angs en depressie
Jong mense wat elke dag twee uur of langer sosiale media gebruik, is meer geneig tot angs en depressie:
Hulle voel ander mense geniet die lewe meer wanneer hulle foto’s van vriende sien wat met vakansie is of sosiale geleenthede bywoon (waarby hulle uitgesluit is).Foto’s en kommentare skep onrealistiese verwagtinge en wek gevoelens van mislukking wat lei tot ’n lae selfbeeld.
Hoe meer sosiale platforms gebruik word, hoe groter is die geneigdheid tot angs en depressie.
Verskuif die fokus
Alle volwassenes wat met kinders werk, het ’n verantwoordelikheid om hulle te help met die interpretasie en begrip van die kommentare en foto’s en dit in perspektief te plaas.
Selfbeeld
Niemand is perfek nie. Versterk die kind se innerlike kenmerke eerder as om die wêreld se fokus op uiterlike skoonheid te versterk. Dis onnodig vir enige tiener en volwassene om hom met ander te vergelyk. Almal is uniek en het spesiale eienskappe.
’n Moontlike rede vir mense se obsessie met sosiale media is die behoefte om iewers te “behoort”. Dit plaas hulle onder druk, want om nie uitgesluit te word nie, moet hulle dadelik op boodskappe reageer. Doen hulle dit nie, raak hulle angstig. Die oplossing? Bou vriendskappe met mense met wie jy elke dag te doen kry en wat regtig vir jou omgee.
Ouers
Kinders kan beskerm word teen die gevare van sosiale media, maar net wanneer ouers betrokke is. Reëls en besluite moet verduidelik en nie op kinders afgedwing word nie.
Sê hoekom sekere apps, speletjies en programme verbied word.
Wees bewus van dit waaraan kinders op die TV en internet blootgestel word.
Praat met hulle oor verhoudings met iemand van die teenoorgestelde geslag, lewenskeuses, selfbeeld en seksualiteit.
Leer hulle om die boodskappe van advertensies te verstaan: Wie het die advertensie geplaas? Hoekom? Wat is die motivering daarvoor? Hoe voel jy (kind) oor die boodskap van die advertensie?
Leer hulle die verskil tussen werklikheid en fantasie.
Moenie televisies en videospeletjies in die slaapkamer toelaat nie.
Gebruik die ouerbeheerfunksie indien nodig, soos wanneer albei ouers werk en die kinders alleen tuis is.
Skermtyd, depressie en angs
Tieners wat daagliks vyf uur of meer TV kyk of hul selfone, tablette of rekenaars gebruik, ervaar die klassieke depressiesimptome, is angstig, dink soms aan selfdood en ervaar oor ’n lang tydperk ’n gevoel van hopeloosheid en hartseer. Dis geen uitgemaakte saak dat te veel skermtyd hiervoor verantwoordelik is nie, maar dis die grootste bydraende faktor wat oor tyd heen drasties verander het. (Kenners meen een tot twee uur skermtyd per dag is meer aanvaarbaar.)
Tegnologieverslawing
Verslawing dui daarop dat ’n mens ’n chemiese middel gebruik wat die manier verander waarop jy reageer. Verslaafdes maak staat op die chemiese middel om op ’n sekere vlak te kan funksioneer. Die gedrag van mense wat heeldag op hul rekenaars en selfone besig is, dui nie op verslawing nie: hulle het nie al meer skermtyd nodig om te kan funksioneer nie. Sommige ouers dink hul kinders is “verslaaf” wanneer kinders kwaad word as hulle verplig word om hul selfone, tablette of rekenaars neer te sit, of op meer skermtyd aandring. Daar is baie redes vir hierdie soort gedrag, maar dis nie ’n vorm van verslawing nie.
Bestuur jou skermtyd beter
Hou jou selfoon in ’n ander vertrek wanneer dit inmeng met gesinstyd, huiswerk of enige sosiale interaksie.
Deaktiveer kennisgewings wat jou van nuwe boodskappe in kennis stel, veral wanneer jy nie die selfbeheersing het om die kennisgewings te ignoreer nie.
Verwyder die apps van jou slimfoon wat jy elke nou en dan oopmaak om op die hoogte van sake te bly.
Vra iemand om jou verantwoordelik te hou wanneer jy te veel tyd op sosiale media deurbring.
In die praktyk
Tieners en volwassenes moet hul daaglikse skermtyd beter bestuur. Oormatige skermtyd lei tot allerlei probleme wat onder meer slegte verhoudings, swak selfbeeld en lae produktiwiteit insluit.
Kliek hier vir jou selfdoen-werkbladsye: “Bestuur jou sosiale media”.