Bedtyd

Dit is die tyd wanneer almal se wiele wil-wil afkom. Deur die dag moes ons baie uitdagings die hoof bied, besluite neem en probleme oplos. Ons is vir ure met sensoriese prikkels gebombardeer – aanraking, geluide, reuke, skerp ligte en nog meer – wat ons sintuie en toleransievlak tot die uiterste dryf. Vir ons almal, kinders en ouers, kan die tyd voor slaaptyd uitdagend wees, want ons is uitgeput.

Daar is ’n paar goed wat ons nou in gedagte moet hou.

  • Jy is moeg en dalk oorlaai, oorwerk, oorstuur en net gedaan.
  • Jou kind is moeg en moet nou regmaak om te gaan slaap.
  • ’n Ontwikkelende brein veroorsaak dat sommige kinders bang is vir die donker, sukkel om hulle lyfies af te reguleer ter voorbereiding vir slaap en dit moeilik vind om van hul ouers te skei en in hul eie bed en kamer aan die slaap te raak.

Ons moet egter ook besef dat dit ’n wonderlike tyd is om die konneksie met ons kinders te versterk.

Dit is belangrik dat ons nie nou speletjies speel en aktiwiteite doen wat jou kind se aktiwiteitsvlak opjaag of geselsies aanknoop oor ontstellende gebeure of hoe ons die dalende rand gaan red nie. Die doel van hierdie tyd is om kinders voor te berei vir die nag en om te gaan slaap. Ons kan nie van ’n ontwikkelende brein verwag om net so af te skakel nie. Dit neem tyd en die regte tipe interaksies, omgewing en aktiwiteite sodat jou kind reg kan wees om te gaan slaap.

Fokus daarop om alles stemmig, rustig, sag en stadig te maak. Herinner tog vir Pappa dat sy tyd vir rofstoei, kielie, jaag, boks en resies jaag met karretjies nou verby is. As hy dié tyd van die dag by die huis kom, kan hy steeds tyd saam met die kinders deurbring, maar dit moet stemmig, sag en stadig gebeur. Hy kan dinge doen soos:

  • stories vertel
  • boeke lees
  • stywe drukkies gee
  • rustig dans
  • saam borrels blaas
  • Lego bou of ander konstruksiespeletjies speel
  • help om poppe aan te trek en aan die slaap te sus
  • met huiswerk help of kosblikke help inpak

Slaap is onontbeerlik vir groei, ontwikkeling en funksionering, want belangrike dinge gebeur wanneer ons slaap.

  1. Nuwe netwerke of senuweetakke word in die brein vasgelê terwyl ons slaap. Die chemiese stof (neurotrofien) wat vir breingesondheid verantwoordelik is, word vrygestel slegs as ons slaap.
  2. ’n Ander chemiese stof (kalpaïen) se taak is om die breinselle wat oud is en nie gebruik word nie, te laat afsterf. Dit word ook afgeskei as ons slaap. Die ongebruikte breinselle word dus vernietig wanneer ons slaap.

Ons moet goed slaap sodat ons brein kan vorm, herstel en gesond bly. Tydens slaap word dit wat ons deur die dag geleer het, in die brein vasgelê, met ander woorde die brein vorm nuwe netwerke. Wanneer ons iets leer, word proteïenmerkers neergelê. Hierdie merkers se lewensduur is 18 uur. Wanneer ons slaap, word die proteïenmerkers gebruik om nuwe netwerke te vorm. Daarom is dit van die uiterste belang dat ons en ons kinders ’n goeie nagrus moet kry. Kinders wat nie slaap nie, vorm nie nuwe netwerke nie. Dit wat hulle deur die loop van die dag geleer het, word nie vasgelê nie. Navorsing by die Universiteit van Kalifornië het bevind dat die hippokampus – die deel van die brein wat vir die vaslê en herroeping van inligting (geheue) verantwoordelik is – na vyf uur eintlik weer ’n slapie nodig het om te herlaai. Middagslapies is die antwoord.

Dit het ’n uitwerking op die fisiese, emosionele en kognitiewe funksionering en ontwikkeling van die kind as hy/sy nie genoeg slaap nie. Navorsing het bevind dat regoor die wêreld ons gemiddeld ’n uur minder slaap as 30 jaar gelede. Chroniese slegte nagrus lei tot:

  • vetsug
  • moegheid
  • gebrek aan konsentrasie
  • frustrasie
  • impulsiwiteit
  • buierigheid