Aktiwiteit vir speeltyd: Rowwe spel

Of jy nou met ’n matras by die trappe afgly, ’n kussinggeveg hou, stoei op die mat, afspring van die bed af en in ’n hoop kussings induik of deur jou pa in die lug opgegooi word – hierdie speletjies het ’n paar goed gemeen.

  • Dit is spontaan en het min reëls – ons kan kreatief en oorspronklik raak en allerhande lawwe goed aanvang.
  • Dit is fisies – daarom kan jy dit nie sommer met jou spykerhakskoene en snyerspak doen nie.
  • Dit bevorder ons en ons kinders se fiksheid sowel as motoriese vaardighede, soos balans en koördinasie.
  • Dit is interaktief – dit bou ’n sterk band en verhoudings binne die gesin.
  • Dit verlaag spanning – omdat ons lekker lag en die voelgoedhormone vrygestel word.

Hierdie tipe speletjies is rof sonder om gevaarlik te wees.

Hoekom rof speel?

Die idee van rowwe spel is om weerstand te bied, fisies en emosioneel. Fisiese weerstand bied proprioseptiewe en tas- en bewegingstimulasie, wat fantasties is vir ontwikkeling en regulering. Op ’n emosionele vlak bied stoeispeletjies kinders die geleentheid om aan groot emosies uiting te gee, soos woede, angs, frustrasie, kommer, mislukking en ekstase.

Boodskappe wat jy vir jou kind gee  as jy lekker rof met hom speel

  • Ek hou daarvan om met jou te speel en pret saam met jou te hê.
  • Ek kan sterk en sagkens speel.
  • Ons maak beurte – soms wen ek, soms wen jy – en dis reg so.
  • Ons maak mekaar nooit met opset seer nie.
  • Ons gaan ons bes probeer om nie seer te kry nie, maar soms kan jy per ongeluk seerkry. Dan is ek daar om jou te troos.
  • Ek sal jou help om kalm te word as ons klaar gespeel het.

Party ouers verbied rowwe spel, want hulle is bang die aggressiewe gedrag wat by kinders kop uitsteek, gaan vererger. Dit is tog so jammer, want indien dit reg gedoen word, is dit waarskynlik juis dié tipe spel wat die meeste terapeutiese waarde vir kinders en grootmense inhou. Diere, soogdiere of nie, speel dikwels rof. Dit word gesien as ’n manier om hulle sekere vaardighede te leer. Navorsing het bewys dat kinders wat dikwels rof speel, fisies, sosiaal en emosioneel beter ontwikkel en vaardiger is as kinders wat nie so speel nie.

Rowwe spel  – saam met pappa of mamma – aktiveer groot gedeeltes van jou kind se liggaam en brein,

insluitend die neurologiese bane vir motoriese koördinasie en beplanning, probleemoplossing en emosionele binding.

Indien jy nog nie oortuig is dat jy doelgerig moet wees om rowwe spel deel te maak van julle daaglikse (goed, ten minste weeklikse) roetine nie, dink gerus aan hierdie voordele.

Rowwe spel maak kinders slim

Wanneer kinders rof speel, aktiveer dit die afskeiding van ’n chemiese stof in die brein (brain-derived neurotrophic factor, BDNF), wat op sy beurt weer die groei van breinselle stimuleer. Dit maak die brein meer aanpasbaar, meer kreatief en gereed om te leer. Dit ontwikkel veerkragtigheid (resilience) en deursettingsvermoë (grit) – eienskappe wat ons wil koester.

Rowwe spel is goed vir kinders se fisiese ontwikkeling

Spiertonus, postuurbeheer, bilaterale integrasie, middellynkruising, motoriese beplanning, opeenvolging, koördinasie, spierkrag, fiksheid en soepelheid sal ontwikkel.

Rowwe spel bevorder selfregulering

Jou kind leer hoe om sy lyfie te reguleer, hoe om meer aktief te word en hoe om te kalmeer. Kom ons veronderstel dat jou kind se lyfie soos die enjin van ’n kar is. Soms moet die enjin aangeskakel

word en vinnig loop (ons praat van enjins wat op reguleer). Ander kere moet die enjin weer af reguleer en stadiger loop. So is dit soms in sekere omstandighede oukei om opgewonde te wees en rond te hardloop en hard te praat, maar ander kere moet ons daardie lyfies van ons af reguleer en rustiger praat, stadiger beweeg of selfs stil sit en luister.

Rowwe spel oefen emosionele regulering

Net soos ons kinders moet leer om hulle lyfies te reguleer, moet hulle ook leer hoe om hulle emosies te reguleer. Tydens rowwe spel bly ons kalm en verwelkom ons die kind se emosies (of dit nou woede of frustrasie is). Die omgewing wat ons skep, die manier waarop ons hulle en die spel benader sowel as die rowwe spel self dien as ’n houer vir die kind se groot emosies wat hulle soms kan oorweldig. Kinders kan deur rowwe spel leer dat daar ’n verskil is tussen speel-speel aggressie en werklike aggressie.

Rowwe spel skep geleentheid vir sosiale ontwikkeling

Rowwe spel werk nie lekker as een heeltyd wen, sterker of beter is nie. Somtyds jaag Pappa my, somtyds jaag ek vir Pappa, somtyds is Pappa die sterkste, somtyds pen ek hom vas op die bed en is ek die sterkste. Suksesvolle rowwe spel is amper soos ’n dans tussen ouer en kind. Dit gaan oor ’n vertrouensverhouding waar ons saam werk, beurte maak, regverdig speel en pret het.

Rowwe spel maak kinders gelukkig, ontwikkel hulle selfvertroue en bou ’n sterk band tussen jou en jou kind.

Kliek hier vir ekstra inligting oor: “Rowwe spel”.