1. Beplan en skep ’n omgewing vir sukses
As daar niks in jou huis is wat jou sal verlei of in die versoeking stel nie, sal jy net soveel makliker by jou eetplan hou. Gee dus alle ongesonde kosse en lekkernye wat hoog in vet en suiker is weg. Kyk na ons inkopielys en maak seker jy koop solank die regte kosse aan.
2. Raak georganiseerd
Pak jou yskas uit en organiseer jou kruidenierswarekas. Só sal jy presies weet wat jy het en wat jy moet koop. Dit maak dit ook makliker om smaaklike etes voor te berei as jy weet waar alles is. Jou speseryrak is veral belangrik, want wanneer jy kruie en speserye op ’n kreatiewe manier gebruik, sal jou etes supersmaaklik wees.
3. Berei jou voor vir ’n nuwe leefstyl
Die 60 dae-uitdaging is jou wegspringblok vir ’n gesonder leefstyl. Moenie dit sien as ’n “tydelike dieet” net om gewig te verloor nie. Gebruik die riglyne en eetpatroon wat jy aanleer om jou nuwe leefstyl te vestig en betrek sommer jou gesin ook daarby. Maak seker jy ontwikkel gesonde roetines en gewoontes waarmee jy vir altyd kan volhou.
4. Kry jou kop reg en wees realisties
Nee, hierdie is nie ’n kitsdieet nie, en jy gaan nie 5 kg elke week verloor nie. Wees realisties oor jou vordering. Goeie standhoudende gewigsverlies is 0.5 kg tot 1.0 kg per week. Moet jouself nie elke dag weeg nie – een keer per week is genoeg. Maar, let ook op hoe jou klere sit. Selfs geringe gewigsverlies het ’n positiewe effek op jou bloeddruk, bloedsuiker en cholesterol.
5. Beloon jouself, wanneer jy goed doen
Om gemotiveerd te bly kan jy jouself beloon wanneer jy mini-doelwitte bereik. As jy byvoorbeeld 3 kilogram verloor het of vyf keer in ’n week geoefen het, verdien jy ’n klop op die skouer! Dink solank aan bederfies wat nie kos insluit nie, soos ’n lekker lang skuimbad, ’n voetmassering of ’n nuwe paar oorbelle.
6. Moenie te hard op jouself wees nie
Aan die ander kant, moet jy ook nie te hard op jouself wees as jy van die wa afval nie – dit gebeur met ons almal. Verwag dat jy dalk ’n slegte dag sal hê, en wanneer dit gebeur, tel net jou kop op en kom dadelik weer op koers. Die belangrikste is om nie moed op te gee nie. Aanhouer wen!
7. Kry ’n buddy wat dit saam met jou doen
Die Engelsman praat van ’n accountability partner. Iemand wat saam met jou die pad stap en wat saam met jou huil op jou af-dae en wat saam met jou fees vier wanneer jy suksesvol is. Dit kan jou beste vriendin, sussie of niggie wees, maar dit kan ook iemand op ons Facebookgroep wees. Reik uit!
8. Neem tyd om asem te skep
Hoe jy jou dag begin maak so ’n groot verskil aan hoe vervuld en suksesvol jy gaan wees. Stel jou wekker ’n halfuur vroeër sodat jy kwaliteit-tyd kan spandeer om stil te word en God se stem te hoor. Gebruik ’n Bybeldagstukkieboek of kies om een van die boeke in die Bybel deur te lees.
9. Eindig sterk
Voordat jy aan die einde van die dag op die bank neerplons, skink vir jouself ’n glas koue water met ys en suurlemoen, en gaan stap in die tuin. Óf beter nog, trek jou tekkies aan en gaan stap saam met jou hond of jou buurvrou om die blok. Jy moet minstens 10 000 treë per dag stap – maak dit ’n doelwit en ’n goeie gewoonte.
10. Net jy kan!
Jou gesondheid en jou welstand is in jou hande. Niemand kan vir jou kies of namens jou leef nie. God het vir jou een liggaam gegee. Pas dit op! Wees lief vir jou lyf! Leef gesond! Want, as hierdie lyf van jou nie meer werk nie, het jy nêrens anders om heen te gaan nie.
Word deel van die geslote Facebook-groep en skakel weekliks op ’n Donderdag in vir inspirerende Facebook Live-sessies aangebied deur kenners!
Kliek hier en beantwoord die vraag om deel te word: https://www.facebook.com/groups/60daeuitdaging
(Indien jy nie seker is wat jou bestelnommer is nie, vul asseblief die e-pos in waarmee jy die bestelling geplaas het).