Soggens voor almal by die huis uit hardloop en in verskillende rigtings skiet, is die ideale tyd om verhoudings te bou en die band tussen julle sterker te maak. Maar ons almal weet hoe spanningsvol oggende in ons huise kan raak. Hou die volgende in gedagteDaar is ’n paar goed wat ons in gedagte moet hou wanneer dit kom by ons oggendroetine.
Kinders voel veilig wanneer dinge voorspelbaar is; daarom hou ’n oggendroetine wat konsekwent en gestruktureerd is, baie voordele vir julle in. Uitdagende gedrag sal verminder, jou verhouding met jou kind sal verbeter en die chaos in die oggend sal iets van die verlede word.
Doen soveel as moontlik die aand voor die tyd. Ek weet dit is moeilik, want saans is ons uitgeput en sien ons nie eintlik meer kans vir besluite neem nie. Maar ek verseker jou – hoe meer jy die aand vantevore doen, hoe makliker sal jou oggend wees. En laat jou kinders jou help!
Wenke om jou oggend seepglad te laat verloop
Besluit op ’n roetine wat vir julle gesin werk en waarby julle doelgerig en konsekwent kan hou. Besluit wanneer julle wat gaan doen. Vir kleiner kinders is dit nie nodig om ’n tyd aan ’n aktiwiteit te koppel nie. Ouer kinders sal daarby baat vind om te weet hoe laat hulle moet opstaan, eet, aangetrek moet wees en wanneer hulle tasse in die kar gelaai moet wees.
Maak ’n lys, gebruik prentjies of foto’s en plak dit iewers op. Maak dit pret – gebruik ’n wasgoedpennetjie wat jy aan die kant van die papier vassit om aan te dui wat jou kind volgende moet doen. Sodra hy klaar is, kan hy dan self die wasgoedpennetjie na die volgende taak skuif.
Hou afleidings so min as moontlik. Moenie in die strik trap om die televisie of die iPad aan te sit nie. As jou kinders met die oggendtakies klaar is, kan hulle Lego speel, buite op die trampolien gaan spring of die sokkerbal gaan skop.
Maak grappies en wees ’n bietjie laf. Dit sal spanning verlig en goedvoelhormone vrystel, wat nog vir ’n paar uur in jou kind se sisteem sal bly. Doen iets wat jou kind geniet en waartydens julle oomblikke van oogkontak het. Of speel ’n speletjie wat ’n duidelike begin en einde het, sodat die kind weet julle is saam totdat die aktiwiteit klaar is.
Die kosbaarste aktiwiteit: kweek dankbaarheid vir meer geluk
In die Bybel staan daar op talle plekke dat ons dankbaar moet wees. Wanneer ons dankbaar is, dink ons gewoonlik aan die hede. Ons hou ons oë op dit wat nou om ons aan die gang is en kyk minder na die toekoms om te wonder of angstig te raak oor dit wat kom.
Studies oor kinders van 11 tot 13 jaar oud wat dankbaarheidsgewoontes ontwikkel het en wat vergelyk is met hulle maats wat minder dankbaar is, het getoon hulle is gelukkiger, het meer maats, is meer optimisties, en meer tevrede met hulle skool, familie, gemeenskap en hulself. Hulle verleen ook meer geredelik hulp aan ander.
Dankbare tieners (14 tot 19 jaar) gebruik hul gawes tot voordeel van die gemeenskap, is meer betrokke en gemotiveerd met hul skoolwerk, doen akademies beter en is minder materialisties.
Daar is wetenskaplik bewys dat dankbaarheid ’n mens se geestes- en algemene gesondheid verbeter. En nie net dit nie – dankbaarheid versterk verhoudings en gemeenskappe.
Ek het in my stiltetyd ’n joernaal begin hou. Ek het doelgerig my denke vernuwe en ek het my kinders aangemoedig om telling saam met my te hou. Saam sou ons vinnig by 1 000 dinge kom waarvoor ons dankbaar was. Partykeer was ons laf en partykeer was ons ernstig.
Soggens by die ontbyttafel het ek die boek uitgehaal en alles neergeskryf waaraan ons daardie dag kon dink waarvoor ons dankbaar was – van kraanwater en stoele om op te sit, tot ’n warm huis en Jesus se kruisdood. Daar was geen reëls nie.
Dis merkwaardig watter verskil hierdie gewoonte aan ’n mens maak. In my huis het dit nie net my denke, my gemoed en my siel verander nie, dit het ook die kinders s’n verander. Skielik was daar minder meltdowns, minder teëpratery, minder skermutselings en meer glimlagte en drukkies en beter verhoudings.
Wanneer jy dankbaarheidsgewoontes aanleer, verander jou brein
Die beloningsisteem in jou brein word geaktiveer (dis lekker om dankbaar te voel) en dit reguleer die stresrespons (die streshormoon kortisol word onderdruk).
Breinwetenskaplikes bewys verder dat daar ’n verskil is in die brein van ’n mens wat dankbaarheidsgewoontes het in teenstelling met dié wat dit nie het nie. Die areas in die brein wat met besluitneming en leer geassosieer word, is meer sensitief in mense wat dankbaarheid deel maak van hulle dag.
Dit beteken dat dankbaarheidsgevoelens en denke later vanself kom en dat dié mense se welstand dienooreenkomstig verbeter … Sien, dankbaarheid is ’n gewoonte is wat jy in jou huis móét kweek! Soos met enige gewoonte wat aangeleer word, is dit die beste as jy dit doelgerig en gereeld doen:
Vertel hulle waarvoor jy dankie sê, noem wanneer julle saam is dat iets lekker is saam met hulle en wys vir hulle jou dankbaarheidsjoernaal.
As die kinders klein is, kan ons vir hulle vra: “Wat was die lekkerste ding wat jy vandag gedoen het?” Deur hierdie vraag te moet beantwoord, sal jou kleuter ’n verband begin sien tussen dit wat lekker is en waarvoor hulle dankbaar kan wees. Dit begin ’n gesprek wat later ’n instelling of gewoonte kan word.
Gebruik ontbyt om te gesels oor dinge waarvoor ons dankbaar is. Die gebed om die tafel – die dankie vir die kos wat ons het en die samesyn – kan spontaan verder gevat word.
Hou ’n “kla-vrye” dag.
Help jou kind om sy passie, sy sterk, unieke eienskappe te ontdek en dit aan te wend om ander te help. Dalk is jou kind ’n regte klein entrepreneur – moedig haar aan om koekies te bak en dit te verkoop en ’n gemeenskapsprojek te kies waarby sy betrokke wil raak en ’n donasie wil maak.