TEMA 4 – Wie beheer lewe en dood?

Ek is die mening toegedaan dat baie mense hulle eie streep trek; dat hulle voortydig, vóór God se tyd vir hulle, te sterwe kom. Aan die ander kant blyk dit dat ’n mens ook iets kan doen om jou lewensjare te verleng.

Om God se “optimale” lewensjare in my lewe te bereik, is dit ten minste nodig dat ek ’n lewenstyl sal handhaaf wat die beginsels en riglyne van sy Woord navolg.

 Die omgekeerde is ook waar: ons kan lewe verkort

 ’n Mens kan self die Godbedoelde lewensjare verkort. Dit is feitlik onafwendbaar as ek my liggaam nie as tempel van die Here respekteer en behandel nie.

Indien ek hierdie beginsel verontagsaam, kan ek my lewe verkort deur onverskillig en roekeloos te lewe, deur ongesonde eetgewoontes en deur die oormatige gebruik van alkohol. Dit is ook ’n welbekende feit dat dwelmgebruikers as ’n reël nie oud word nie. Daar is min dinge wat ’n mens se lewe so verkort as die rookgewoonte.

Eintlik hou enige minagting van Bybelse waardes vir jou onheil in – ook op die terrein van die liggaamlike. ’n Sondige lewenstyl eis sy tol.

Hierby kom geestelike en emosionele faktore wat ons lewe verder kan verkort. Onheilige en negatiewe emosies soos haat, onvergewensgesindheid, bitterheid, vrees en ongesonde stres het ook ’n effek op ’n mens se gesondheid en uiteindelik op jou lewenskwaliteit en lewensduur.

As mense net hulle verhoudinge met hulle medemens gesond kan kry, sal baie veel gesonder en langer lewens hê.

So gesien, trek baie mense hulle eie streep. Dit kan iets so radikaal wees as dat ’n persoon sy hand aan sy eie lewe slaan. Dit kan wees dat hy of sy onder die invloed van drank agter ’n motor se stuur klim en verongeluk. Dit kan wees deur ’n onverantwoordelike lewenstyl.

Kan God enigsins ter sprake wees of geblameer word by so ’n persoon se graf?

 As ander jou dood veroorsaak of jou streep trek

Wanneer ’n mens praat van mense wat hulle eie “streep” getrek het, moet ons ook dink aan die ontelbare menigtes wie se “streep” deur ander mense getrek word. Dink maar net aan die volgende moontlikhede:

  • Ongebore babas: ’n Moeder wat rook terwyl sy swanger is en die ongebore baba as ’t ware dwing om die gifstowwe saam met die bloed deur die naelstring in te neem.

Dieselfde realiteite geld ook waar die moeder alkohol en dwelms tydens swangerskap gebruik het. Die gevolge is meestal net nog erger.

Dink aan ’n man wat ontrou is in sy huwelik, die MIV-virus opdoen, dit aan sy vrou oordra wat weer op haar beurt die virus aan haar ongebore baba oordra.

Wat van aborsie? Elke jaar vind daar ongeveer 90 000 wettige aborsies in Suid-Afrika en miljoene wêreldwyd plaas.

  • Padongelukke: ’n Persoon gebruik oormatige alkohol en klim agter die stuur van sy motor in. Hy is die oorsaak van ’n ongeluk waarin onskuldiges dood is. Moet God daarvoor blameer word?

Gemiddeld 15 000 mense per jaar sterf op ons paaie. Dit word in die meeste gevalle veroorsaak deur iemand se onverskilligheid, onverantwoordelikheid of weens alkohol. Hoe kan ons God in die beskuldigdebank plaas vir gebrokenheid, smart en dood wat die gevolg is van mense se eie onverantwoordelikheid, dwaasheid en boosheid?

  • Oorloë, misdaad en rampe: Dink maar aan die miljoene onskuldiges wat deur die eeue in oorloë dood is. Verder kan ’n mens dink aan mense wat onskuldige slagoffers van moordenaars is – moet God die skuld daarvoor kry?

Die mensdom is te midde van sy tegnologiese vooruitgang besig om die fyn ekologiese balans wat God in sy skepping gestel het, te versteur. Dit bring toenemende natuurfratse en katastrofes mee wat dikwels talle lewens eis. Kan dit regtig voor God se deur gelê word?

So kan daar aan honderde voorbeelde gedink word waar mense voortydig gesterf het weens ander se sonde, onverantwoordelikheid of boosheid. Maar tog kry God dikwels die skuld daarvoor.

Dit skreeu ten hemele as God in die beskuldigdebank geplaas word wanneer mense gesterf het, terwyl dit eintlik die direkte of indirekte gevolg van menslike besluite, optrede en boosheid is.

 ’n Mens moet ten slotte in ag neem dat sommige mense voortydig sterf, nie omdat hulle gesondig het of sleg was nie, maar juis omdat hulle goed was en gedoen het wat reg was. ’n Mens kan dink aan die martelare wat deur die eeue wat gesterf het ter wille van hulle geloof en belydenis oor Jesus.

’n Mens dink ook met deernis aan diegene soos reddingswerkers en polisiemanne wat gesterf het in die gehoorsame uitvoering van hulle pligte.

Is God in beheer van alle lewe en dood?

As die Almagtige en Skepper, het God wel mag oor lewe en dood. Baie van ons dink dat dit die duiwel is wat mense in die hel werp. Dit is nie die geval nie. Satan kan slegs die liggaam doodmaak. God is die Een wat mag het om mense in die hel te werp – natuurlik dié wat Hom verwerp het.

Daar is letterlik dosyne tekste in die Ou Testament wat verwys na die een of ander oordeel van God oor sy volk waardeur talle gesterf het. Wanneer ’n mens die boek Openbaring lees, word dit ook duidelik dat daar tydens die eindtydgebeure groot plae en oordele van God oor die mensdom sal kom waartydens groot getalle sal sterf.

Inderdaad kan God doodmaak, maar dit is gewoonlik as deel van sy oordeel oor mense wat Hom ongehoorsaam was en wat sy genade en liefde verag het. Ons moet duidelik verstaan dat dit God se wil en begeerte is om sondaars te red, nie om hulle dood te maak nie.

Om God dus aanspreeklik te maak of te hou vir die dood van onskuldige mense en veral kindertjies, bring ’n mens by ’n teologiese posisionering wat hierdie outeur nie in staat is om te verklaar, te verdedig of te regverdig nie.

Ons moet ook waak en versigtig wees om veral mense wat ’n kind deur die dood verloor het, te probeer troos deur iets te sê soos: “God het vir Hom die mooiste blom hier kom pluk vir sy blomtuin in die hemel.”

God mag ’n tuin in die hemel hê, maar dit bestaan nie uit onskuldige kindertjies wat voortydig van hulle ouers af weggeruk word nie. Alhoewel dit goed bedoel mag wees, is dit onverantwoordelike, vlak en goedkoop troos.

 Ook gelowiges kry swaar en word doodgemaak

Maar is God dan nie almagtig nie en kan Hy nie verhinder dat onskuldiges sterf nie? Sekerlik is daar gevalle waar God ’n ramp, ’n ongeluk en die dood van sy kinders afgeweer het. Tog is daar ander gevalle waar ons kan vra waarom die Here nié ingegryp het nie.

Ja, God is almagtig, maar Hy is nie die enigste bepalende faktor in hierdie wêreld nie. Daar is ander wesens in hierdie wêreld – Satan, sy demone en die mens self, wat besluite kan neem teenstrydig met die goeie en volmaakte wil van God.

Ongelukkig het hulle die mag om God se liefdevolle wil in mense se lewe te dwarsboom. Die feit is dat God se volmaakte wil dikwels hier op aarde nie geskied nie!

Die dood beteken egter nié dat die Here nie meer in beheer is nie. Ons moet onthou dat die dood van sy kind in God se “groter prentjie” nie ’n nederlaag of die einde beteken nie, maar net die deurgaan na die eintlike, ewige, groter lewe in volmaaktheid saam met Hom.

Inderdaad is die dood die enigste poort waardeur ’n mens na die hemel en na God kan gaan – totdat die Wederkoms plaasvind.

Op die vraag “Wie maak dood en wie bepaal ’n mens se sterfdatum”, wil ek dus opsommend sê: Met die begrip en lig tot my beskikking, kan ek nié sê dat God vir elke mens sy of haar streep getrek het nie.

In sy alwetendheid weet God wel reeds voor ons geboorte wanneer ons gaan sterwe. In sy liefde gun Hy elkeen van sy skepsele ’n vol lewe. Ons lewe egter nie meer in die paradys nie en ons is ook nog nie in die hemel nie.

Ons is deel van ’n wêreld wat deur Satan en sonde stukkend en gebroke is. Mense kán hulle eie streep trek. Mense kan ander mense se streep trek. Mense kan teen God se wil handel. God sal nie mense se reg tot persoonlike keuses ophef nie – al is dit verkeerd en teen sy wil.

 Die groter werklikheid wat ons voor oë moet hou

Die misterie is dat mense doodgaan, dikwels voortydig. Die misterie is ook dat God dit nie (altyd) verhinder nie. Dit beteken egter nie dat God magteloos staan by die dood – veral wat sy kinders betref – nie. Hy het die mag om die dood op te hef.

Vir die kind van God is daar egter die groter werklikheid: Die dood van die liggaam is nie die einde nie, dis net die deurgang tot die ewige lewe saam met God.

Ons kan daaraan vashou dat God, ten spyte van onbeantwoorde vrae, oor die dood heers en dat sy kinders daarom nie bang hoef te wees vir die dood nie. Intussen, terwyl ons nog hier op aarde is, moet ons opnuut besef dat die lewe kosbaar, maar tog tydelik en kortstondig is.

Ons het net één liggaam gekry om in te leef. Die wysste ding is om onsself geheel en al, liggaam, siel en gees aan God se liefdevolle sorg toe te vertrou. Daarom moet ons onsself oppas en versigtig wees hóé ons lewe. Dis onverantwoordelik om onverskillig om te gaan met ons lewe en ons gesondheid.

JOERNAAL

Het jy al mooi nagedink oor dit wat jy vir mense sê om hulle te troos wanneer hulle treur oor die dood van ʼn geliefde? Is jy bereid om te leer hoe om mense prakties en met woorde by te staan? Bid jy gereeld hieroor en verstaan jy hoe veilig God se kinders is in sy beheer oor lewe en dood? Is daar iets in jou leefstyl wat moet verander sodat jy jou liggaam beter kan oppas?