TEMA 29 – Wat jy hierná sien en beleef

Direk nadat Jesus self die briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië aan Johannes gedikteer het (hoofstukke 2 en 3), sien Johannes die hemel: Hierna het ek, Johannes, in die hemel ’n deur gesien wat oopgemaak is … (Open. 4:1a). Die 1953-vertaling sê: Na hierdie dinge het ek gesien – kyk, ’n geopende deur in die hemel …

’n Oopgemaakte deur was die eerste waarneming wat Johannes van die hemel gemaak het. Ons eerste ervaring van die hemel gaan ’n geopende deur wees.

Ons moet kennis neem dat die hemel ’n deur het. Die Skrif sê nie die “hemel het ’n opening” nie. Daar kan nie sommer op enige plek of manier daar ingegaan word nie. Toegang na die hemel is gekontroleerd. Daar is ’n deur wat oopgemaak is.

Dis ook die betekenis in die grondtaal. Dit beteken dat die deur toegemaak kan word. Wanneer ’n plek eksklusief is en wanneer die moontlikheid daar is dat ongewenste mense by ’n oop deur kan inkom, hou jy die deur toe. Jy maak dit slegs oop wanneer hulle wat genooi is, opdaag.

Wanneer Johannes deur die Gees meegevoer word vir ’n voorskou van die hemel, sien hy dat die deur na die hemel vir hom oopgemaak is. Mag ek en jy binne vyf minute na ons dood ook by ’n geopende deur kom!

Toegang tot die hemel moet vooraf verkry word

As ek hierdie beeld en beeldspraak ’n bietjie verder kan neem, word dit vir my uit die Skrif duidelik dat die reg tot toegang deur hierdie deur vóór die tyd verkry en verseker moet word.

Luister na die gelykenis wat Jesus vertel van sekere mense wat na die dood voor ’n toe deur te staan gekom het. In Lukas 13:25b-28 vergelyk Jesus hierdie “aankoms” met mense wat by die groot Huiseienaar se huis aankom en die deur gesluit vind:

 “Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie. As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’

 Maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’ Dan sal julle sê: ‘Ons het saam met u geëet en gedrink, en op ons strate het u die mense geleer.’ Maar Hy sal weer vir julle sê: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie. Maak dat julle van My af wegkom!’”

Die hemel is een van die plekke – trouens dié plek – waar jy nie “kaartjies by die deur” kan koop soos by ’n sportgeleentheid of ander kunsuitstalling nie. Die hemel is die mees eksklusiewe plek wat daar is.

Duskant die dood is die hemel die mees toeganklike plek wat daar is – almal is genooi. Ná die dood word die deur egter net oopgemaak as die Groot Eienaar van “die huis” jou ken. Is die hemel se deur oop vir jou?

Deur te glo kan ons ingaan in die hemel

In die Godsdienswetenskap en in die moderne, liberale teologie is daar ’n sterk “Nuwe Era” (New Age) sentiment. Hiervolgens lei alle godsdienstige paaie uiteindelik na die hemel.

Die voorstanders hiervan sê dat ons nie te eksklusief oor die hemel moet wees nie. Trouens, eksklusiwiteit in hierdie verband word summier met godsdienstige fundamentalisme en selfs fanatisme in verband gebring.

Tog was Jesus self hieroor baie duidelik. Hy noem Homself die deur (Joh.10:9) en die weg (Joh.14:6). Hy stel hierdie uniekheid en eksklusiwiteit ook onomwonde: “… niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (v. 6c).

Ja, jy het ’n “paspoort”, ’n “visum” nodig om eendag by die poort van die hemel in te gaan. Noem dit maar jou “toegangskaartjie”. Jesus het dit self eenkeer mooi aan Nikodemus verduidelik: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3b).

Enige aardse beeld om die toegang tot die hemel uit te beeld, is onvolmaak. Maar die feit bly staan dat toegang tot die hemel voorwaardelik is.

Die wonderlike wete is dat die bevoorregtes wat wel kwalifiseer, nie kwalifiseer op grond van hulle adellike afkoms, geleerdheid, rykdom, prestasie of etniese oriëntasie nie. Hulle kwalifiseer omdat hulle Jesus Christus, wat as Lam van God die gevolge en straf vir ons sonde op Hom geneem het deur aan die kruis te sterf, as Verlosser en Redder aanvaar het.

Terwyl ons ’n “toegangskaartjie” vir die hemel nodig het, het ons nie nodig om self daarvoor te betaal nie. Trouens, ons kán nie daarvoor betaal nie. Dank die Here, dit is klaar betaal! Petrus sê vir ons dit is betaal deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos … (1 Pet.1:19).

 Dít is genade. En dit is hoe ons die geopende deur in die hemel moet verstaan. Die feit dat die deur nie onvoorwaardelik oopstaan nie, beteken nie dat sommige mense by voorbaat verwerp en ander uitverkies is nie. Dit beteken ook nie dat enige mens op grond van sekere menslike kwalifikasies of voortreflikhede voorgetrek word nie. Nee! Almal is genooi.

Daar is “toegangskaartjies” vir almal en dis ten volle betaal. Ongelukkig verkies die meeste mense om nie hierdie wonderlike aanbod van God na die mees gesogte bestemming te aanvaar nie. Hulle kom haal nooit hulle toegangskaartjies af nie.

Die verwyt oor die verwerping van hierdie grootste geleentheid van ’n leeftyd sal die ewige foltering van diesulkes vertienvoudig.

Die feit dat Johannes ’n oopgemaakte deur gesien het, beteken dat toegangskaartjies nou nog beskikbaar is. Duskant die Wederkoms en solank ’n mens nog lewe, kan jy steeds hierdie kaartjie bekom. Is jou paspoort, jou visum gereed? Het jy ’n kaartjie?

Johannes sien ook in die hemel ’n troon

Deur die Gees meegevoer, het Johannes nou die voorreg om vlugtig te sien wat ek en jy ook sal sien. Ons sal ook vir ewig hiervan deel wees wanneer ons eendag (dalk nie meer so ver in die toekoms nie) by die geopende deur sal ingaan. Wat het hy gesien? Wat gaan ons sien? Wat sou ons graag wou sien?

Daar is geen oomblik se onduidelikheid en onsekerheid nie. Johannes sien ’n troon! Hy is in die troonsaal! Waarom ’n troon? Waarvan spreek ’n troon? ’n Troon spreek van ’n koning, majesteit, heerskappy, gesag, heerlikheid.

Tydens ons lewe op aarde kom die heerskappy van God op aarde so dikwels in gedrang. So dikwels laat die negatiewe omstandighede van die lewe ons vergeet dat God steeds die ewige Koning is wat regeer.

Ons word gekonfronteer deur ongeloof, ongelowiges, met die gebrokenheid, hartseer en smart van die lewe, spotters en sinici. Ons het te maak met pyn en ellende, met die dood van geliefdes, onskuldiges. En so dikwels het ons nie verklarings en antwoorde nie.

Die heerskappy van God is dikwels vir ons ’n stukkie geloofsbelydenis wat vaagweg soos bergpieke tussen die miswolke van ons onvolmaakte wêreld uitsteek. Binne die eerste vyf minute in die hemel sal die heerskappy van God in al sy salige versekering en gemoedsrus en in al sy heerlikheid ons omvou.

Ons sal die troon sien. Die enigste troon wat van ewigheid af en vir ewig bestaan, wat net één Koning ken.

Ons sal die troonkamer sien – die fokus en middelpunt van die sienlike en onsienlike wêreld. Voordat die mens, die skepping, die engele daar was, was hierdie troon reeds daar. Alles het vandaar en daaruit ontstaan.

Wetenskaplikes word reeds jare lank gedryf deur die vraag: Hóé en wáár het alles begin? Hier lê die antwoord! Ondubbelsinnig: Die troon – dis die plek …

  • waar alles begin het en waar alles voleindig sal word.
  • waar die eerste woord gespreek is en waar die laaste woord gespreek sal word.
  • waar die ewige raadsbesluite van God geneem is.
  • waar die skepping sy oorsprong het.
  • waar alles wat goed en rein en mooi en edel is, ontspring het.
  • waar geskiedenis ontstaan het.
  • waar Genesis 1:26b gespreek is: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis …”
  • waar die ewige reddingsplan vir ’n verlore mensdom sy oorsprong het.

Wat ’n onbeskryflike ervaring sal dit wees om na ’n leeftyd van veranderinge, onsekerhede, twyfel en verwarring in die setel van heerskappy en gesag te staan.

Op die hemelse troon sit daar Iemand

Die paleise en kastele van baie konings en koninkryke uit die verlede is steeds na baie eeue in verskillende antieke dele van die wêreld te sien – veral in Europa en die Ooste. Baie hiervan kan steeds besoek word. Gewoonlik neem die gids jou ook na die troonkamer.

Dis gewoonlik die mees indrukwekkende van al die vertrekke, die een wat die ryklikste versier is. Daar word die majesteit en prag van die koning of vors uitgebeeld. Daar het hy gesit wanneer hy besoekers ontvang het. Daar het hy sy wette uitgevaardig en sy oordele uitgespreek.

Feitlik al hierdie mildadig-versierde troonkamers uit die verlede met hulle imposante, vergulde trone, het nie meer ’n heerser in nie. Daar is niemand wat meer op die trone sit nie. Hulle koninkryke het gekom en gegaan. Dit is vandag net museums.

Die troon wat Johannes egter gesien het en wat ek en jy gaan sien, is nie vakant nie. Johannes sê: “… en op die troon sit daar Iemand” (Open. 4:2). Ons weet by voorbaat Wié dit is. Daar was nog nooit onsekerheid oor nie.

Hy is nie demokraties tot heerser verkies nie. Hy het ook nie deur ’n staatsgreep aan bewind gekom nie. Geen staatsgreep sal ooit sy heerskappy in gedrang bring nie. Hy het niemand opgevolg nie en Hy het geen opvolger nie. Sy heerskappy is van ewigheid tot ewigheid! Sy eie, ewige Seun het ’n ereplek aan sy regterhand.

Geen verdere omskrywing is nodig nie. Geen bespiegeling nie. Elkeen wat daar inkom sal wéét: Dis die een en enigste ware God.

Dit was nie vir Johannes moontlik om God die Vader te beskryf nie. Grieks, die taal waarin hy geskryf het, is een van die mees beskrywende op aarde. Tog het dit nie die byvoeglike naamwoorde en beelde gehad om die Een wat hy op die troon gesien het, te beskryf nie.

Wanneer hy Hom probeer beskryf, is dit eintlik nie God self nie, maar die glans wat Hom omhul: En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ’n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ’n smarag (Open. 4:3).

Vir die gelowige beteken “om te sterwe” nie net dat die deur van “lewe op die aarde” vir ons toegemaak word nie. Dit beteken ook dat ons soos Johannes by ’n ander deur wat vir ons oopgemaak word, sal ingaan en dat ons ’n troon sal sien.

Binne vyf minute na die dood, binne vyf minute nadat ons die hemel binnegegaan het, sal ons Hom sien, wat selfs nie deur die mees beskrywende aardse taal beskryf kan word nie.

Miskien dink jy dit is vergesog dat ons Hom so sal sien, dat ons miskien te onwaardig is. Natuurlik is ons onwaardig. Natuurlik kwalifiseer ons nie. Maar dis juis dan dat ons meer as ooit vantevore sal verstaan en waardeer dat ons alleen deur Jesus en sy dood hierdie toegang verkry het.

In Openbaring 22:4, reg aan die einde van Openbaring, verseker ’n engel Johannes weer dat ons Hom sal sien. Die 1953-vertaling sê: “En hulle sal sy aangesig sien …”

 JOERNAAL

Niks wat ek en jy binne vyf minute na ons dood of in die ewigheid sal beleef, sal meer oorstelpend wees as dat ons die Skepper, die enigste ware God wat in Christus ons Vader geword het, sal sien nie. Dan sal alles sin maak. Dan sal ons alles verstaan.

Watse troos en vrede bring hierdie woorde vir jou? Neem dit iets van jou onsekerheid oor die dood weg? Kan jy in jou gedagtes prentjies maak hoe dit sal lyk en voel om by God te wees? Kan jy hierdie gevoel beskryf en met jou saamdra en vir ander van vertel?