TEMA 27 – Wat met die liggaam gebeur

Bly die gees/siel van die mens liggaamloos tussen die dood en die Wederkoms? Ons aardse liggaam, die tentwoning of erdekruik waarna Paulus verwys, keer immers terug na stof.

Die Bybel is baie duidelik dat ons liggame (of dit wat daarvan oorgebly het) met die Wederkoms opgewek sal word. Ons liggame sal dan verheerlik word en ons sal as gees, siel en liggaam op die Nuwe Aarde woon.

Die vraag en onsekerheid oor ’n liggaam is dus nie ten opsigte van hierdie laaste stadium nie, maar oor die tussentoestand, oftewel die periode wat ons in die tussentydse hemel sal deurbring.

Gaan ons dalk ’n ander tydelike liggaam kry?

Daar is diegene wat van mening is dat ons in die hemel wel die een of ander tydelike liggaam sal hê. Hulle gaan uit van die standpunt dat die mens alleenlik deur ’n liggaam tot uiting kan kom en ’n liggaam noodsaaklik vir wedersydse herkenning aan die anderkant is.

’n Skrifgedeelte waarna in hierdie verband gekyk moet word, is 2 Korintiërs 5:1-9. Hierdie gedeelte handel duidelik oor ons situasie ná die dood.

Vers 1: Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

 Die aardse tentwoning verwys ondubbelsinnig na ons liggame. Ons is mense in transito. Ons weet dat ons liggame verweerd raak en uiteindelik heeltemal ingee. Dis ’n natuurlike en onafwendbare proses. Paulus sê dat as dit gebeur, het ons ’n gebou van God … ewig, in die hemele. Waarna verwys hierdie gebou?

Deels dui dit op die permanensie van ons hemelse bestaan teenoor die tydelikheid van ons bestaan op aarde. Die ewige gebou waarna hierdie teks verwys, kan nie na ’n tydelike liggaam in die tussentydse hemel verwys nie, want die gebou is immers ewig.

Indien dit wel na ’n tussentydse liggaam verwys, wat word dan daarvan op die opstandingsdag? ’n Ewige liggaam kan tog nie tot niet gaan nie? Die gebou wat ons vir ewig gaan hê, is die opstandingsliggaam wat ons met die Wederkoms gaan ontvang.

Ons gaan met hierdie opstandingsliggaam op die Nuwe Aarde woon. Hierdie verheerlikte liggaam is niks anders as ons aardse liggaam wat opgewek en verheerlik gaan word nie.

Dit lyk of Paulus in dié gedeelte nie deurgaans ’n onderskeid maak tussen die tussentydse hemel en die Nuwe Aarde nie. Hierdie ewige gebou dui dus waarskynlik op ons verheerlikte liggame waarmee ons uiteindelik vir altyd op die Nuwe Aarde gaan leef teenoor ons aardse tentwonings wat by die dood afgebreek word.

 Vers 2: Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word.

Dis duidelik dat Paulus na sy hemelse woning en sy ewige, onsterflike liggaam uitsien. Teenoor die heerlikheid van die hemel wat wag, gee die aardse lewe van moeite en verdriet vir hom rede om te sug. Paulus het ook in Romeine 8:22-23 hierna verwys.

Paulus se sug spreek van ’n verlange na die nuwe bedeling, die hemel. Onthou, hy het iets van hierdie hemel, die paradys, persoonlik gesien en beleef. Hy skryf daaroor later in hierdie selfde brief aan die Korintiërs (2 Kor. 12:2-4). Dit was so oorweldigend dat Paulus nie eers daaroor wou of kon praat nie.

’n Groot deel van die aardse lewe is ’n proses van “ontkleding”. Dis ’n proses wat dikwels met smart en selfs vernedering gepaard gaan. Soms kom daar ’n tyd soos wat Paulus oënskynlik ervaar, en hy wens hierdie “ontkleding” verhaas word. Dis waarop hy sinspeel in Filippense 1:23b: … ek het ’n verlange om heen te gaan en met Christus te wees …

 Dan verwys hy ook na die oorkleding uit die hemel. Die opstanding uit die dood beteken dat ons deur God met ’n onsterflike, verheerlikte liggaam geklee sal word.

 Vers 3-4: …as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie. Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.

 In hierdie twee verse verwys Paulus na hierdie toestand of tydperk van naaktheid (liggaamloosheid). In die konteks verwys dit duidelik na ’n onbepaalde tussen-periode waar hy as ’t ware liggaamloos (naak) gaan wees.

Hy sou dit verkies het om nie ontklee te word nie. Met ander woorde, hy sou verkies dat die Wederkoms plaasvind terwyl hy nog lewe sodat sy aardse liggaam direk verheerlik sou word. As die Wederkoms plaasvind terwyl hy nog lewe, kan hy met sy opstandingsliggaam oorklee word.

Indien hy egter sou sterf, impliseer dit dat hy in die tussentydse hemel, die paradys, sou wees. Hier vertoef die geeste/siele van dié wat in Christus gesterf het, tot met Jesus se Wederkoms en die opstanding uit die dood.

Die implikasie is dus duidelik dat ons tydens hierdie tussentoestand, in die tussentydse hemel, nie (tydelike) liggame sal hê nie. In daardie sin sal ons (gees) naak wees.

 Vers 5: Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het.

Die woord “onderpand” kan ook met waarborg of deposito vertaal word, soos wat die 1983-vertaling en die Nuwe Lewende Vertaling onderskeidelik gedoen het. Die term kom uit die besigheidswêreld en beteken presies wat deur die verskillende vertalings weergegee word.

Die Heilige Gees wat God hier op aarde aan ons as gelowiges gegee het, is die onfeilbare, hemelse waarborg dat daar ’n hemel is. Hy is die waarborg dat ons binne vyf minute na ons dood by Hom gaan wees! Wat ’n vooruitsig! Wat ’n versekering!

Vers 6-9: Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon. Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.

 Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees.

Paulus sê dus hier: Solank ons nog hier op aarde in ons liggaam tuis is, is ons nog wat ons inwoning by die Here betref, weg van die huis. Lewe op die aarde – hoe goed die lewe ons ook al behandel – beteken dat ons nog by die Here uitwoon.

Vir Paulus (en vir ons) beteken die dood dat ons ontklee word. In ander woorde gestel: Ons gaan sonder ons liggaam by die Here wees. Paulus verkies dit bo die alternatief om mét ’n liggaam nié by die Here te wees nie.

Tog is hierdie begeerte vir Paulus nie so oorheersend dat dit sy toewyding aan sy lewenstaak en roeping op aarde laat verflou nie: Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe … (v. 9). Of soos hy dit in Filippense 1:24 stel: … maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil.

In vers 7 verklaar Paulus dat die hemel ’n saak van geloof is. Hy skryf dit spesifiek omdat ons nie soos hy en Johannes ’n voorskou van die hemel gehad het nie. Ons glo in die belofte en werklikheid van die hemel omdat ons in God glo.

Ons glo in sy Woord waarin Hy dit aan ons bekend gemaak het. Hy wíl hê dat ons daarvan moet weet en dat ons, soos Paulus, daarna kan uitsien.

Sal ons sonder ’n liggaam ooit iets kan doen?

In die lig van die bespreking van 2 Korintiërs 5:1-9 moet ons kyk na die vraag: Hóé gaan ons mekaar sonder ’n liggaam herken en hóé kan iemand sonder ’n liggaam funksioneer? Diegene wat reken dat ’n gees nie sonder ’n liggaam kan funksioneer nie, meen dat ons ʼn tydelike liggaam in die paradys sal hê.

Dis nodig om vas te stel wat ons uit die Bybel kan aflei. Eerstens moet ons besef dat God sélf Gees is (Joh. 4:24). Die misterie van die Godheid is dat daar één Wese en drie Persone is. Van ewigheid af het God Drie-enig as gees bestaan. Dit sluit die tweede Persoon in die Godheid, Jesus Christus, tot en met sy vleeswording in.

Tog weet ons dat al drie Persone volmaak funksioneer en kommunikeer. Funksionering is nie afhanklik van ’n liggaam nie. Die Gees word immers vergestalt en verbeeld deur wind (Joh. 3:8). Wind kan nie gesien word nie, het nie ’n vorm of ’n liggaam nie en tog kan wind funksioneer, gevoel en beleef word.

Eweneens is engele geeste (Heb. 1:14) en tog skryf die Bybel allerlei funksies en bedieninge aan hulle toe. Hulle het selfs name. Dieselfde geld vir die gevalle engele wat in die Bybel bose geeste genoem word. Hulle is ook duidelik onderskeibare persone waaraan verskillende bose werkinge en funksies toegeskryf word.

Daar is geen twyfel dat geeste in die dimensie waarin hulle leef en beweeg, herkenbaar is en sonder ’n liggaam kan funksioneer nie.

Voorbeelde uit die Bybel van siele wat herken is

Hulle wat reeds as geeste/siele in die (tussentydse) hemel is, was herkenbaar waar hulle deur aardlinge gesien is. Die Bybel vertel van net enkele gevalle waar mense die siele van mense gesien het. Natuurlik was sulke gevalle uitsonderings en kan ons alleenlik werk met dit wat in die Bybel in hierdie verband aan ons bekendgemaak is.

Die afleiding wat ’n mens maak, is dat die gees/siel van die persoon wat gesterf het, wanneer hy wel verskyn en vir mense sigbaar is, lyk soos wat sy liggaam gelyk het. Dit beantwoord die vraag of ons geliefdes aan die anderkant herkenbaar is. Let hierop terwyl ons na die verskillende voorbeelde in die Bybel kyk.

Samuel was dood en begrawe. Tog het die medium (heks) van Endor hom dadelik herken tydens sy misterieuse en moeilik-verklaarbare verskyning. Interessant genoeg het Saul Samuel nie gesien nie, maar wel sy stem herken. Die medium se beskrywing van Samuel aan Saul het hom egter dadelik laat besef dat dit Samuel was (1 Sam. 28:14).

’n Verdere voorbeeld is dié van die verheerliking op die berg (Matt.17:3; Mark. 9:4 en Luk. 9:30-31). Daar was drie persone wat in heerlikheid gehul was terwyl die dissipels geslaap het: Jesus, Elia en Moses.

Ons weet Jesus was liggaamlik daar. Ons weet Elia het nie gesterwe nie en sy liggaam is dus met sy “hemelvaart” verheerlik – soos wat met die gelowiges sal gebeur wat nog by die Wederkoms van Jesus in die lewe sal wees.

Die derde een was Moses. Ons weet hy het gesterwe en is begrawe (Deut. 34:6). Tog word hy nie tydens die openbaring op die berg as anders as sy twee gespreksgenote beskryf nie. Daar word nie genoem dat hy ’n spesiale, tydelike liggaam gehad het nie. Hy het sonder ’n spesiale liggaam gedeel in die heerlikheid van God.

Dis belangrik om op te merk dat die drie dissipels, toe hulle ontwaak, Moses net soos vir Jesus en Elia, onmiddellik herken het. In die heerlikheid van God (wat in die hemel volkome is), is daar geen herkenningsprobleme nie!

Wanneer Johannes die hemelse openbaring beleef, sien hy in Openbaring 6:9-11 die siele van die martelare onder die altaar. Alhoewel hul liggaam op aarde vermink en daar op welke wyse ook al van ontslae geraak is, sien Johannes hul siele in die hemel. Geen (tydelike) liggaam was nodig vir Johannes om hulle te sien en te identifiseer as die martelare nie.

Ons liggaam gaan met die Wederkoms van ons Here Jesus opgewek en verheerlik word. Ons gaan liggaam, siel en gees saam met Hom op die Nuwe Aarde woon. In die tussentydse hemel is daar net enkeles wat met hulle verheerlikte liggaam reeds daar is, naamlik Jesus, Henog en Elia.

Die kwessie van liggaamlikheid in die (tussentydse) hemel is met misterie omhul. Daar kan verder oor gespekuleer word. Dit is myns insiens nie so belangrik nie. Wat belangrik is, is dat ons dáár ons identiteit sal behou en onderskeibare indiwidue sal wees wat mekaar sal herken.

JOERNAAL

Wie is die persone wat jy na uitsien om weer in die hemel te ontmoet? Is daar iemand met wie jy nie ’n blye weersiens gaan hê nie? Hoekom nie? Kan jy bid en vra dat die Heilige Gees jou en hierdie persoon versoen en kan jy vergewe? Is daar verhoudings in die hier en nou wat reggemaak moet word sodat daar blye herontmoetings in die hemel kan wees?