TEMA 26 – Hoe dit voel om God te sien

Die hemel word geassosieer met alles wat volmaak, ongeskonde, heerlik en wonderlik is.

Trouens, dit is die oortreffende trap van alles wat wonderlik is. Jy kan maar aan jou verbeelding vrye teuels gee, die wonder van die hemel sal dit oortref.

Die Bybel gee sulke flitse daarvan. En tog verneem ons dat kwalik die helfte aan ons vertel is. Wanneer ek poog om vir jou iets te skets van wat jy in die hemel kan verwag, is dit maar my beperkte insig en verstaan van die relatief beperkte inligting wat ons in die Bybel kry.

Wat ek wel met absolute sekerheid aan jou kan bekendmaak, is dat jy binne vyf minute in die hemel die siel, die hart van die hemel sal sien. In ons eerste vyf minute in die hemel sal ek en jy GOD persoonlik sien.

’n Beskrywing van die hemel begin met God. Jy kan nie van ’n hemel praat sonder God nie. Eendag sal ons ten volle verstaan dat die grootste dors in die lewe, ons diepste smagting, ons grootste verlange, na God is.

Ons verlang na die Een wat ons gemaak het vir sy vreugde, die Een wat ons liewer het as enigiemand anders. Hy het ons so lief dat Hy Homself vir ons redding oorgegee het.

Uiteindelik sal niks anders – ook in die hemel – ons diepste verlange en smagting versadig nie. Ons heimwee na ’n hemelse plek is eintlik ’n verlange na God. Dít is die siel, die hart van die hemel: om by God te wees.

Elke ander vreugde in die hemel sal sekondêr wees naas God self. Hy sélf sal die grootste verrassing, die grootste geskenk in die hemel wees.

Hoe sal dit wees om God te sien?

Niemand van ons het naastenby ’n idee wat dit sal inhou om God te sien nie. As die deursnee-persoon ’n wenslys kon opstel van wat hy of sy graag eerste in die hemel sou wou sien of doen, is die kans dalk daar dat “om by God te wees” nie bo aan die lys sal wees nie.

Dis omdat ons kennis en ervaring van God so onvolkome en somtyds so gebrekkig is.

Volgens Johannes wat so bevoorreg was om ’n vroeë voorskou van die hemel te sien te kry, was dit onomwonde die hoogtepunt. Reeds in sy eerste Sendbrief sê hy:

 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is (1 Joh. 3:2).

In hierdie lewe het ons verskillende ervaringe en belewenisse van en met God gehad. Party s’n meer intens, oorweldigend, emosioneel as ander. Die essensie van die hemel is dat ons Hom sal sien soos Hy is.

In die laaste hoofstuk van Openbaring beskryf Johannes dit nog duideliker: En hulle sal sy aangesig sien … (22:4). Is ons in staat om ons dit in te dink?

Om iets van hierdie asembenewende voorreg en heerlikheid te verstaan, moet ons besef van Wie ons hier praat. Of is dit iets wat nie hier op aarde heeltemal moontlik is nie?

Was die laaste mense wat Hom hier op aarde gesien het, die eerste twee mense, Adam en Eva? En toe kom die sonde. En die verwydering. En sedertdien het niemand Hom gesien nie. Kán niemand Hom sien nie.

Dit blyk dat die man wat die mees intieme gesprekke met God gehad het – ten minste in die Ou Testament – Moses was. By geleentheid het hierdie ongewone gesprek en ontmoeting plaasgevind, die naaste wat iemand ooit in hierdie lewe aan God gekom het:

 Toe sê Moses: “Laat ek tog net U magtige verskyning sien!” Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.

 Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ’n plek waar jy op die rots kan staan. As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ’n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is.

 Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie” (Eks. 33:18-23).

Daar is ’n groot stuk misterie en onverstaanbaarheid vir ons in hierdie vertelling opgesluit. Ons weet dat Moses ervarings met God gehad het en meer kommunikasie met Hom gehad het as waarskynlik enigiemand anders.

Hy was die enigste mens (behalwe dalk Adam en Eva en natuurlik Jesus sélf) wat God gesien het. Egter nie sy aangesig nie, maar net van agter af.

Diep binne die mens is daar diepe reste wat smag na God. In sy krisis en verlatenheid gee Job uitdrukking daaraan: “Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe” (Job 19:27).

 Die naaste wat aardse sterflinge daaraan gekom het om God te sien, was Jesus sélf. Op ’n besondere manier en in ’n spesiale sin het Hy die Vader bekend en “sigbaar” kom maak. Hy het dit só aan Filippus duidelik gemaak:

 Filippus sê vir Hom: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Jesus sê vir hom: “Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?” (Joh. 14:8-9).

Paulus beskryf Hom as die een wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganglike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie … (1 Tim. 6:16).

Johannes was in die Gees (Open.1:10) toe hy die spesiale openbaring op die eiland Patmos ontvang het. Aanvanklik het hy nie God, die Vader, self gesien nie, maar die tweede Persoon in die Godheid, Jesus Christus.

Alhoewel hy ’n paar dekades tevore, terwyl Jesus op aarde was, nader aan Jesus as enige van die ander dissipels was, het hy egter soos ’n dooie neergeval toe hy die verheerlikte Christus sien (v.17).

Toe Johannes kort daarna God die Vader op sy troon sien, was hy nie in staat om Hom behoorlik te beskryf nie. Sy heerlikheid was te oorweldigend, Johannes se woorde te ontoereikend (Open. 4:2-3).

Om God te sien, sal hemels wees

Ons kan kwalik ’n idee vorm van wat dit beteken om persoonlik by God te wees, om sy aangesig te sien. Niks kan eers naastenby daarmee vergelyk nie. En dit, sê Openbaring 22:4, is wat ons in die hemel gaan sien. Om Hom te sien, sal ons grootste vreugde wees, sal hemels wees.

Op aarde is daar hindernisse wat dit vir ons onmoontlik maak om God te sien. Die grootste daarvan is ons sondige gebrokenheid. Tereg sê die Hebreërskrywer dat ons sonder heiligmaking God nie sal sien nie.

Dit is alleen deur die volmaaktheid en sondeloosheid van Jesus, die Lam van God, wat ons sal kwalifiseer om vrygespreek en volkome God van aangesig tot aangesig te sien.

Ons het vele mense hoor sê – van die bekendstes op aarde – dat die grootste oomblik van hulle lewe was toe hulle Nelson Mandela persoonlik ontmoet het. Mnr. Mandela was waarskynlik die bekendste ikoon in sy tyd op aarde. Hy was ’n besondere, maar onvolmaakte, sondige, sterflike mens.

Hoe sal dit dan wees wanneer ons die enigste, oneindige, onsterflike, almagtige, heilige, volmaakte God persoonlik ontmoet! Van aangesig tot aangesig! Alles op ons “móét sien” en “móét doen” lysie sal vervaag in God se teenwoordigheid.

Aan die ander kant, al die ander dinge en mense in die hemel sal nuwe betekenis en waarde hê na ons Hom gesien het.

In die oorspronklike paradys, in Eden, was God se teenwoordigheid die grootste bekoring. In die aande het Hy met hulle in die tuin kom wandel (Gen.3:8). Dit was die grootste tragedie en vloek wat sonde gebring het, dat die mens van God se persoonlike teenwoordigheid geskei is.

Sonde laat jou wegkruip, wegdeins, wegvlug vir God (Gen. 3:8). Maar in die hemel sal geen sonde en geen vloek meer wees nie.

Ons sal Hom sien soos Hy is … (1 Joh. 3:2). Dan sal ons besef dat daar niks méér en niks groter as God sélf is nie. Dan sal ons ontdek dat die Gewer groter en méér is as sy gawes. Hyself is ons grootste beloning. Hyself is die vervulling van al ons begeertes en al sy beloftes.

Die Bybelse feit dat die paradys as sinoniem vir die hemel gebruik word, bevestig dat die breuk wat tussen God en die eerste mensepaar plaasgevind het, volkome herstel sal wees. In Eden het God in die aandwindjie met Adam en Eva kom wandel. Wat ’n beeld van intimiteit en nabyheid!

Na die sondeval, vir hoeveel eeue lank moes die mensdom dit ontbeer? Maar binne vyf minute in die hemel sal hierdie intimiteit in sy volle heerlikheid herstel word. Ons sal sy aangesig sien!

Sonder God is daar nie ’n hemel nie

Hoe wonderlik die hemel ook al is en mag wees, God sélf is die hemel se Eerste Prys! Daar ís geen hemel sonder God nie. God maak die hemel hemel. Hemel is waar Hy is. Net soos wat sy absolute afwesigheid (en nie die vuur en swael alleen nie) die hel hel sal maak.

Om hemel toe te gaan en God is nie daar nie, is soos vir ’n bruid om op wittebrood te gaan sonder haar bruidegom. ’n Hemel sonder God is soos ’n paleis sonder ’n koning. Alles in die hemel sal die gevolg en uitkoms van sy liefde en goedheid wees. Hy is die groot trekpleister in die hemel.

Die tabernakel, en later die tempel in Jerusalem, was ’n menslike en herhaalbare konstruksie volgens die voorskrifte van God. Veral die tempel van Salomo was ’n pragtige en met goudversierde plek.

Die bekoring en die magnetisme van die tempel het egter in ’n reghoekige kis met ’n goudversierde deksel en gerubs daarop gelê. In die allerheiligste was hierdie ark met sy versoendeksel. Tydens die Ou Testament was dit die aardse woonplek van God: heerlik, heilig, maar ontoeganklik.

Dit was ’n voorafskaduwing van die hemel. In die hemel self sal daar egter geen tempel wees nie: En ’n tempel het ek daarin nie gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam (Open. 21:22).

’n Tempel sal nie nodig wees nie, want God, sy teenwoordigheid, sal volkome en onbelemmerd daar wees. Hierdie keer is daar geen voorhangsel, geen verberging van God se aangesig nie. Die bloed van Jesus het God toeganklik gemaak. Hier op aarde reeds in gees, maar wanneer ons in die hemel kom, letterlik.

Ons sal by Hom wees, met Hom praat. En Hy met ons. Ons sal in sy verbysterende teenwoordigheid kom en sy aangesig sien. Vir altyd. Niks kan wonderliker, meer opwindend wees as dit nie! Verveeldheid sal die laaste gedagte wees wat by jou sal opkom.

Die hemel vervelig? Nee, nooit nie!

JOERNAAL

Om ’n kind van die Here te kon word, is wonderlik. Die volle seën van ons kindskap, selfs hier en nou, is meer as wat ons kan besef. Wanneer jy daaroor peins en in aanbidding voor God is, vul dankbaarheid en liefde jou hart? Vertel jy dit vir ander mense?

Jy het Hom nog nooit gesien nie. Watter oomblik sal dit nie wees wanneer jy uiteindelik by Hom is en in sy oë kan kyk nie. Glo jy dat jy dan by die Een sal wees wat dit alles moontlik gemaak het? Glo jy dat dit ook so was vir jou oorlede geliefdes?