Ons lewe bestaan uit drie verskillende stadiums. Die eerste stadium begin by die oomblik van bevrugting. Die duur van hierdie fase is vir elke individu in onsekerheid gehul. ’n Besoek aan enige begraafplaas sal die feit bevestig dat die dood op enige ouderdom sy onwelkome besoek kom aflê.
In hierdie fase bestaan die mens uit drie komponente, naamlik liggaam, siel en gees. Die hoofdoel van hierdie aardse stadium is of jy vrede gemaak het met jou Skepper.
Ons prioriteite in hierdie lewe is so dikwels verkeerd. Die koue, kliniese feit van die lewe is dat ek en jy ook gaan sterf. Of jy ryk was of arm, gelukkig of ongelukkig, suksesvol of onsuksesvol, of jy jonk was of oud geword het – uiteindelik lui die klok in die toring van tyd vir ons elkeen en word hierdie aardse stadium afgesluit.
Eintlik is dit verkeerd om die dood met onsekerheid te assosieer. Niks sekerder as die dood nie. Al wat onseker is omtrent die dood, is die “wanneer”. Ons moet ons aardse lewe in die regte perspektief sien. In ’n sekere sin beteken ons geboorte nie dat ons begin lewe nie, maar eerder begin sterwe.
As ons sê dat die doodstog by die geboorte begin, is daar ’n ander, groter, heerliker werklikheid. Daar is ’n ander moment wanneer lewe, ewige lewe, begin. Dit is wanneer ek, gebroke, sterflike, sondige mens, God se antwoord, sy oplossing vir my toestand aanvaar. Dís die nuwe geboorte.
Ware lewe begin dus by weergeboorte. In hierdie eerste stadium van jou bestaan, kan daar niks belangrikers met jou gebeur as dit nie, want dit bepaal jou volgende twee stadiums.
Die hoofdoel van hierdie lewe, hierdie kort deel van jou bestaan, is om seker te maak van jou lewe na die dood. Daarvoor gun God jou hierdie geleentheid op aarde. Alles buite dit om, al is dit hoe kosbaar, is sekondêr.
Die tweede stadium van menslike lewe begin by doodgaan
Die oomblik wanneer jy sterf, vind die skeiding tussen liggaam, siel en gees plaas. Die verhaal in Lukas 16 vanaf vers 19 vertel ons van twee onderskeie plekke waarheen die mens kan gaan.
Terwyl die liggaam leweloos agterbly, is die ware “jy”, die eintlike mens wat in daardie liggaam gewoon het, reeds in ’n ander dimensie, op ’n ander plek. Volgens vers 23 is daardie plek vir sommige mense ’n plek van vlamme en onbeskryflike smart.
Daar is ’n verskil tussen die doderyk en die hel. In die grondtaal van die Bybel word daar twee aparte woorde gebruik. Die woord “hel” is in Grieks gehenna. Dit kom van die Hebreeuse gehinnom, of vallei van Hinnom, ’n diep dal wat net suid van Jerusalem geleë was.
In die dae toe Israel afvallig was en afgode gedien het, het hulle onder meer in hierdie dal kinders aan die afgod Molek geoffer. Later het hierdie vallei van Hinnom die afvalhoop van Jerusalem geword.
Nie net die afval van die stad en die karkasse van dooie diere is daar gegooi nie, maar ook die lyke van misdadigers en bedelaars. Soos by die meeste vullisgate, het daar ook in die dal van Hinnom gedurig vure gebrand of gesmeul en rook opgestyg.
As gevolg hiervan en die feit dat die lyke van misdadigers en bedelaars, wat seremonieel onrein was, daar saam met die afval gebrand het, het dit die simbool geword van die ewige verdoemenis, die plek van God se oordeel en straf.
Die vullishoop in die dal van Hinnom sou na alle waarskynlikheid die plek gewees het waar Jesus se lyk die Vrydagaand na sy kruisdood saam met dié van die twee rowers sou beland het.
Daarom is dit so merkwaardig dat daar onder Jesus se hoofsaaklik arm volgelinge ’n Josef van Arimatea was, ’n geheime, ryk dissipel met hoë aansien, wat die invloed en gesag gehad het om self na Pilatus te kon gaan en die ongewone te vra: dat die lyk van Jesus aan hom gegee word.
En in plaas daarvan dat sy lyk op Jerusalem se vullishope beland het, het Jesus ’n koninklike begrafnis in ’n rykmansgraf gekry. Daar moes nooit enige onsekerheid wees dat Jesus uit die dood opgewek is en sy lyk nie meer daar was nie!
Wat die verskil is tussen “hel” en “doderyk”
Die hel – al word hierdie plek verskillende name genoem, is dit dieselfde verskriklike plek van God se ewige oordeel oor die Satan en sy engele, asook oor al die mense wat God se saligheidsplan verontagsaam het. Hierdie plek het reeds bestaan toe Jesus hierdie verhaal vertel het.
Die woord wat egter in Lukas 16 gebruik word en wat dikwels nie van die hel onderskei word nie, is die woord doderyk, in Grieks hades en in Hebreeus sheol. Hierdie woord beteken in die grondtaal letterlik die onsigbare of onsienlike.
Die idee wat die Ou-Testamentiese mens van die doderyk gehad het, was ’n taamlik morbiede prentjie van ’n grys skaduwêreld, ’n somber plek, die onderwêreld, waarheen almal wat gesterf het, gegaan het. Hierdie onderwêreld of doderyk is volgens die Bybel deur ’n onoorbrugbare kloof in twee verdeel.
Aan die een kant is daar die paradys. Hierdie paradys in die onderwêreld is nie dieselfde as die paradys waar Adam en Eva gewoon het nie. Dit is daardie gedeelte van die doderyk waar dié wat as gelowiges of regverdiges gesterf het, bewaar is tot die opstanding van Christus uit die dood.
Met sy eie neerdaal na die doderyk en sy opstanding het Jesus as ’t ware die paradysgedeelte van die doderyk oorgeplaas na die hemel. Jesus het dus hierdie onderwêreldse paradys na die hemel verskuif.
In hierdie verband is dit betekenisvol dat daar met Jesus se dood talle ontslape heiliges uit die dood opgestaan en ná sy opstanding aan baie mense in Jerusalem verskyn het. Dit was waarskynlik bedoel as ’n sigbare teken dat Jesus die dood oorwin en die afgestorwe gelowiges uit die doderyk bevry het.
Die sentrale persoon in die doderyk was die vader van die ou verbond, naamlik Abraham. Vir die Jode was dít die uitdrukking van die grootste saligheid: “aan die boesem van Abraham”. Die Jode het geweet as jy na die dood jou oë oopmaak en vir Abraham sien, jy dit gemaak het, jy veilig en op die regte plek was.
Die gedeelte van die doderyk waar die goddelose vir die finale oordeel bewaar word, word net doderyk genoem. Hierdie deel is, in teenstelling met die paradysgedeelte, ’n plek van vlamme, pyniging en smarte. Hier word die siele van die goddeloses bewaar tot op die dag van die wit troon oordeel, wanneer hulle almal in die hel gewerp sal word.
Tot met die dood van Jesus het alle gelowiges na hulle dood na die paradys gegaan. Met sy opstanding uit die dood, is al daardie gelowiges oorgeplaas na die hemel self.
Sedertdien gaan gelowiges wanneer hulle sterf nie meer na die paradys of doderyk nie, maar direk na Jesus in die hemel. Waar die paradys as blyplek van die regverdiges egter beëindig is met die opstanding van Jesus, is die doderyk steeds die plek waarheen diegene gaan wie se name nie in die boek van die lewe staan nie.
Hierdie tweede stadium of tussentoestand duur ’n onbepaalde tyd. Daar is egter mense wat hierdie tweede stadium gaan misloop. Dit is dié wat met sy Wederkoms nog in die lewe sal wees.
Die derde stadium van lewe begin met die Wederkoms
Die derde finale stadium het geen einde nie. Vir die gelowiges begin dit met die Wederkoms. Met hierdie grootse, finale heilsgebeure sal Jesus Christus terugkeer na die aarde om dié wat aan Hom behoort, te kom haal. By dié geleentheid sal Hy die siele en geeste van hulle wat in Hom gesterf het, met Hom saambring.
Hulle liggame, of wat ook al van hulle stoflike bestaan oorgebly het, sal dan opgewek en verheerlik word. Siel, gees en verheerlikte liggaam sal dan verenig word om vir altyd saam met Christus in die hemel te wees. Die hemel is dus die plek waar die gelowiges vir altyd, met gees, siel en liggaam, saam met Jesus sal wees.
Met die Wederkoms van Christus en die finale oorwinning oor al sy vyande, sal daar ook finaal afgereken word met al die mense wat deur die eeue sy groot liefdesaanbod van vergifnis en versoening verwerp het. Hulle oorskot sal opgewek word.
Dan sal die siele van almal wat in die doderyk is, verenig word met hulle liggaam om vir altyd in die hel gewerp te word waar hulle vir ewig gefolter en gepynig sal word, maar nooit vernietig sal word nie.
Dit is duidelik dat almal wat in die doderyk is, ook in die hel sal beland. Daar sal geen ontsnapping of ontkoming of spesiale redding moontlik wees nie. Wat ’n verskriklike vooruitsig!
Ek besef dat hierdie toekoms-scenario wat deur die Bybel uitgespel word, baie moderne humaniste en skeptici teen die bors stuit. Sommige sal prontuit sê dat ’n God van liefde nooit so iets sal doen nie en dat hulle niks met so ’n God te make wil hê nie.
Maar daar is net één straf groot genoeg vir die versmading van so ’n groot liefde, en dit is die hel. As ons dit regtig glo, móét dit ’n verskil maak aan ons gesindheid en optrede teenoor dié wat nog buite is!
In Lukas 16 neem Jesus ons as’t ware aan die hand en trek die gordyn op ’n skrefie oop sodat ons ’n kort, vroegtydige blik op die tweede bedryf, die lewe na die dood, kan kry. Hy gee vir ons hier net ’n vinnige kykie op wat gebeur direk na die dood van die geredde en die ongeredde mens.
Natuurlik sou ons baie meer van hierdie tweede bedryf wou sien en weet, maar wat die Here nodig geag het vir ons om te weet, het Hy aan ons geopenbaar.
JOERNAAL
Dink jy ook jou lewe begin by geboorte en eindig by jou dood? Verstaan jy nou die volledige prentjie of groter werklikheid? Wat is die impak hiervan op jy elke dag aanpak? En as jy lees oor die hel: Bly jy onaangeraak en traak-my-nieagtig toesien dat so baie mense op die ewige verdoemenis afstuur?