[SIERBOME] LES 11 – Ontmoet die sensitiewe, selfbewuste en skeppende sierboom

Eerstens moet ek seker die naam verduidelik. Die plaaslike kwekery gebruik hierdie term vir standaard­boompies, snoeiboom­pies of lollipops. Hulle is stylvolle boompies wat dikwels vir versiering gebruik word.

Hierdie boompies lyk sommer agtermekaar en onder beheer. Hulle word seker dikwels standaardboompies genoem omdat hulle die perfekte voorbeelde van hulle spesie is. Die temperamentstipe wat ek met hierdie boompie wil voorstel is ewe voorbeeldig.

Hulle het hoë standaarde en lyk vir ander mense na aan perfek. Hulle is maklik om te vorm soos ’n mens hulle graag wil hê en hulle hou van grense. Hulle kan, soos in ’n pot, baie maklik binne eng bakens en rigiede reëls floreer.

Toe ek die assistent by die kwekery gevra het hoe ’n mens die boompie se “bolletjies” so mooi rond hou, was sy antwoord eenvoudig: “Nie nodig nie – hulle kom so, en hulle bly so.”

Sierboompie-mense, is juis die tipe wat hulleself kan dissipli­neer, self kan besluit wat reg of verkeerd is en self kan toesien dat dinge glad verloop. Sierbome is tevrede om op die regte plek te staan en reg te lyk as dit ander sal tevrede stel.

My man spot soms dat ’n mens ook maar kan sê “suurboompies” omdat hierdie temperamentstipe aan die ernstige kant kan wees …

Ontmoet vir Luan, voorbeeld van die klassieke sierboompie

Luan is ’n voorbeeldige negejarige. Hy is ’n introvert en tog is hy baie vriendelik. Sy sensitiwiteit vir ander maak hom op hierdie brose ouderdom sy ma se klankbord. Hy is haar skouer om op te huil vandat sy pa ’n jaar gelede oorlede is.

Hy probeer om net alleen in sy kamer te huil want hy voel dat dit sy plig is om sterk te wees vir haar onthalwe. Baie aande huil hy homself aan die slaap.

Selfs as kleuter was Luan ernstig. Vandat hy kon tel, wou hy weet hoeveel punte hy uit tien kry vir die netheid van sy kamer. Kritiek en harde woorde het hom vir ure lank in ’n tranerige bondeltjie verander.

Sy ouers het gou besef dat hy ’n brose selfbeeld het en ’n sagte hand nodig het. Toe hy in Graad 1 was, het hy op ’n dag sleg gevaar in ’n speltoetsie. Hy het hard probeer om die juffrou se verkeerde merkies uitgevee te kry voor ouer­aand.

Hy het ’n penuitveer by een van sy ouer sussies geleen. Ongelukkig het al die gevryf die bladsy geskeur. Omdat ’n geskeurde bladsy nog erger as slegte punte sou wees, het Luan Plan B in werking gestel en die boek “verloor”.

Hy moes al die werk in sy boekie oordoen, maar hy het glad nie omgegee nie, want toe kon hy alles netjieser en perfek skryf soos hy dit graag wou hê. En selfs toe dit oorge­doen was, het hy dwarsdeur die oueraand gespanne tuis gewag om te hoor of sy ouers darem tevrede was.

Luan dink baie oor die toekoms. Hoe gaan sy ma dit kan bekostig om hom en sy tweelingsussies groot te maak? Hy sien al die tekens raak: Sy dra elke Sondag dieselfde klere kerk toe.

Sy maak nie meer soos vroeër die kar vol elke keer as sy by ’n garage stop nie. Sy kyk eers in haar beursie en vra dan R30 of R50 se brand­stof. Niks ontgaan sy fyn waarneming nie.

Toe sy sussies van hulle ma wou weet waarom hulle nie ballet kon doen nie, het hy goed geweet dis omdat dit te duur is, maar om sy ma die vernedering te spaar om dit te moet erken, het hy vir hulle vertel hoe belaglik hulle in tutu’s sou lyk.

Hy het om dieselfde rede besluit om nie eers sy ma te vra of hy kan skaak neem nie, al wou hy bitter graag. Hy voel nie dat sy behoeftes belangrik is nie.

Smiddae na skool verdwyn hy in sy kamer en kom eers weer te voorskyn wanneer al sy huiswerk perfek is. Dan gaan patroleer hy sy sussies se kamers om seker te maak hulle doen ook hulle deel.

Daar is altyd fout te vind. Hulle kamers is te deurmekaar, hulle eet te veel van die jogurt wat vir die volgende oggend se ontbyt bedoel was, hulle leer te min vir hulle toetse of hulle lawaai terwyl hulle ma wil slaap. Hulle noem hom “Luitenant Luan”.

Luan se omstandighede, gekombineer met sy prominente sierboomtempera­ment voorspel dat hy met erns en ’n swaar las deur die lewe sal gaan en waar­skynlik altyd sal voel dat ander se geluk van hom afhang.

Alles wat gebeur is belangrik, elke probleempie laat hom met ’n hol kol op die maag en daar is altyd ’n donker wolkie op sy horison – iets wat nog gedoen moet word of iets wat dalk in ’n probleem sou kon verander … en hy gaan dikwels nie weet waar om te begin nie en oorweldig voel.

Op hoërskool gaan hy bes moontlik baie goed presteer. Hy gaan hom skaar by die intellektuele eerder as die pretmakers. Hy gaan sy ma trots maak deur altyd sy bes te doen, en uit die moeilikheid te bly.

Die rugbyspelers mag dalk neersien op sy kreatiewe talente, maar hy het buitendien net enkele vriende met eenderse waardes nodig. Dit gaan hom nie pla as hy nie in die “in”-groep is nie. Hy blink bes moontlik eerder uit in kuns, skryfwerk of musiek.

Hy gaan ’n goeie verdediger van die swartskape wees maar hy gaan ook hoë eise van perfeksie aan almal om hom stel.

As volwassene gaan hy die getroue vriend van enkele mense wees maar baie dikwels tevrede wees met net sy eie geselskap. Hy gaan gewoonlik nêrens te vinde wees wanneer die res van sy kollegas luidrugtig partytjies hou nie, en liewer ’n taak alleen as in ’n groep uitvoer.

Hy gaan moeilik nee sê wanneer mense hom gunste vra omdat hy graag in almal se goeie boekies wil wees. Hy gaan hardwerkend en getrou wees – almal se staatmaker.

Hy gaan ’n droomwerknemer wees wat elke taak betyds en presies volgens die spesifikasies voltooi. Sy werk gaan perfek eerder as progressief wees. Sy gesin sal kan reken op sy beste pogings om ’n goeie pa en toereikende broodwinner te wees.

Hoe om die volwasse sierboom te herken

Mense sê …

  • ons gee vir jou die werk wat ons rég gedoen wil hê
  • moenie so ernstig wees nie – live a little!
  • kan jy net eenmaal die blink kant raaksien? (Look on the bright side!)
  • is ons nie al voorheen (herhaaldelik) hierdeur nie?
  • jy is so georganiseerd!

Hoe gee en ervaar ’n sierboom liefde?

Sierbome wil voel dat hulle waardeer word. Hulle is dikwels dienaars en helpers, en as al hierdie moeite ongesiens as vanselfsprekend aanvaar word, beleef sier­bome geen liefde nie. Hulle wil gereeld opreg bedank word.

Sierbome wil ook begrip vir hulle emosies – veral die negatiewe emosies – hê. Wanneer hulle trane geïgnoreer word of niemand stel belang om te vra waar­om hulle ongelukkig lyk nie, voel dit asof niemand hulle liefhet nie.

Wanneer iemand daarenteen geduldig na hulle luister en begrypend en ondersteunend optree, ervaar hulle dit as liefde.

Sierbome is dikwels idealiste met drome en visies wat na aan hulle harte lê. Hulle selfbeeld is broos en hulle is gewoonlik in twee geskeur tussen hierdie ideale en die gevoel dat hulle dit nooit kan bereik nie.

Wanneer iemand hulle drome deel, hulle aanhou aanmoedig en in die najaag daarvan ondersteun, ervaar hulle dit as liefde en kameraadskap.

Sierbome het gewoonlik ’n groot privaat ruimte, selfbewustheid rondom liggaamlike gebreke of ’n vrees vir fisieke intimiteit. Hulle gee en ervaar dus gewoon­lik nie liefde primêr op fisieke of seksuele vlak nie.

Hulle wil rondom die intieme aspekte van liefde met versigtigheid en respek benader word. Wanneer iemand aandring op aanraking of ongevraagd en a aan hulle kom, voel hulle bedreig en selfs verneder. Net soos klein sierboompies nie hulle gunstelingspeelding deel nie, wil sierbome nie graag die beheer oor hulle liggame weggee nie.

Hoe lyk ’n sierboom se gevoelens en emosies?

Sierbome beleef intense emosies oor die hele spektrum. Gewoonlik is hulle emo­sies ook baie sigbaar in hulle gesigsuitdrukking en liggaamshouding. Hulle loop daarmee op hulle mou.

Dit is dikwels veral waar van vrouens met ’n sierboom­temperament. ’n Mens kan selfs oor die foon hoor hoe dit met ’n sierboom gaan, want hulle stemme dra baie van hulle gemoedstoestand oor.

Sierboommans verdoesel soms hulle emosies beter. Hulle lyk dikwels ernstig en bekommerd. Hulle lag minder as die palmbome en raak amper nooit laf of ligsinnig nie.

Hulle lyk selfs kwaad of hartseer terwyl hulle ingedagte is. Mense vra dikwels vir hulle wat fout is en dan is hulle verbaas om te hoor dat daar ’n nega­tiewe uitdrukking op hulle gesigte was.

Sierbome se emosies is langdurend. Wanneer ’n sierboom teleurstelling beleef, kan die gevoel dae of weke lank op die krop van die maag bly sit. ’n Sierboom­tiener kan maande lank oor ’n liefdesteleurstelling huil.

Mense is dikwels in die versoeking om vir ’n sierboom iets te sê soos: “Beweeg nou aan. Ruk jouself reg. Sluk die huil.” Dis egter baie moeilik om ’n sier­boom op te beur.

Sierbome se troetelemosies is wanhoop en skuldgevoel. Ongelukkig is albei hierdie emosies vir baie sier­bome ’n konstante geestelike uitda­ging. Die wanhoop staan in stryd met ’n sierboom se geloof, en die skuldge­voel beroof sierbome van die belewe­nis van hulle vryheid en regverdigheid in Christus.

Sierbome wil erkenning vir hulle emosies hê, anders voel hulle verwerp en misverstaan. Al verstaan ons nie hulle intense hartseer, radeloosheid, paniek of desperasie nie, moet ons hulle toelaat om daardeur te werk en nie probeer om met rasionele argu­mente te verduidelik dat dinge eintlik nie so erg is nie.

Deur saam met sierbome in die donker gat van emosie in te klim, deur byvoorbeeld toe te gee dat wat gebeur het regtig sleg was, help ons hulle om aan te beweeg.

Wanneer ’n sierboom emosioneel is, is dit asof die rasionele sy afge­skakel is. Wat ’n sierboom dan sê, moet nie te letterlik opgeneem word nie, maar ons moet eerder probeer om die emosie agter die woorde te verstaan en te reflekteer.

Dit help sierbome om weer rasioneel te word en na ’n oplossing te begin kyk. In die handleiding vir ’n sierboompie verduidelik ek tegnieke om ’n sierboom se emosies te identifiseer en te hanteer in fyner besonderhede. Die beginsels geld vir volwassenes ook!

Sierbome se brose selfbeeld maak dat hulle baie liggeraak kan wees. Hulle neem dinge persoonlik op en verval maklik in selfhaat en selfbejamme­ring. Omdat hulle so hard is op hulleself en ander, is van hulle algemeenste emosies ongelukkig verwyt en selfverwyt.

Sierbome se tweede geestelike uitdaging is om te leer om die verlede agter te laat en hulleself en ander te vergewe sodat hulle hierdie emosies kan oorwin.