Ek het ’n soort boom gesoek wat in sy aard sterk, stekelrig maar ook produktief is om hierdie temperamentstipe te verteenwoordig. ’n Turksvy en ’n kaktus het eerste by my opgekom … Dis maar omdat hierdie temperamentstipe aggressief, kwaai en onsensitief kan wees.
Daar is egter sulke wonderlike, positiewe eienskappe wat na vore kom wanneer ’n kind met hierdie geaardheid reg “gesnoei” word. Rose is sulke uitsonderlike blomme dat dit ’n goeie analogie is vir die besondere produktiwiteit en potensiaal van hierdie temperament.
Dit sit nie in elke tuinier se snoeiskêr om spogrose te kweek nie. Hulle verg konstante snoeiwerk en spesifieke sorg. Roosbome kan egter baie taai wees.
Hulle sal oorleef sonder al daardie gespesialiseerde aandag, maar die dorings word dan meer en die rose minder, pestilensies neem oor en die roos se vorm word onaantreklik. Snoei ’n ervare rooskweker dit egter, kan die rose elke jaar meer en mooier wees.
Roosbome het die vermoë om bo die res van ons uit te styg weens die sterk dryf en kompetisiegees waaraan hulle geken word. Rose het ongelukkig ook dorings (tensy dit kunsmatig weggekweek is), en dit voorspel dat roosboompies nie die maklikste boompies is om te buig nie.
Hulle moet met handskoene hanteer word, en die dorings gaan nie met volwassenheid weg nie, hoor!
Ontmoet vir Dorette, die klassieke roosboompie
Dorette is saam met haar ouers in ’n restaurant. Sy het so pas vier geword, en hulle besef die uitstappie was ’n groot risiko. Sy het nou net haar mes en vurk op die vloer gesmyt omdat dit nie Winnie the Pooh-karakters op het nie. Dit was die tweede uitbarsting van die aand.
Die eerste was toe sy in haar karstoeltjie vasgegespe moes word. Dit is elke dag se storie. Sy kan daardie ruggie so hol maak dat dit makliker sou wees om ’n piesang reguit te buig as om haar in die stoeltjie te sit.
Toe sy skaars ’n jaar oud was, moes haar ma al elke drie minute in die truspieël nagaan of die klits nie dalk haarself losgegespe het nie. Sy kon kleintyd al verbasende dinge vir haar ouderdom doen!
’n Hele ruk voor die gevreesde tweede verjaardag het Dorette al haar kleintongetjie gereeld vir die wêreld gewys én die vloer kaalvuis aangeval wanneer sy enige van die volgende gesien het: ’n kam, ’n tandeborsel, ’n skoon doek, sjampoe, groente, ’n karstoeltjie, toe deur of haar boetie met enige een van haar speelgoed in die hand.
Nou is sy vier, maar verbeel haar sy is tien. Haar ouers mag reeds omtrent nie aan Dorette raak nie. Sy kan haar hare self was en kam, haarself met sonbrandroom smeer, self alle deure oop en toe sluit en natuurlik tot haar hipernetjiese ma se groot frustrasie self haar stroopbroodjies smeer.
Toe haar ma een oggend laat geslaap het, het Dorette besluit om in die mikrogolfoond vir die hele gesin pap te maak, aangesien sy verbied word om die stoof aan te skakel. Sy sal nooit vergeet hoe die vonke soos daardie Kersfeessterretjies om die kastrol gedans het nie. Dit was vir haar fantasties, maar haar ma word yskoud wanneer sy daardie oggend onthou.
Haar ma het een middag ontdek Dorette is kleuterskool toe sonder die nodige onderkleertjies. Nugter weet wat die seuntjies alles gesien het, want sy is juis so lief vir die hoogste klimrame! Dorette se verklaring was ’n ongeërgde: “Ek het besluit my boudjies wil ook sien wat aangaan by my skool.”
Hierdie selfaantrekkery was maar een manier om die oorverdowende “nee’s” en konstante masjiengeweerreën van “ek sal selfs” te probeer verminder.
Om met intakte geestesgesondheid deur haar kinderjare te kom, volg haar ouers die oorkoepelende strategie om gevegte tot die minimum te beperk. Hulle weer konflik af deur in te gee, mooi te praat en soveel keuses moontlik aan haar oor te laat.
Ongelukkig is sy nou ’n tiran, en die vriende wat kom kuier, word al hoe minder. In een kuier het Dorette soveel maatjies seergemaak dat drie pare ouers nooit weer kans gesien het om saam met hulle kroos te kom kuier nie.
Haar boetie se lewe word vir hom gereël. Hy is twee jaar ouer as sy maar word rondgestuur om teepotte vol water te maak vir haar en haar maatjies se teepartytjies, aangesê hoeveel happies boontjies hy moet eet voordat hy mag opstaan van die tafel af en kwaai in ’n onderwyseresstem aangejaag wanneer hy te stadig na haar sin is.
Sy kompeteer teen hom met alles. Wie is eerste by die kar? Wie kan die vinnigste eet? Wie kan ’n bal die verste gooi en dit die hoogste skop?
Dorette dink: Die wêreld sal soveel beter wees as almal net eens en vir altyd wil aanvaar dat ek die baas gaan wees. Ek gaan nie ophou voordat hulle bykom en die stand van sake aanvaar nie.
Ek dink ons is amper daar – net nog een of twee laaaang gille … net effens harder protesteer. My ma is in my agtersak en natuurlik Ouma en Oupa ook, ek werk nog net aan Pa …
(Dorette se pa kan maar net nie verstaan waar sulke vriendelike, vreedsame ouers so ’n klein donderstormpie vandaan gekry het nie. “Ek het nog nooit iets aan ’n ooievaar gedoen nie” is sy hulpelose verweer elke keer wanneer sy die dak lig.)
Haar ouers gaan vind sy sal dalk altyd wees soos ’n handgranaat waarvan die pennetjie reeds uitgetrek is – veral in haar tienerjare – maar hulle gaan ook keer op keer verstom staan oor alles wat sy uit haar eie gaan bereik.
Sy gaan bes moontlik uitblink as ’n leier, passievol deelneem aan debatte en studentesake, en nie rus totdat sy eendag vir haarself werk nie. Sy gaan kort-kort met mense om haar bots omdat sy alles en almal onder haar duim wil hê, maar sy gaan groot droom, en haar drome self verwesenlik.
Sy gaan alles regkry waarop sy haar hart sit, want haar deusettingsvermoë maak van haar ’n wenner.
Dorette se toekomstige man moet maar solank sy nekspiere oefen, want sy sal graag haar troontjie op sy kop wil bou. Sal iemand asseblief vir haar kinders bid? Dorette sal sukkel om ’n huisvrou te wees, want sy sien ’n wonderlike, wye wêreld buite haar huis, wat wag vir haar om dit te kom verower.
Dorette gaan nie op haar oudag tuis sit en hekel nie – sy gaan tot met haar laaste asem voluit lewe. Sy gaan aktief en betrokke wees, en sal kort-kort haar kop skud oor wat die “oumensies” om haar aanvang, want met haar sal daar niks fout wees waarvan sy weet nie.
Hoe om die volwasse roosboom te herken
Mense sê …
Hoe gee en ervaar ’n roosboom liefde?
Die meeste roosbome is mos maar stekelrig, en so is die persoon met ’n roosboomtemperament nie die touchy-feely-tipe nie. Roosbome het gewoonlik nie baie behoefte aan drukkies en soentjies, voetvrywery en rugmasserings nie, maar eerder aan liefde wat op meer verbale maniere gekommunikeer word.
’n Roosboom heg groot waarde aan bewondering, erkenning, waardering en aanmoediging. Dit bring ’n mens dus baie verder om roosbome te prys vir sukses en goeie besluite. Sê eerder dat jy baie trots is op hulle en hulle as staatmakers beleef, want dit tel meer as rose en sjokolade, en baie meer as drukkies.
Lojaliteit is vir roosbome sinoniem met liefde. Hulle wil hulle vriende en lewensmaats onvoorwaardelik aan hulle kant hê. Die slegste ervaring vir ’n roosboom is om nie vertrou te word nie, daarom sal enige wantroue, verraad of ontrouheid ’n roosboom besonder ongeliefd laat voel.
Roosbome het ’n troontjie nodig om geliefd te voel en wil voel dat die ander pesoon hulle daarop gesit het. Maak die roosboom jou held.
Dit is die romantiese prentjie wat roosbome graag oor hulleself sien – hy wil die ridder op die wit perd wees, en sy wil die brawe prinses in die toring wees wat nie net passief gered word nie, maar saam met haar prins die draak verslaan.
Hoe lyk ’n roosboom se gevoelens en emosies?
Omdat roosbome hulle emosies beleef as die verlies van beheer oor hulleself, probeer hulle gewoonlik hulle emosies onderdruk of minstens verbloem. Roosbome se grootste uitdaging rondom emosies is die beheer oor woede.
Roosbome se woede is hulle swak punt. Hulle reaksies is vinnig en langdurig, wat beteken dat hulle vinnig kan kwaad word en dan lank kwaad bly. Roosbome is al beskryf as bomme waarvan die lonte reeds brand. Kom ons noem hulle maar plofbaar.
Roosbome is nie bekend vir hoë emosionele intelligensie nie. Hulle het maar beperkte insig in hulle eie emosies en dié van ander mense. Hulle leer ook nie met die jare veel by nie, omdat hulle wye draaie om emosionele onderwerpe en situasies loop en voel dat emosies elke mens se eie saak is.
Ongelukkig trap roosbome dus op mense se emosies omdat hulle nie daarop ingestel is om emosies te lees en te hanteer nie.