[Liefdesuitdaging 5] Maak daagliks tyd om saam te bid

Die grootste wonderwerke gebeur in huwelike waar ’n man en vrou saam bid tot God. Daar kom ’n nuwe eenheid – nie net voor God nie, maar ook voor mekaar. Gebed en dienaarskap voor God bring ’n nederigheid tuis by ’n mens, en ’n diepe besef van ons eie feilbaarheid – twee dinge wat so nodig is in ’n gesonde huwelik.

Gebed is ’n emosionele ding. Dis ’n oomblik waar jy jou hart moet oopmaak en deel. En dis juis hiér waar mans dikwels wegskram. Die eerste tree na gesamentlike gebed, begin daarom buite die slaapkamer. Daar waar jy en jou man ’n veilige konneksie het om sommer te praat oor dinge van die dag en hoe julle voel.

As julle besluit om saam te bid, maar nog te skaam of blootgestel voel om hardop voor mekaar met God te praat, is die eerste stap om net saam langs mekaar te kniel sonder om hardop te bid. Sê jou “Amen” effens hoorbaar, maar wag totdat jou maat ook klaar is. Selfs al kry julle net dít reg, gebeur daar reeds iets wonderliks in die gees ten opsigte van julle huwelik.

Die volgende stap sal wees om steeds saam te kniel en saggies te bid, maar om na die tyd vir mekaar te vertel waaroor julle met God gepraat het. Wanneer jy sover gaan om vir jou maat te vertel waarvoor jy gebid het rondom julle verhouding of sy/haar lewe spesifiek, groei en verbeter die vrymoedigheid tussen julle.

Die laaste stap sal natuurlik wees waar jy vir jou maat vra of jy hardop saam met hom of haar kan bid. Jy sal nie glo wat dit vir julle verhouding gaan beteken as julle hierby uitgekom het nie.

As ons werklik besef het hoe maklik dit is om ons hart oop te maak voor God, sou ons dit meer gedoen het. In sy Troonkamer veroordeel Hy ons nie. Hy is nie te besig vir ons alledaagse versoeke en hartsake nie.

Ons kan onsself wees – ons hoef nie onder ’n skuilnaam te bid en ons worstelinge weg te steek nie. Ons hoef nie net die heilige en mooi dinge vir Hom te sê nie. Hy ken ons in elk geval die beste. As ons eers besef hoeveel vrede en berusting ons kan vind by gesprekke met God, sal ons dit elke dag en bo alles wil doen.

Liefdesuitdaging vir jou en vir hom:

Maak saam met jou maat ’n lysie van die dinge waarmee God julle al gehelp het, waar Hy julle beskerm het en waar julle sy hand kon sien in julle lewe. Dit kan iets wees waarmee Hy julle baie jare gelede in julle huwelik gehelp het of wat julle beleef het.

Maak nog ’n lysie van dinge waarvoor julle God vertrou en antwoorde op benodig – selfs die dinge wat nog in die toekoms is, soos goeie lewensmaats vir julle kinders, gesondheid wanneer julle oud is, of wysheid vir môre se vergadering.

Kyk of julle ’n belofte oor hierdie dinge in die Woord kan vind, en skryf dit neer. Bid saam deur die lysie. Sien met verwagting uit na ’n klomp nuwe geestelike hoogtepunte in julle lewe.