Kweek dankbaarheid

Kyk nou die video: “Skep gewoontes en roetines”.

Daar is ’n verband tussen dankbaarheid en geluk. Martin Luther het dankbaarheid as ’n basiese Christelike ingesteldheid beskou. Wanneer ons dankbaar is, dink ons gewoonlik aan die hede. Ons hou ons oë op dit wat nou om ons aan die gang is en kyk minder na die toekoms om te wonder of angstig te raak oor dit wat kom.

Langtermynstudies oor die effek van dankbaarheid in kinders het bewys dat hulle

  • beter slaap
  • gesonder is, want hulle het sterker immuunstelsels
  • meer optimisties en vol lewe is
  • meer empaties is en meer deernis het
  • beter aandag kan behou en daarom akademies beter vaar
  • minder angstig en depressief is

as kinders met minder doelbewuste dankbaarheid in hulle lewe.

Studies oor kinders van 11 tot 13 jaar oud wat dankbaarheidsgewoontes ontwikkel het en wat vergelyk is met hulle maats wat minder dankbaar is, het getoon hulle is gelukkiger, het meer maats, is meer optimisties, en meer tevrede met hulle skool, familie, gemeenskap en hulself. Hulle verleen ook meer geredelik hulp aan ander. Dankbare tieners (14 tot 19 jaar) gebruik hul gawes tot voordeel van die gemeenskap, is meer betrokke en gemotiveerd met hul skoolwerk, doen akademies beter en is minder materialisties.

Wanneer jy dankbaarheidsgewoontes aanleer, verander jou brein. Die beloningsisteem in jou brein word geaktiveer en dit reguleer die stresrespons. Breinwetenskaplikes bewys verder dat daar ’n verskil is in die brein van ’n mens wat dankbaarheidsgewoontes het in teenstelling met dié wat dit nie het nie. Die areas in die brein wat met besluitneming en leer geassosieer word, is meer sensitief in mense wat dankbaarheid deel maak van hulle dag. Dit beteken dat dankbaarheidsgevoelens en denke later vanself kom en dat dié mense se welstand dienooreenkomstig verbeter.

Dankbaarheid is  ’n gewoonte wat jy in jou huis moet kweek Soos met enige gewoonte wat aangeleer word, is dit die beste as jy dit doelgerig en gereeld doen.

Kinders leer baie meer deur dit wat hulle sien ons doen, as deur dit wat ons vir hulle sê om te doen. Waak daarteen om jou kinders gereeld daaraan te herinner om dankbaar te wees. In plaas van om te sê dat hulle dankbaar moet wees, wys vir hulle hoe jy daagliks vanuit dankbaarheid lewe. Deel jou dankbaarheidsgewoontes met hulle.

Kweek dankbaarheidsgewoontes binne jou huis

  • As die kinders klein is, kan ons vir hulle vra: “Wat was die lekkerste ding wat jy vandag gedoen het?” Deur hierdie vraag te moet beantwoord, sal jou kleuter ’n verband begin sien tussen dit wat lekker is en waarvoor hulle dankbaar kan wees. Dit begin ’n gesprek wat later ’n instelling of gewoonte kan word.
  • Gebruik aandetes om te gesels oor dinge waarvoor ons dankbaar is.
  • Maak ’n dankie-sê-hoekie in die huis. Knip driehoeke uit, skryf daarop waarvoor julle dankbaar is en plak dit op of hang dit soos vlagversierings van die mure of die dak af.
  • Maak ’n dankbaarheidsboom waaraan jy dankbaarheidsnotas kan hang.
  • Hou ’n “kla-vrye” dag.
  • Maak ’n dankbaarheidshouer met vrae in soos “redes hoekom ek van Mamma hou”, “’n keer toe Pappa my laat lag het”. Skryf die antwoorde agterop neer en gooi dit in die houer.
  • Gebruik albasters, sê waarvoor jy dankbaar is en gooi dit in ’n houer. Dit is bevredigend om te sien hoe vol die bottel word.

Kweek dankbaarheidsgewoontes buite die huis

  • Dankbaarheidsgewoontes moet ook buite die grense van ons huis wys en beoefen word
  • Help jou kind om sy passie, sy sterk, unieke eienskappe te ontdek en dit aan te wend om ander te help.
  • As ons deel word van iets buite die huis, iets in die groter gemeenskap en ’n verskil daar maak, kweek ons nie net empatie nie maar ook ’n dankbaarheidsingesteldheid wat nie net by dankbaarheid (die emosie) bly nie, maar wat oorgaan in aksie.