Jou kind se sensoriese temperament

Het jy geweet hoe keiserpikkewyne hulle kleintjies vind in die chaos van die pikkewynkolonie? Hulle luister vir die duidelike en individuele geluide van hul eie baba. Dit is hoogs waarskynlik moeilik as daar honderde ander babapikkewyne is wat ook honger is en na hul ouers roep. Jy stem waarskynlik saam dat jy jou kind se huil en gegiggel maklik kan uitken tussen ander babas in die hospitaal, en ander kinders in die parkie en op die strand. Maar dit is egter meer as net ons kinders se stemme wat ons moet kan uitken.

Kinders wys deur hulle gedrag hoe hulle bedraad is. In wat hulle sê, wat hulle doen en hoe hulle op ander mense en in verskillende omgewings reageer, wys hulle vir ons hul unieke temperament. En as ons ons kinders se unieke temperamente verstaan, kan ons sterk verhoudings met hulle vorm. Die emosionele band wat ons met ons kinders het, word attachment genoem.

Dr. Lawrence Cohen gebruik ’n mooi metafoor om die band wat ons met ons kinders het, te verduidelik. Jy as ouer is jou kind se reservoir. Jy maak jou kind se beker vol deur hom te koester, te vertroos en te versorg. As jou kind se beker vol is, kan hy uitgaan en die wêreld gaan verken. Hy gaan groei, ontwikkel en ontdek. Maar op dié ontdekkingstogte is kinders gewoonlik honger, moeg, alleen en kry hulle somtyds seer. Dan moet hulle kan terugkom na die reservoir, na jou as ouer toe, om weer gevul te word – met liefde, koestering en vertroosting.

Kinders wat ’n sterk band met hul ouers het, kan hul emosies hanteer, aandag gee, goeie verhoudings met hul maats hê en spanning hanteer. Ons noem dit ’n secure attachment. Aan die ander kant is kinders wat nie ’n sterk band met hulle ouers het nie, oor die algemeen angstig, klouerig, teruggetrokke of afsydig. Ons noem dit ’n insecure attachment. Natuurlik gaan kinders wat ’n sterk band met hulle ouers het, nie altyd gelukkig, oulik en goed gemanierd wees en nooit ’n ineenstorting hê nie. Dit is beslis nie waaroor dit gaan nie. Wat ’n sterk band onderskei van een wat nie so sterk is nie, is die feit dat kinders namate hulle ouer word net aan jou as ouer hoef te dink om hulle emosionele beker vol te maak. Hulle hoef jou nie meer te sien of na jou toe te kom vir vertroosting of regulering nie, hulle kan dit sommer self doen. As ons band met ons kinders sterk is, sal hulle bekers oorloop. Hulle sal veilig en geliefd voel. En dit is daardie gevoel wat hulle sal bybly vir die res van hulle lewe!

Daar is ’n aantal faktore wat die binding tussen ouers en kinders kan beïnvloed. Een daarvan is sensoriese temperament. Ons is elkeen met ’n unieke temperament geskape. Die realiteit is dat dit soms skommelings en uitdagings in verhoudings veroorsaak. Dit gebeur veral wanneer die ander persoon in die verhouding se temperament heeltemal van ons s’n verskil. Jou kind is met ’n unieke temperament geskep. Party kinders is sosiaal, op en wakker en aan die gang; ander is rustig, bedaard en aanpasbaar; terwyl nog ander sensitief, opmerksaam en beleefd is.

Temperament beskryf jou kind se unieke geaardheid – die manier waarop hy of sy die wêreld ervaar en daarop reageer. Dit beïnvloed sy gedrag en omgang met ander. Kinders verskil. Kinders wat dieselfde ma en pa het en in dieselfde huis grootword, verskil van mekaar. Kinders is uniek bedraad en daarom sal hulle verskillend optree – al stel ons hulle bloot aan dieselfde omgewing, speletjies en interaksies. Wat jou kind doen en wat hy sê, is die sleutel tot sy unieke temperament.

As jy jou kind se temperament verstaan, sal jy ook verstaan hoekom hy optree soos hy optree. Jou kind se temperament bepaal die manier waarop hy reageer op dit wat hy elke dag hoor, sien, ruik, voel en beleef. Elke interaksie, elke omgewing, elke ding wat ons doen, stuur inligting van ons sintuie na ons brein. Die brein verwerk dan die inligting, en so kan ons sin maak van ons wêreld.