Die geur van blomme begin al minder raak. Dit is die son wat die geur van die blomtuin wakker maak, maar die blomkoppies begin nou sak. My rug is steeds teen Pietertjie se boom…
Nadat die rotse my vingers begin brand het, het ek besluit om onder die hartseer kokerboom te sit. In die draderige skadu onder die kokerboom se unieke silhoeët, die regop takke, die yl kroon … Hier sit my stukkende menswees. Onder die kokerboom se droom.
Ek weet nie presies hoe lank ek hier sit en huil nie. Die nag begin al wag om uit te kom. Ek loop stadig op na my motor en kies die pad na my en Jess se huisie. Dalk kan ek ’n goeie nagrus inkry en bietjie vergeet om te onthou.
Ek ry verby Ma en Pa se huis. Die huis staan verlate. Selfs die windpomp staan stil. Die leë gebou het nou in ’n huis vol onheilighede ontaard. Dit was seker nog altyd ’n huis van euwels nog voordat die tikkoppe ingetrek het.
Die euwel van drank. Die reuk, skerp en bitter. Kwetsend en brandend saam met die
bitterhoutreuk van Ma en Myner se woede in die lug. Ná al die jare nooi die huis steeds mense in om haar verder te befomfaai – te bemors met stukkende mense wat kwaad is vir die lewe.
Almal was kwaad vir die lewe. Ma was kwaad vir Pa se dood. Vir die mans wat sy elke tweede aand van die karaoke-bar afgebring het. En vir Myner en sy Pietertjie.
Myner was kwaad vir Ma se erfgeld wat nooit wou uitbetaal nie. Hy was kwaad vir my omdat ek glo altyd die rusiemaker tussen hulle twee was. En ek? Ek was kwaad vir almal wat altyd kwaad was.
Pietertjie? Wel, hy was ook kwaad, alhoewel hy nooit regtig bewus was van die mense om hom nie … oftewel, dis hoe dit vir my gelyk het. Maar die stemming in die huis het hom ontstel.
Gister bly in my kop rondhol en die onthou maak my siek. Ek onthou die dag toe Pietertjie sy seer teen die eetkamertafel gekap het. Ma en Myner het mekaar hartstogtelik voor die wasbak in die kombuis gevry.
Die bitter reuk van sweet het my geklap soos ek verby Ma en Myner se kamer loop. Pietertjie het langs die eetkamertafel gesit en sy kop aanhoudend teen die tafel gekap. Sy kop was al stukkend. Die bloed het teen die tafel gesmeer.
Ag, vader, help my, het ek gedink terwyl ek die pap in sy bakkie in ’n ander bakkie oorgeskep het. “Wat doen jy, Helena?” het Ma gevra terwyl sy steeds in Myner se arms was.
Die klos hare onder sy arms het my laat gril. Ek was nie meer honger nie.
“Ma weet Pietertjie eet net uit sy eie bakkie,” het ek verduidelik terwyl ek sy bakkie voor hom neergesit het. Pietertjie se maer armpie het opgelig om die lepel te vat, maar voordat die lepel die pap kon bereik, het Ma sy bakkie gegryp en dit op die grond stukkend gegooi.
“Dis nou genoeg! Hy eet uit wat ook al ek vir hom gee om uit te eet!” het Ma geskree.
Pietertjie het sy vingers geskud, sy arms in die lug gewaai en sy mond oopgemaak om te skree, maar geen geluid het by sy mond uitgekom nie.
Ek het asemgehaal, gebuk en probeer om die gebreekte stukke op te tel – die gebreekte stukke van daardie lewe wou nooit weer inmekaar pas nie. My realiteit was fiksie – realiteit was inderdaad vreemder as fiksie.
Ek het besef dat ek en Pietertjie op ons eie was. Ek was Pietertjie se huis, sy troos. Ma se hart was koud. Sy was lank nie meer my huis nie. “Sy juffrou sê hy is outisties,” het ek dit gewaag.
Die gebreekte porselein het my vingers gesny, maar ek het dit nie gevoel nie. Ek het net die rooi op my hande gesien … die rooi op die kombuistafel … my eie bloedgemoed wat amper leeggebloei was.
“Julle is monsters!” het ek geskree. Pietertjie het onder die tafel gaan sit en wieg … en wieg.
“Helena, die kind is mal. Kan jy dit nie sien nie?” het Ma gevra. “Al wat ek sien, is ’n mal vrou. Ek wonder elke dag wat Pa sou sê,” het ek geantwoord.
Ek het na Pietertjie onder die tafel gewys. “Hy is siek en julle maak hom nog sieker!” Myner het net by die venster staan en uitkyk. Hy het niks gesê nie. Ma het begin huil. “Kom Boeta, ons gaan laat wees vir skool.”
Met Pietertjie se maer lyfie agter op my fiets, het ons op die grondpad af skool toe gery. Sy tingerige armpies het my middellyf styf vasgehou. Vir ’n oomblik het dit gevoel of hy my ’n drukkie gee.
“Was dit ’n drukkie?” het ek verbaas gevra en omgekyk in sy glimlag – seker die vreemdste glimlag wat ek al ooit gesien het, maar dit was great! Sy juffrou het vir my verduidelik dat kinders soos hy nie drukkies gee nie.
Op daardie dag het sy lang-maer-arms-drukkie en dankbare glimlag my sommer krag gegee.
Ek het die stofpad uit die dorp gevat en besluit dat ek en Pietertjie nie vandag skool toe gaan nie. Ons gaan bietjie veldvat.
Dit is goed vir die oë om die son te sien. Die Bybel sê self so. In daardie dae het Oupa se Bybelwoorde nog steekplek in my kop gehad, vandag voel Oupa se Bybelwoorde dood.
Pietertjie was ook lief vir die natuur. Dis die wandel in die woud van lig … dis hierdie dorsland se blomgesig en die blouste hemelblou wat my omvou en troos. Ek wou vir hom gaan wys waar ek my rustigheid vind.
Die veld is my huis. Die veld kry ook swaar. Die boere hou wag oor die wolkies terwyl die skape honger kla. Die wit ooi soek haar lammetjie wat die stryd teen die droogte verloor het.
Om te vergaan, bly die grootste kans van ons bestaan. Die wete dat ek kan doodgaan, laat my lewendig voel. Ek wou hierdie gevoel van lewe met Pietertjie deel. “Ou Boeta, ek en jy verstaan mekaar,” het ek gesê terwyl die wind deur ons hare gewaai het.
Hy het my stywer vasgehou. Ewe skielik het ek soos ’n moederhen gevoel. Ek wou daardie seuntjie net onder my vlerk hou. Ons het tot teen ’n doringdraad gery. Heel onder in die draad was ’n gat.
“Ek en Danie kom altyd hiernatoe. Ons weet sy ma sal ons nooit hier kom soek nie,” het ek vir Pietertjie gesê. Ek het die fiets net daar gelos.
“Vandag gaan ons in die veld speel. Ek dink ons het genoeg gehad van grootmense en hulle stront. En as ek meneer Nel se onbenullige tienpunttoets weer moet skryf, gaan hierdie dag heeltemal opgemors wees,” het ek vir Pietertjie gesê wat half onseker na my gekyk het terwyl ek die gat in die draad groter getrek het.
“Toe, kom nou. Klim deur,” het ek vir hom na die gat beduie. Pietertjie het versigtig deurgeklim en na die kleurvolle vlaktes voor hom gestaar. “Hou bietjie oop vir my,” het ek gevra en deurgeklim.
Pietertjie het weer vir my geglimlag. Ek het gewonder hoe dit sou klink as hy kon lag. “Jy het
’n baie mooi glimlag,” het ek gesê. Hy het skaam afgekyk. Ons het die voetpaadjie tot teen die koppie opgeloop.
“Daarsy, ons gaan net hier sit,” het ek gesê en my rugsak uitgehaal. “Ek het vir jou iets saamgebring,” het ek gesê en vir hom die boksie inkleurpotlode en tekenboek gewys. Hy het gretig daarna gegryp en begin teken.
“Jy weet, my oupa het vir my vertel dat die mense wat hier kom vakansie hou, net hiernatoe kom vir die blomme. Hulle vergeet heeltemal van die diere,” het ek begin vertel. Pietertjie het gefrons.
“Het jy geweet Namakwaland is die tuiste van die wêreld se kleinste skilpadjie, die Namakwalandse spikkel-padloper?” Pietertjie het net sy koppie geskud. “Ja, min mense weet dit. My oupa het my baie goed vertel wat min mense weet,” het ek voortgegaan.
Ek het met my vingers in die los sand gekrap. Die vygies agter my rug het wollerig gevoel.
Ek het ’n vetterige blaartjie gepluk en die harige tekstuur saggies teen Pietertjie se armpie gevryf. Hy het gegril. Ek het gelag.
“My Oupa was baie lief vir die plante van Namakwaland. Veral die vygies. Hy het altyd gesê hy is ’n vygie,” het ek nog vertel. Pietertjie het weer gefrons. “Jy weet … omdat hy nes ’n vygie in hierdie harde wêreld moes leer oorleef,” het ek verduidelik.
Hy het met sy vingertjie na my en dan na homself gewys. “Ek en jy?” het ek gevra. Toe wys hy na die klomp volstruisvygies langs ons. “Ja, dan is ek en jy seker ook vygies. Jy is slim, nè?” het ek vir hom gesê.
Hy het nie reageer nie. Net aangehou om ’n kokerboom te teken. “Ek kan sien jy hou baie van kokerbome? Is hulle vir jou mooi?” het ek gevra. Sy ogies het geblink. Hy het opgekyk na die wolke. Ek het gesug en teruggestaar na die dorpie agter ons.
Toe bewonder ek weer die oranje eiland van blomme voor my. “Ek wonder hoe die ewigheid moet voel? Ek is baie lief vir Danie. Hy wil vir ewig by my bly. Ek hoop regtig dat dinge vir altyd so tussen my en hom sal wees. Hy maak my regtig gelukkig,” het ek gesê.
Pietertjie het steeds nie reageer nie. Hy was vasgevang in die geel en groen van sy prentjie.
“Wil jy ’n bietjie water hê?” het ek gevra en die waterbottel na hom uitgehou. Hy het die bottel gevat en dorstig gedrink. Hy het gedrink dat sy adamsappel sommer so op en af gehop het.
“Jy weet, Pietertjie, moederaarde moet seker vreeslik beneuk voel. Sy gee so baie vir ons. En ons? Al wat ons teruggee, is ons dooie liggame se bene,” het ek vir hom gesê. Ek het vir ’n oomblik gedink terwyl ek na die delwery gestaar het.
“Die delwers sny haar maag oop en haal al haar ingewande uit – sif dit, smelt dit. Dan maak hulle mensgoeters, leefgoeters en hanggoeters vir vrouens om mooier te lyk,” het ek gesê.
Pietertjie het vir ’n oomblik ophou teken en saam met my na die vlaktes gestaar.
“Oupa het gesê die blomme is vir hom mooi, maar ’n mens moenie te gewoond daaraan raak nie, want die blommeprag is van korte duur. As moederaarde haar bontkopdoek afhaal, is hierdie wêreld maar dor. Die blomme se soet reuk verdwyn en al wat jy ruik is souterige dassiepis en die warm fynbosasem wat sy droogmond blaas,” klink ek vir ’n oomblik nes Oupa.
Dit was ’n mooi dag. ’n Rustige dag. Ons kon saam sit en dink aan die ewigheid … aan moederaarde. Pietertjie het die mooiste prentjies geteken en ek die mooiste drome gedroom.
Met tye het dit gevoel of ek met myself praat, vir myself vrae vra en wragtig daardie vrae self beantwoord. Maar Pietertjie het geluister. Hy luister altyd, selfs wanneer hy nie moet nie.
Pietertjie moes ons eerder gekeer het, dalk met een van sy woedebuie. Ons moes maar eerder skool toe gegaan het. By die huis het ’n lang Myner sonder ’n hemp vir ons gewag. Hy het sy belt net daar in die driveway uitgeruk en vir Pietertjie begin neuk.
“Nee, stop dit, dis my skuld!” het ek geskree. Die trane in my eie stem gehoor. “Stop dit! Ek is so jammer!” het ek bly pleit. Die maer lyfie het geruk totdat hy net gekrul bly lê het. Ek was volgende. Ma het my aan die arm gegryp en aan Myner oorhandig.
Dit was die eerste keer wat ’n man sy belt vir my gelig het. My eie pa het my nooit so gewetter nie. Die hale was oor my bo-bene tot op my laerug. Ma het net gestaan en kyk. Nie ’n oog geknip nie. Net gekyk.
“Waar was julle? Meneer Nel het ’n brood kom koop by die winkel en gevra of jy siek is. Jy moes glo vandag ’n toets geskryf het?” vra Ma. “Ek is jammer. Dis als my skuld. Ek was nie lus vir skool nie,” het ek aanhou pleit.
“Ek is jammer, Boeta,” het ek bly sê terwyl ek later die aand die hale oor sy lyfie met Prep gesmeer het. Nooit weer het ek vir Pietertjie in skooltyd veld toe gevat nie.
Nadat ek daardie aand seer en leeg gehuil uit die bad geklim het, het Pietertjie se prentjie op my kussing gelê. ’n Groot kokerboom met geel blomme en ’n blomkoolwolk in die hemele.
Onderaan het hy geskryf: Dankie vir die lekker dag.
My hart was so seer dat Myner hom so geslaan het. Ná daardie dag het daar elke aand ’n prentjie op my kopkussing gelê. Later was ek so gewoond daaraan. Ek het die prentjie net in my bedkassie se laaitjie gedruk en gaan slaap.
Ek moes mooier na sy laaste prentjie gekyk het – die klein seuntjie op die blomkoolwolk …
die kokerboom met die lint wat in die wind waai. As ek net gekyk het! Ek wou eerder Danie se liefdesbrief oor en oor lees. Ek is so jammer, Pietertjie.
Ma en Myner se huis het soveel gisters wat ek nooit, ooit wil oorhê nie. Hulle het so tien jaar terug Wellington toe getrek. Myner het glo daar werk gekry nadat baie mense by De Beers afgedank is.
Ouma is ook nou aan die anderkant. Klaskat en Herman het so agt jaar terug Stellenbosch toe getrek – glo om nader aan hulle kleinkinders te wees. Danie se kinders … Danie se vrou … Danie se luukse lewe.
Alles het glo vir Danie uitgewerk. Wel, so sê die koerante oor die bekende besigheidsman. Ek is bly vir hom. Die vloek het hom uitgelos. Ék het hom uitgelos. Hom meer gegun as wat ek ooit myself gegun het.
Maar Jess verdien wragtig beter. Ek verlang vandag na Pietertjie … na Danie … na drome wat nooit waar geword het nie. My gedagtes maak hulleself weer los van die ver verlede –
van Pietertjie se kokerboom, Oupa se woorde, Ma en Myner se mislike gesigte, en van Danie.
Die ongeteerde pad na my en Jess se huisie is donker. ’n Swart kat se oë blink voor my motor. Die huis is donker en stil. Ouma en Oupa se twee hopies sand is weg. Ek het dalk te diep gedroom. Alles het so vinnig gebeur.
Die oopgebreekte deur … Jess se slap arm wat by die bed afhang … die een kant van haar gesig wat pap gelê is … sy wat nie reageer nie … haar vlak asemhaling. Ek het my kind gesleepdra tot by die motor en hospitaal toe gejaag.
Wanneer jou kind haar wil verloor om te leef, keer dit jou bestaan heeltemal om. Sy was nooit eers ’n depressielyer nie. Ek verstaan nie!
Ek skop my skoene uit, val neer op die bank in die donker huis. Vlooi se konkoksie staan op die mikrogolf. Ek lig my lyf weer op. Maak die botteltjie versigtig oop. Die kruie-reuk is sterk. Ek sluk en sluk. Dassiepisklonte of te nie, ek vat nog ’n groot sluk.
My lyf val weer neer op die bank. Die blink lap vir Jess se matriekafskeidrok lê op die eetkamertafel. Sy het dan soveel om na uit te sien. Ek het nog geld by auntie Koekie geleen om die blink lap te koop.
In die veld van herinnering sien ek weer Danie se gesig. Ek wens ek kon hom uit my kop kry.
“Meisiekind, sal jy saam met my matriekafskeid toe kom?” het hy gevra. “Maar hoe?” het ek gevra.
“Dewald se meisie bly mos ook hier in Namakwaland. Haar ouers gaan haar deurbring. Ek het klaar gevra of jy saam met hulle kan ry.” Die opgewondenheid het in Danie se oë geblink.
“Maar wat gaan ek aantrek?” het ek gevra. “Moenie worry nie, watch net,” het Danie met die bekende tergende kyk in sy oë gesê. “Ons gaan dans tot die son opkom,” het Danie gesê, my nadergetrek en met my begin dans.
Die aand van die matriekafskeid was ’n beeldskone onbekende êrens. Die Kaap se berge was
’n anderste groen. Die mense het hoog gepraat. Die eenvoud waaraan ek gewoond was, het in spoggerige motors, Engelse aksente, blink rokke en haastige mense verdrink. Ek het in my onsekerheid verdrink. Dit was te veel.
“Maak toe jou oë,” het Danie se niggie in die koshuiskamer gesê. Ek het my oë geknip. Ek was mos nie gewoond aan make-up nie. “Dra jy nooit grimering nie?” het Danie se mooi niggie gevra. Danie het haar gevra om my hare en grimering te doen.
Ek het nog nooit so mooi gevoel soos daardie aand nie. “Daarsy, die mooiste blom van Namakwaland,” het sy met ’n glimlag vir my gesê. Ek het skaam gekry. “Nou toe, ek gaan vir ons tee maak. Danie gaan jou amper kom optel.”
Ek kon nie ophou om vir myself in die spieël te kyk nie. Ek was mooier as Helena van Namakwaland. Die lang swart motor het voor die koshuis gestop. Ek het deur die venster gekyk. Danie het baie netjies gelyk.
My hart het in my keel geklop. My handpalms het gesweet. Danie het my nog nooit so gesien nie. Ek het gehoop hy hou daarvan. Ek het versigtig by die trappe afgeloop. Danie het onder gestaan en met verwondering opgekyk na my. Geen man het ooit weer so na my gekyk nie.
Drie maande later het Danie ook opgehou kyk na my. Dit was ’n bitter tyd, maar Jess … Jess het dit alles die moeite werd gemaak. Jessica moet gaan leer. Jess moet haar droom volg. Jess mag nie haar tyd, haar lewe, op liefde mors nie.
Ek sukkel om te slaap. Iemand neurie toonloos buite die sitkamervenster terwyl ek en my verwyte op die bank lê en baklei. Die kruiemengsel stoot op in my keel. Ek raak yskoud, maar waag dit tog om te kyk wie so buite die venster neurie. Iets boosaardigs hang in die lug.
“Pietertjie?” vra ek bang. Die maer lyfie draai om. Hy vee die dun haartjies uit sy ogies. Sy ogies lyk anders. Dis nie die hartseer ogies wat ek onthou nie. “Helena, ek bring vir jou ’n boodskap,” sê hy. Sy stem, kinderlike onskuld.
“Jy kan praat!” roep ek uit. “Helena, ek het vir jou ’n boodskap,” sê hy weer. “’n Mens mag mos nie met spoke praat nie,” fluister ek. “Luister net, ek wil jou help,” sê hy. Ek skud my kop. Ek wil my kop wakker skud.
“Wat gebeur, is nie altyd wat ons verwag nie. Dinge werk selde uit soos ons dit wil hê. Maar as dit het, dan het ons nie ’n storie om te vertel nie. Maar jou storie het jou in ’n bitter en stukkende mens verander,” sê Pietertjie.
“Ék is nie die een wat haarself aan ’n boom opgehang het nie,” sê ek voor ek my kan keer.
“Nee, maar as jy nie vir Jess gehad het nie, sou jy,” sê Pietertjie. Ek kyk skuldig af en dan weer op na die maan. My kop sak versigtig tot my oë in Pietertjie s’n brand.
“Vir iemand wat nie kan praat nie, het jy nogal baie om te sê,” ek loop tot voor hom en lig my hand stadig op om aan hom te vat. My hand gaan regdeur sy lyf. “Dis als in my
verbeelding. Jy is nie regtig hier nie,” probeer ek. Ek voel effens waansinnig.
“Jy gaan jou lewe moet herbesin. Jy gaan moet verander ter wille van jou kind. Jou bitterheid maak haar bitter. Jou seer maak haar seer,” praat hy verder.
“Sê jy dis my skuld?” vra ek. “Blomme laat hulle geur na op die hand wat hulle gee … op die hand wat hulle gee,” eggo sy stem soos hy wegstap. “Kom terug!” skree ek. Hy hou net aan met loop, sonder om terug te kyk. Sonder om te verduidelik. Sonder om te groet.
“Wat is dit veronderstel om te beteken?” vra ek angstig en hardloop agter die spookbeeld aan.
Ek gryp na sy arm. Hy kyk my strak in die oë onder die maanlig. Dan verkrummel hy totdat hy nes Ouma en Oupa ’n hopie sand op die aardkors lê.
Ek sak op my knieë neer. “Kom net terug, asseblief man. Ek verstaan nie wat jy sê nie,”
smeek ek. ’n Druppel water val op my kop, dan nog ’n paar druppels. Die reën begin harder val.
Ek hardloop terug huis toe. Trek my nat klere uit en glip net met my onderklere onder die verekombers in. My kop steeds in ongeloof. My lyf yskoud geskrik. Maar die man in die maan troos my. Hy het tog alles gesien. Hý is my getuie.
Die bank se growwe tekstuur krap teen my kaal lyf. Ek draai die kombers soos ’n rok om my en probeer slaap, maar my kop wil nie slaap nie. Blomme? Die geure wat hulle agterlaat?
Geure? Die reuk wat ek op Jess agterlaat. Is dit dan ’n bitter reuk?
Bitter is ’n ongewaste lyf en ’n gebrande houtreuk. Ma het beslis haar bitter reuk aan my afgesmeer. Al het Klaskat altyd soos Badedas geruik, het haar luuksheid gestink.
Daar is altyd iets omtrent ’n bekende reuk wat ’n mens na ’n ander plek en tyd terugvat …
tye wat ek wil onthou, maar tye wat ek ook wil vergeet.
Lemon creams herinner my aan Ouma se kombuis. Maar dan het Ouma se kombuis ook soos spanspek geruik – so half benoud, maar onmiskenbaar met die belofte van iets lekker. Reuke maak beloftes – meestal leë beloftes.
Die reuk van die winterreën maak my wakker. Skerp en vars soos gesnyde gras en
suurlemoen. Gisteraand se gebeure voel soos ’n droom. Die oggendson glip deur die half toegetrekte gordyne. Ek draai op my ander sy.
’n Klop aan die voordeur forseer my om my swaar en swartgallige gemoed op te tel en
onwillig deur toe te loop. “Wie’s daar?” roep ek. “Dis ek. Maak oop!” hoor ek auntie Koekie se stem.
“Môre, Auntie,” sê ek toe ek die deur oopmaak. “Het jy gisteraand gedrink? Waar’s jou klere?” vra sy en staar na my, steeds met net die kombers om my lyf gedraai. “Nee,” is al wat ek sê. Auntie Koekie frons.
Dan wys sy af na die mandjie in haar arms. “Ek het vir jou tamaties gebring,” sê sy en forseer haar lyfie verby my die huis in. “Die huis is baie … ” probeer ek haar keer. “Goeie genade, kindjie, wanneer laas het die huis ’n skroplap en besem gesien?” vra sy.
Ek sug net. “Is jy seker jy het nie gedrink nie?” vra sy weer. “Nee, ek het nie,” sê ek. “Hoe laat gaan jy na Jess toe?” vra auntie Koekie. “Tienuur,” antwoord ek. Ek vryf my oë tot die slaap soos seesand in my oë krap.
“Jy moet volgende keer ’n bietjie saam met my boeremark toe kom,” sê sy. Nou verstaan ek haar strooihoed, bermudas en rustieke mandjie vol tamaties.
Ek sak neer op die bank en laat val my gesig moedeloos in my hande. Ek probeer steeds om Pietertjie se laaste woorde te verstaan. Auntie Koekie hou net aan met praat.
“’n Mens sukkel mos deesdae om sulke lekker groot tamaties met genoeg vleis te kry. Die tamaties by die supermark is taai van skil en suur van smaak. Hierdie tamaties sit my sommer in ’n goeie bui,” babbel sy voort.
Ek wens ek kon ook so opgewonde raak oor iets soos ’n tamatie. “En nou, kind?” vra sy terwyl ek steeds met my kop in my hande sit . “Niks, ek is net moeg,” antwoord ek. “Wat jy nodig het, is ’n auntie Koekie special,” sê sy ywerig.
Sy loop kombuis toe en pak haar mandjie uit. Dan neurie sy ’n vrolike deuntjie. Sy smeer ’n broodjie dubbelroom, sny ’n tamatie in dik skywe en gooi dan sout en varsgemaalde
swartpeper oor.
“Liewe genade! Hierdie tamatie is so groot, een skyf maak sommer die hele broodjie toe.
Wys jou … onder die regte hand groei een tamatie sommer maklik tot ’n bielie van ’n halwe kilo. Dís mos nou hoe ’n tamatie moet lyk en ruik,” gaan sy wragtig steeds aan oor ’n blerrie tamatie.
“Ek het dit!” roep ek uit toe auntie Koekie haar tamatie special op die tafeltjie voor my neersit. “Wat nou? Wat het jy?” vra auntie Koekie verbaas. Ek staan op en gaan sit op die dubbelbank langs haar. Ek vat haar hande in myne en begin daaraan ruik.
“Is dit hoe ’n tamatie wat onder die regte hand groei moet ruik?” vra ek doodernstig. “Ja … is jy oukei, Helena?” vra sy bekommerd. “Dit ruik soos somer. En, ja, ek is oukei,” sê ek terwyl ek aan auntie Koekie se hande ruik. Auntie Koekie kyk onseker na my.
“Die broodjie is baie lekker, dankie, Auntie,” sê ek en kyk na die reuse-skyf tamatie wat regtig die hele snytjie brood vol lê. Die saadkompartementjies herinner my aan die aartjies op ’n padkaart.
“Dankie, Auntie. Dit was nou ’n maaltyd,” sê ek. “Dis ’n groot plesier. Helena, jy is vreemd vandag?” sê-vra die auntie. “Ek wil nie meer soos ’n stink bielieblom of ’n riffelstam-pendoring ruik nie, Auntie. Daardie reuk smeer af op my kind,” sê ek.
“Helena, is jy op een of ander medikasie? Dat ’n geurige tamatie nou soveel insig in jou kan wakker maak is sowaar vreemd,” sê auntie Koekie. “Ek het gisteraand van Vlooi se dassiepisklonte-en-bossies-konkoksie gedrink,” antwoord ek. “Wees maar versigtig, jong,” sê auntie Koekie bekommerd.
Ons groet mekaar. Terwyl auntie Koekie met haar los bermudas, strooihoed en rustieke mandjie vol inspirasie die pad af loop, voel ek ’n vreemde dankbaarheid in my hart. Ek waai vir auntie Koekie en stoot die deur toe … loop terug in my agterkop na gister se huis.
Daar vind ek weer herinneringe. ’n Laai vol briewe. Die verlede se hartseer gees. Foto’s van Ma en Pa, Ouma en Oupa, en ’n gelukkige Kersfees. Heel onder is ’n groot bruin koevert vol van Pietertjie se prentjies.
Ek begin weer huil. Elke prentjie met die kenmerkende kokerboom in die agtergrond. Elke prentjie waar Pietertjie met blonde haartjies êrens staan, of sit, of lê, met die spraakborrel bo sy kop.
Hy hét gepraat! Nie in woorde nie, maar in sy prentjies. Ek was te besig. Te besig om sin te maak van die liefde. Te besig om Danie se lyf te geniet. Ek was daar vir Pietertjie, het vir hom kos gemaak, sy kleertjies gewas en hom selfs met huiswerk gehelp.
Die derde prentjie van bo ruk my binneste. Pietertjie lê op die naat van sy rug op die wolke.
Ver onder hom staan mense tussen bome en opkyk. In sy spraakborrel staan: “Nou is ek vry.” My trane val nat kolle op die prentjie.
Ek blaai tot by ’n prentjie van ’n meisie wat wasgoed ophang. Sy lyk hartseer. Sal dit dan nou ek wees, wonder ek. Die volgende prentjie is een waar dieselfde meisie in iets wat soos ’n tronk lyk sit en huil. Dit kan tog nie ek wees nie.
Ek krap al die prentjies uit en sit dit op my spieëlkas. Die boonste prentjie is vreemd en maak glad nie sin nie. Twee diamante wat in die sandveld langs mekaar lê – nes ’n paar duursame oorbelle. Dit herinner my nogal aan Klaskat se oorbelle …
Daar is bloedspatsels oor die hele tekening en in die agtergrond ’n man wat onderstebo lê.
Dis ook die enigste tekening met ’n titel. Ek sit my bril op en probeer die krapskrif lees. Al wat daar staan is: “Die bloedoorbelle.”
Sjoe! Ek wonder wat Pietertjie inspireer het om hierdie prentjie te teken. Aan die agterkant staan: “Vir Helena. Eendag sal die waarheid jou vrymaak.” Ek verstaan nie. Ek sal later weer kom kyk. Ek trek vinnig aan, gryp die kar se sleutels en ry hospitaal toe. Ek hoop my kind is wakker.
My gedagtes raas my kop deurmekaar. “Volgende is dit Kaleidoskoop,” praat die radioman in sy rustige stem. Die liedjie begin speel, maar breek kort-kort op. Ek kan nie regtig hoor wat die woorde is nie.
Ewe skielik kan ek die manstem duidelik hoor sing. “’n Bitter hart sal jou wurg aan die keel.
Sal jou vreugde steel. Jou lewensjare verdeel. Maar deur te vergeef laat jy ’n gevangene vry.
Net om later te besef die gevangene was jy.”
Ek raak yskoud. Dit wás ek onder die wasgoeddraad. Dit was ék in Pietertjie se getekende tronk.