HOOFSTUK 14

Die opgewondenheid gee my sommer hoendervleis. Raulene, Daisy en auntie Koekie het sommer al vroeg hier opgedaag en in my kombuis ingetrek. Raulene en auntie Koekie is al ’n ruk besig om hoenderbrijani te maak. Dis my kind se gunsteling.

Die opwindende geure wat uit die kombuis kom, maak my sommer honger. Daisy bly maar uit die kombuis. Sy en auntie Koekie bring net die lelik in mekaar uit. Ou Daisy het ’n welkom-terug- banner in die sitkamer opgehang.

“Ma, wat ruik soos masala?” vra my kind voor ons instap. “Surprise! Welkom terug!” juig die driemanskap. “Sjoe, dis mos nou ’n groot lekkerte,” groet Jess die drie vroue. Elkeen druk en soen.

“Wat prut so lekker daar in die kombuis?” vra my kind. Haar oë lyk sommer weer wakker en spontaan, maar tog merk ek die skadu’s onder haar oë op. Haar vel is bleek en haar hare vuil.

“Jou favourite, my kind,” sê auntie Koekie.

“Ek gaan gou vir jou ’n lekker bad water tap. ’n Mens kan mos nie lekker bad in die hospitaal met al die pypies en goeters in jou lyf nie,” sê ek en loop badkamer toe. “Dankie, Ma,” sê sy en gesels verder.

“Dis so lekker om regte kos te ruik,” sê Jess. “Jy is heeltemal te skraal. As die kraaie jou sien, gaan hulle vir jou wil vreet,” hoor ek Raulene se stem bo die badwater. “Dis mos hoe die magazines wil hê ’n mens moet lyk,” hoor ek die spot in Jess se stem.

“Nee, jy kan gerus meer eet,” sê Daisy. “Daisy, hou jou mond van Jess af. Sy’s pragtig so skraal. Jy’s net groen omdat jou boude so opgepof staan,” sê auntie Koekie. Die twee kan mekaar mos glad nie handle nie.

“Sus, jou water is reg!” roep ek vir Jess. “Ma weet daai twee kan nie saam in dieselfde vertrek wees nie,” giggel Jess toe sy verby my in die gang loop. “Maar hulle wou al twee graag vandag hier wees vir jou,” glimlag ek.

“Ek is so lief vir jou,” hou ek my kind styf vas. My hart krimp. Die emosies loop maar hoog in hierdie huis vandag. Jess glimlag die heeltyd, maar dis asof sy steeds teen iets binne-in haar baklei.

“Is die kos al amper reg?” vra ek vir auntie Koekie. “Jy’s ook maar bleek om die kiewe, drink jou tee,” sê auntie Koekie. My hande vou om die koppie tee, maar ek kan dit nie drink nie. Ek bly net in die bleek teewater staar.

Raulene is vreemd nadat ek haar nou die dag buite die hospitaal uitgevra het oor Klaskat se oorbelle. Sy kan my glad nie in die oë kyk nie. “Hoe wonderlik is dit om jou kind terug by die huis te hê. Ek is net te bly ons hou nie nou begrafnis nie,” sê Daisy.

“Asseblief tog, Daisy,” raas auntie Koekie. “Nee Auntie, Daisy is reg. Helena, Jess het ’n tweede kans gekry. Jy moet dit soos ’n tweede kans op die lewe sien en van die verlede vergeet,” sê Raulene.

“Ek weet dit, julle hoef dit nie vir my te sê nie. Julle is erger as daai aunties wat altyd pannekoek by die kermis verkoop. Wil net vir almal preek terwyl hulle pannekoek verbrand,” raak ek ewe skielik bitsig.

“Sjoe, iemand het vanoggend te veel crazy-pille gedrink,” hap Daisy. “Helena, ons bedoel dit net goed,” sê Raulene. “Ek is jammer, ek weet. En ek drink nie pille nie, Daisy,” kyk ek vir Daisy. “Los nou die kind,” raas auntie Koekie met Daisy en Raulene.

“Ek is verskriklik bly my kind is terug,” sê ek. “Lyk dan tog net bly!” sê Daisy. “Julle verstaan nie,” snik ek. “Help ons om te verstaan. Wat gaan alles deesdae in jou kop aan? Dit voel asof ons jou nie meer ken nie. Jy praat nie meer met ons nie. Die dorp is vol vreemde stories wat ons nie kan glo nie en jou oë is altyd dik gehuil,” sê Daisy.

“Het ek nie nou net vir julle gesê om Helena uit te los nie. Helena, as ek ook nou iets kan sê … ” sê auntie Koekie. “Aai, Auntie sê in elk geval altyd net wat Auntie wil sê,” val ek haar in die rede.

“Maar terwyl Jess nou in die bad is, wil ek net gou vir jou sê dat jy daai kind by die dominee moet uitkry. Sy is amper die ewigheid in en wie weet waarheen sy sou gaan. Jy weet hoe voel die Here oor mense wat hulle eie lewens wil neem,” preek my auntie.

“Asseblief, ek het nie nou krag hiervoor nie,” smeek ek. “Hulle gaan hel toe,” sê auntie Koekie. “Ag, almal gaan hel toe volgens Auntie,” baklei Daisy nou saam. “Ag, jy gaan sommer eerste hel toe,” hou auntie Koekie aan.

“So, het liefde nou ’n sonde geword?” vra Daisy. “Dit hang af watter soort liefde jy van praat,” hoor ek die selfversekering in auntie Koekie se stem. “Is dit dan regtig ’n sonde as ’n mens nie kan help vir wie jy lief raak nie?” hou Raulene ook nie meer haar mond nie.

“Partykeer wonder ek wat is sonde dan regtig,” sê ek en kyk vir al drie. “Julle versondig my!

As julle net julle Bybel lees en ’n slag in die kerk kom, sal julle weet wat is reg en verkeerd!” raas auntie Koekie.

“Stop dit net! Ons is nie hier om ons eie opinies te lug nie. Ons is hier vir Jess en Helena,” sê Raulene. “Halleluja!” roep Daisy met haar hande in die lug. “Verskoon my,” probeer ek ontsnap en loop na Jess toe.

“Kan Mamma inkom?” klop ek aan die badkamerdeur. “Ja, Mamma kan,” sê Jess. Sy lê steeds in die bad. Gooi dadelik die een waslap oor haar onderlyf en die ander een oor haar borste.

Sy was nooit so selfbewus nie. Seker nou maar nadat sy en Hano verbode vrugte geëet het dat my kind nie meer kaal voor my wil wees nie. Sy het nou vrou geword.

“Sjoe, die estrogeenvlakke in daai kombuis is hoog,” sê ek en gaan sit op die kant van die bad. “Is die water nog reg?” vra ek. “Dis heerlik, dankie, Mamma,” glimlag sy. “Gooi ’n bietjie van daai lavender in die bad, dan ruik jy darem nie meer soos hospitaal nie,” wys ek na die pers botteltjie langs die kraan. “Ek maak so, dankie, Mamma,” sê Jess.

“Ek is so lief vir jou,” sê ek en strek my hand onseker uit na Jess se handjie. “En ek vir Mamma,” sê sy. Daar swem ’n deernis in my kind se oë. “Alles gaan nou verander. Dit gaan beter word,” maak ek ’n belofte aan haar, maar ook aan myself.

“Dis goed om terug te wees,” glimlag sy. “Die kombuis is stil … dink jy hulle het mekaar vermoor?” grap ek. “Ma beter gaan kyk,” lag Jess.

Ek hoor ’n gefluister soos ek die gang af terug kombuis toe loop. “Wat skinder julle nou weer?” maak ek hulle skrik. “Ek het hulle net vertel van Danie wat gister by die winkel was,” sê auntie Koekie.

“Nee man, ’n mens skinder mos nie so van die dooies nie,” sê ek. “Hy’s mos nie dood nie,” sê Raulene. “Hy is dood. In my kop is hy morsdood,” sê ek.

“Daai man verdien die waarheid, Helena. Jy kan nie vir ewig iets so groot vir hom wegsteek nie,” sê Raulene. “Ja praat … praat is maklik. Jy steek ook goed weg. Jy weet meer as wat jy voorgee. Ek verdien ook die waarheid,” brand my oë in Raulene s’n.

“Ek moet my pappie dorp toe vat,” snik Raulene en gryp haar motor se sleutels. “Nee man, jou pappie kan bietjie wag. Eet eers saam met ons. Ons het mos nou rede om partytjie te hou.

Eers het ons gedog ons hou ’n funeral, nou hou ons ’n fees van die lewe. Jy kan nie nou ry nie,” sê auntie Koekie.

“Asseblief, bly,” vra ek. “Ek moet gaan,” sê Raulene koud en verdwyn by die voordeur uit.

“Ag vadertjie, Helena! Was dit nou nodig?” vra auntie Koekie. My hart voel swaar. Raulene is dan my hartsvriendin. Ek wil nie met haar baklei nie.

“Ek is jammer, Auntie,” sê ek en sak neer op die bank. “Daisy, maak jouself handig en kyk dat daai hoender nie brand nie,” sê auntie Koekie en sak langs my neer. “Die Vader in die hemel weet dat daar vandag so baie is om oor bly te wees, maar daar is so min blydskap in jou. Jy is blind, Helena,” sê my auntie.

“Ek is bly my kind is terug. Ek is bly sy lewe. Die Here weet ek is. Raulene het net gekrap waar sy nie moes nie,” sê ek. “Sy is ’n blêrrie ou mêrrie!” skree Daisy uit die kombuis. “Hou jou mond. Jy ken haar nie!” skree ek terug.

“Raulene was nog altyd goed vir my. Sy steek iets weg, Auntie. Sy kan my dan verdomp nie eers meer in die oë kyk nie,” sê ek vir auntie Koekie. “Dalk wil sy jou beskerm teen die waarheid, soos jy vir Jess teen die waarheid wil beskerm,” sê my auntie saggies.

“Dalk moet ek ook maar gaan. Julle is ’n regte klomp drama-queens,” sê Daisy en trek haar voorskoot uit. “Jy gaan nêrens,” sê ek vir Daisy. “Waar wil tannie Daisy nou gaan? Ons moet dan nog eet?” sê Jess toe sy die sitkamer binnekom.

“Nee, nêrens. Voel jy nou beter?” vra Daisy vir Jess. “Nou is ek net lekker honger,” sê Jess.

“Kom ons eet,” sê auntie Koekie en loop kombuis toe. “Waar is auntie Raulene?” vra Jess met ’n frons. “Sy moes haar pappie dorp toe vat,” sê auntie Koekie vinnig.

“Auntie verstaan nie hoe lus is ek vir daai kos nie,” sê Jess en trek ’n stoel uit. “Net vir jou, my kind,” sê auntie Koekie terwyl sy vir ons elkeen ’n homp geelrys inskep.

Die mooiste angeliere staan in die middel van die tafel. Ek kan sien auntie Koekie het lekker in my kaste gekrap. Daar is tot servethouertjies en kerse op die tafel. Dit lyk nie meer soos die eensame tafel waarop ek en Jess soms net goed neergooi nie. Maar op dié tafel word daar nooit geëet nie …

Jess sit ’n rukkie en kyk net na die bord kos voor haar. “Dierbare heiland, eet jou kos, kind.

Ek het nie verniet jou favourite gaan staan en kook nie,” sê auntie Koekie. “Ek bid, Auntie,” sê Jess en lig haar kop op.

“Ag Vader, vergewe my. Al die drama vandag laat my sommer vergeet om vir my kos te bid,” sê auntie Koekie en gooi haar hande in die lug. Dan kyk sy met ’n diep plooi oor haar neus vir Jess.

“’n Mens bid mos nie met sulke stokstywe oop oë nie. Maak jou oë toe as jy bid, man,” put die auntie ons almal uit. “Kan ek tog net vir ons almal bid?” vra ek. “Jy bid? Ja, bid tog net, dankie Helena,” sê auntie Koekie.

“Dankie vir die samesyn, die hande wat die kos voorberei het en dankie, dankie en weer eens dankie dat Jess gesond en terug by die huis is. Amen,” bid ek half onseker. “Amen,” sê Daisy.

“’n Mens sê gewoonlik ook seën die hande wat die kos voorberei het,” skiet auntie Koekie se oë en mond terselfdertyd oop. “Aai Auntie, ek het dankie gesê vir die hande wat die kos voorberei het,” terg ek. Sy is darem soms belaglik sensitief.

Jess en Daisy giggel vir auntie Koekie wat haar oë rol. “Dankie vir al die moeite,” sê ek en kantel my kop. “Dis ’n groot plesier. Nou moet julle net al daai kos opeet,” sê sy. My oë val verstom op die groot bord kos wat sy ingeskep het, maar ek besluit om maar net te eet en my mond toe te hou.

“Dis heerlik, Auntie. Waar het Auntie dit leer maak?” vra Jess. Daar heers ’n kort stilte terwyl auntie Koekie dink hoe sy die vraag gaan beantwoord. Ek kan sommer in haar oë sien hier kom een helse lang storie.

“Jessie, baby. Jy sal nou nie jou ore glo nie. Maar die boere vat al die erkenning vir onse lekker geregte. Daar word mos altyd gesê dis boerekos. Maar hulle siele sal nog gestraf word vir al daai liegstories. Dis die slawekokke van die Kaap wat die anys in die mosbolletjies gegooi het, kaneel by die melktert, droë vrugte by kerriekos, neutmuskaat by frikkadelle en suurlemoenblare by bobotie. Tot sosaties, koeksisters en die einste hoenderbrijani wat julle nou eet, is die werk van slawekokke,” borrel die trots deur auntie Koekie.

“Sjoe, nou is ek sommer lus vir melktert en koeksisters,” sê Daisy. “Wat vertel Auntie my nou?” vra Jess. “Die slawekokke het al die nuwe geure en smake by gewone kos gevoeg.

Hulle het geglo dat kos so smaaklik as moontlik moet wees,” sê auntie Koekie.

“Nes my auntie ook glo,” sê Jess. ’n Klop aan die deur onderbreek Jess en auntie Koekie se gesprek. “Seker Raulene wat die flavoursomeness tot in die dorp geruik het,” sê Daisy en vat haar laaste hap. Ek kan self nie glo dat ek die groot bord kos opgeëet het nie.

“Ek sal gou gaan kyk,” sê ek en staan op om te kyk wie by die deur is. ’n Bossie sewejaartjies lê op die grond met ’n briefie. Sonder om te wonder of ek die briefie mag lees, vou ek dit skaamteloos oop.

“Jessica, my skat, ek is so jammer dat ek nie hierdie week daar kon wees vir jou nie. Ek hoop regtig dat jou ma my sal vergewe en dat ons mekaar gou weer kan sien. Ek mis jou verskriklik. Weet net, ek is waarlik lief vir jou. Hano.”

Ek lees die woorde sonder om ’n oog te knip. Ek vou die briefie vinnig toe en wonder of ek die briefie vir Jess sal gee. Maar ek gee dit tog. Jess glimlag en vou die briefie haastig oop.

Haar gesiggie val terwyl sy die woorde lees.

“Oe-la-la, dis mooi blommetjies,” sê Daisy. “Jy moet hom nooi om een aand hier te kom eet,” sê ek. “Regtig, Ma?” helder haar ogies op. “Lyk vir my eerder soos blomme wat van ’n graf af gesteel is,” sê auntie Koekie. Ek gee die auntie ’n skop onder die tafel.

“Maar grafblomme is net so mooi. Buitendien moet ’n mens eerder vir mense blomme gee terwyl hulle nog lewe, nie as hulle ses voet onder die grond lê nie,” sê auntie Koekie. Ek sug 

“Ek het lanklaas vir Lientjie blomme gekoop. Sal dalk maar ’n bossie moet pluk nou dat die blommetjies so mooi staan,” sê Daisy. Auntie Koekie rol haar oë en maak dan ’n kuggeluid.

“Daisy Gracy, ons wil niks weet van jou skandes nie,” sê sy sommer so met haar neus in die lug.

“Ag, Auntie, los vir Daisy. Sy kan mos lief wees vir wie sy wil,” probeer ek keer. “Ten minste klim ek nie elke aand alleen in die bed nie. Ek het darem iemand om vas te hou,” sê Daisy. “Sies, man, skaam jou!” raas auntie Koekie.

“Stop dit nou!” sê ek ferm en staan op. “Ek is jammer, Helena. Ek het probeer uithou en saam met hierdie auntie aan die tafel gesit, maar ek kan nie langer nie,” spring Daisy op en gaan sit haar bord in die kombuis.

“Ek moes geweet het jy is een van daai pik-en-vlieg mense,” kry auntie Koekie haar laaste hou in. “Jess, ek is bly jy is terug. Pas jouself op,” sê Daisy en gee vir Jess ’n druk. “Dankie dat Tannie hier was,” groet Jess. “Tatta, Daisy,” groet ek.

“Dankie, Auntie,” sê ek nors. “Dis altyd my plesier om vir julle te kook,” sê sy. Ek en Jess begin sommer lekker lag omdat die auntie nooit sarkasme verstaan nie. En dan lag sy sommer saam …

“Lag maar lekker vir my. Julle kan nou maar dink en sê wat julle wil. Daai Daisy-vrou moet leer om ander ook te respekteer. “Moet ek ook nou maar gaan?” vra auntie Koekie.

“Asseblief nie, Auntie,” sê Jess.

“Ek gaan sommer gou weer kom kuier. Ek dink tog dat jy en jou ma bietjie alleentyd nodig het,” sê sy. “Wil julle Sondag saam met my kerk toe kom,” vra sy onseker voor sy loop. “Ja, ons sal graag wil, dankie, Auntie. En weer eens dankie vir die lekker kos en al die moeite,” sê ek.

Jess staan op en gee haar ’n stywe druk. “Oe, nie so hard nie. Hierdie laaste couple of days wil my rugpyn net nie ease nie,” kla sy. “Auntie moet by ’n dokter uitkom,” sê ek.

“Ek gaan môre-oggend weer na daai Saterdagmark met die lekker groot vleistamaties. Wil julle saamkom?” vra sy en ignoreer my bekommernis oor haar. “Ek het eintlik klaar planne vir my en Jess, maar ons sal volgende Saterdag,” sê ek.

“Suit yourself. Moet nou net nie dink ek gaan weer agter jou aanloop en vir jou tamaties bring nie,” sê sy. “Totsiens, Auntie,” groet ons.

“Wat gaan ons môre doen?” vra Jess nuuskierig toe auntie Koekie ry. “Jy sal maar moet wag en sien,” sê ek en soen haar op haar voorkop.