“Goeie dag, Mevrou,” groet die dokter. “Dag, Dokter. Kan Dokter dalk vir my sê wanneer Jess kan huis toe kom?” vra ek. “Nie so haastig nie, Mevrou. Jess word vandag eers na ’n normale saal geskuif. Ons sielkundige moet haar nog sien,” sê die dokter streng.
“Daar is niks fout met my dogter se kop nie,” sê ek sonder om te dink. Die dokter frons.
“Niemand het gesê daar is fout met haar kop nie. Wanneer iemand probeer selfdood pleeg, is ’n verslag van ’n sielkundige egter noodsaaklik,” sê die langkop-dokter. Ek sug.
Jess kla. Haar ooglede spring. Sy slaap steeds diep. Ek wonder wat droom sy … “Die sielkundige gaan Mevrou eers sien, net om bietjie agtergrond oor Jess te kry,” sê hy formeel.
“Dis reg, Dokter.”
Aai, ek is nie lus vir hartsake praat nie. Vandag is nogal uitputtend. Die dokter blaai deur ’n boek en loer dan oor sy bril vir my. “Sal môre drie-uur jou pas … om die sielkundige te sien?” vra hy, maar sy oë beveel my.
“Dis reg so,” antwoord ek gelate. Die dokter loop uit sonder om te groet. Asof hy my ook vir Jess se toestand blameer. “Mamma?” vra Jess. Haar ogies sukkel oop. Maar vandag lyk haar ogies se kleur lewendiger.
“Haai, my pop. Hoe voel jy?” vra ek. “Met my hande,” lag sy. Ek lag saam, maar met ’n traan … soos ’n nar. Ek voel hoe my karakter twyfel, die oneerlikheid in my sterk wees van alles is oukei … ’n groot stuk kragteloosheid wat ek moet wegsteek.
“Hoe voel Mamma?” vra Jess. “Ongelukkig voel ek met my hart,” sê ek terwyl my nar-traan teen my wang afloop. “Wanneer gaan ek huis toe, Mamma?” wil Jess weet. “Ek is nie seker nie. Die dokter sê wel hulle gaan jou vandag na ’n gewone saal toe skuif,” sê ek.
Ek besluit doelbewus om haar nie te vertel van die sielkundige wat sy nog moet sien nie. Sy sal dadelik dink dat dit my voorstel was. Ek haal diep asem. “Jess, Mamma is jammer. Ek wou jou net beskerm. Ek is so lief vir jou,” sê ek.
“Dis oukei, ek verstaan. Ek is ook jammer,” sê Jess skaam. “Hulle gaan my nou weer kom wegjaag. In die gewone saal is hulle darem nie so streng op besoektye nie en dan kan tannie Daisy en Raulene ook kom kuier,” probeer ek haar gemoed inkleur. Sy is baie lief vir Daisy.
Ek plak ’n soen saggies op haar wang. “Lief vir Mamma!” roep sy agterna. “Lief jou meer,” sê ek met ’n knop in my keel.
Die hospitaal is yskoud. Die gang is leeg. Die vloek het ’n paar goeie jare geslaap, maar ek voel hom weer wakker word. Ek hoor Oupa se waarskuwings in die wind. Die magiese krag van die vloek is donker.
Vlooi sê baie goed. Die radioman praat ook baie. Maar Oupa se woorde bly by my spook.
“Ons is vervloek, my kind,” het Oupa op ’n somber dag gesê. “Maar hoekom, Oupa? En wie het ons vervloek? Is dit die duiwel?” wou ek weet.
My kinderhart het dit nie verstaan nie. Oupa het vir ’n lang ruk stilgesit en uiteindelik geantwoord. “God het die vloek gelê,” was sy eenvoudige woorde. “Maar hoekom?” Ek wou alles oor die vloek weet.
“Die feit is dat God inderdaad ’n vloek oor alle sondaars uitgespreek het,” het Oupa gesê.
Oupa se woorde het my banggemaak. “Hoe stop ’n mens dit, Oupa?” het ek gevra. Oupa het sy kop geskud. “Helenatjie, dink jy regtig ’n mens kan iets stop wat God begin het?”
Ek was nog net kind. My grootste sonde was die broodgeld wat ek vir ysies gesteel het. My koppie kon nog nie verstaan hoe sterk sonde regtig is nie. Hoe dit in jou inklim en begin groei nie.
Oupa het ook gepraat van genade en vergifnis, maar dan het hy weer die kragte van die Dangerous Saviour beklemtoon. Ses jaar later het my sonde my opgetel en my voor Klaskat se paleis-huis gaan aflaai. Op Oupa se dooie droomplaas.
Ek het my mond toegesluit oor die plaas. Ek wou soveel vrae oor die plaas vra. Maar die tyd was nog nie reg nie. Met ’n ver swanger magie, my ou babakombersie, lapdoeke en tweedehandse babygrows … alles in ’n Checkers-sak geprop.
In my skooltas was net ’n stelletjie nagklere en ’n paar stukkies klere wat my hopelik weer ná die swangerskap sou pas. Geen trots of waardigheid nie. Net desperaatheid. Dit was nie ’n mooi prentjie nie …
Oupa sou my gehelp het. Ek weet hy sou. Pa ook. Ouma was maller as ’n haas. Ma het ’n nuwe lewe met die myner begin. ’n Dronk lewe. Pa se hart sou so seer gewees het as hy vir Ma so moes sien. Ek was net in Ma en Myner se pad. Klaskat was my enigste opsie.
Klaskat. My straf, my sonde. Dit was nie meer my huis nie, sou nooit my huis wees nie. Ma het baie verander ná Pa se dood.
Ek het ook verander. My hartseer het my na sonde gedryf, na ’n tydelike, kortstondige gevoel van verligting. Na Danie se lyf wat net nie genoeg van my kon kry nie … waarvan ek nie genoeg kon kry nie.
Pa se dood was skielik. Ek het Ma blameer. Sy was nes Ouma – nes Pa se ma. Wou altyd net geld hê. Ons was arm, maar het nooit honger gaan slaap nie. Ek onthou hoe Pa Sondae ná ete De Beers toe vertrek het … veral die laaste keer.
Die bus met al die werkers het aanhou ry … my beentjies het agterna gehardloop. Totdat my asem nie meer wou nie. Ek het in die middel van die sandpad gestaan en onophoudelik gewaai totdat die son te skerp begin word het.
’n Week later het ek weer langs die sandpad gaan sit en wag vir Pappa se bus. Die bus het aangekom. My hart het vinniger geklop, my ogies het na Pappa se bleskop in die bus gesoek.
Ek het gewaai en gewaai, my ogies soekend.
Die mans in die bus het net slapoog na my gekyk. Die bus het verby my huis gery. Daar is nie
’n langlyf-pappa met ’n bleskop en skewe glimlag afgelaai nie. Daar was nie oop arms om in te hardloop nie. Daar was niks. Net die lang sandpad en ons huisie teen die bult.
Vir ewig het Pappa kom haal. Dit het ons eers daardie aand gehoor. Pappa het êrens in ’n delwersgat gelê … dood in vir ewig se arms.
Oupa wou nooit oor Pappa se dood praat nie. Maar dit wat hy gesê het, het my kwaad
gemaak. “Die armoede het jou pa se onafhanklikheidsgevoel ondermyn,” het Oupa op ’n bitter dag gesê.
“Jou ma wou meer geld hê. Jou pa het rykdom gesoek. Maar rykdom is nie vir almal beskore nie, Helenatjie. Armoede dryf ’n mens mos tot onheilighede,” het Oupa my laat verstaan.
Eers later het ek besef dat Pappa tussen doringdrade en polisiewagte ’n diamant vir Ma gaan soek het. Pappa was diep onder in ’n delwerstonnel. Diep.
My seer lê tot vandag toe nog vlak. Hy sou ook ’n oupa van wysheid vir Jess kon wees. Hy sou my van Danie se gulsigheid, my eie gulsigheid, kon red. Klaskat sou nooit ’n sê gehad het nie. En Ma? Ek weet nie.
Daar is min dinge wat Ma gelukkig kon maak. Dit was minder as ’n jaar, toe trek Myner en Pietertjie by ons in. Ek was toe reeds op pad sestien jaar toe … op pad na my eie onheilighede.
Ma het ook liefde gesoek, maar haar soekloop na liefde was ’n valloop in die donker. ’n Desperate kreet. En die verkeerde blerrie mansmens het op Ma se hartstogtelike hartseer gereageer.
Ma se binnelig was dood. Sy was in haar eie donker, onbekende êrens. Sy was nie gereed vir my swangerskap nie. Ek ook nie.
Ma het my by die plaashek afgelaai en gery. Die sandpad tot by die plaashuis het lank gevoel
… maar nie lank genoeg nie. Ek het gesug en toe die klokkie gedruk.
Klaskat het die deur stadig oopgemaak, haar wenkbroue gelig en haar onderlip gesuig. Nie ’n woord gesê nie. My net weer op en af bekyk en met haar hand gewys dat ek haar moet volg.
Raulene was besig om skottelgoed in die kombuis te was.
“Raulene,” het Klaskat streng gesê. Sy het keel skoongemaak. Raulene het angstig haar hande afgedroog en na my skooltas en Checkers-sak gegryp. “Sy kan haar goed self dra. Wys haar tog net waar sy en die baba gaan bly,” het sy ongeduldig gesê.
Raulene was mooi en sag. Sy is een van die mense wie jou gemoed vol hou, al loop haar eie soms leeg. Sy het daai dag ’n helderpienk Nama-kappie gedra. “Ek hou van jou kappie,” het ek gesê.
Sy het my Checkers-sak gevat en haar oë vir Klaskat gerol terwyl sy my aan die hand gevat het om vir my te gaan wys waar onse kamer is. “Dankie. My ouma was ’n knap kappiemaker.
Sy’t altyd onder die palms in Pella gesit en kappies maak,” sê sy.
Ek het gemaklik vir haar geglimlag. “Daai miesies is mal. Jy moet haar nooit kop toe vat nie,” het sy baie ernstig gesê. Ek het net geknik. Ons het deur die kombuisdeur geloop.
Anderkant die groot grasperk in die agtererf het ’n klein houthuisie gestaan.
Raulene het die krakerige deur oopgestoot. “Daarsy! Wees welkom! Dink net hoe baie fun gaan ek en jy en daai baby hê,” het sy gelag en oor my maag gevryf. Ek het ’n oomblik teruggetree. Niemand het my maag al gevryf behalwe ek nie.
“Ek’s jammer dat ons nou hier by jou moet bly,” het ek gesê. “Nee man, dit gaan groot ’n lekkerte wees. Ek gaan jou help met die baby. Babies is harde werk. Jy sal sien,” het sy geskerts. Ek wou snik van verligting.
Ons plekkie was eenvoudig, maar skoon. Dit was ’n eenvoud waarvan ek sommer baie gehou het. Raulene het maklik gelag. Haar lag kon sommer ’n somber dag verlig, het ek gedink terwyl sy my gewys het waar alles is.
’n Poster van ’n pous het bo haar bed gehang. “Is jy Katoliek?” wys ek na die prentjie bo haar bed. “Daai is my oorlede ma s’n, Sy was Katoliek en my pa van Islamse agtergrond. My ouma was gewortel in haar Khoi-kultuur. Ouma het my grootgemaak,” het sy gesê.
Ek weet steeds nie wat sy is nie. Ag hel, ek het nie eers geweet wat ek is nie. Ek was mens en dit was eers genoeg. Met die tyd het ek besef dat Raulene nou wel nie ’n vaste geloof gehad het nie, maar dat sy ’n uiters dinamiese vrou was.
“Jy is slim,” het ek op ’n dag vir haar gesê. “Stil jy,” het sy geraas. Ek het gefrons. “Dis beter dat niemand weet nie. Ek moet my slimgeit geheim hou. Ek steek eerder my slimgeit en diepte agter ’n bondel wasgoed weg,” het sy gesê.
“Maar hoekom dan?” wou ek weet. “Witmense hou nie van slim bruinmense nie. Hulle sê mos ons dink ons is wit as ons slim is. Veral Madam Miesies. Sy’t mos die manier o slimgeit met voorbarigheid te verwar,” verduidelik sy.
Ek was geskok oor hoe Raulene na witmense gekyk het. “Jy sien, Helenatjie. Wanneer
witmense sien jy is slim, vertrou hulle jou om die een of ander rede nie meer nie. En ek het hierdie werk so nodig,” het Raulene gesê.
“Ek is nie so nie,” moes sy weet. “Nou dit weet ek mos. Anders sou ek nie slim met jou gepraat het nie,” het sy gelag. Ons het al twee gelag, maar binne my was dit seer. Dit het my hart gebreek dat sy haar intelligensie of, soos sy dit gestel het, haar diepte, moes wegsteek om haar werk te behou.
In die wêreld van apartheid het dit sin gemaak, seergemaak, maar sin gemaak. Ek was wit, maar het meer bruin gevoel as ooit. Ek was skaam vir witmense se skynheiligheid, se
skelmheid en se neerslagtige gevoel wat hulle in my maak groei het.
Oupa was die enigste witmens wat daai tyd ook lief was vir sy bruin vriend. Hy het hulle verstaan, saam met Whiteboy in die veld geloop en by hulle geleer oor die natuur. Ek verlang na Oupa.
Die een somber dag het ek en Ouma vetkoekdeeg geknie – sommer totdat ek nie eers meer lus was vir vetkoek nie. “Nee, Helena. Nie sulke slap handjies nie, met vuiste! Kyk hoe doen ek dit,” het sy beduie toe Oupa vrolik die kombuis inkom.
“Waar was jy, Tossie?” het sy kwaai gevra. “Ek het gaan veldvat saam met Whiteboy,” het hy gesê. “Jy weet hoe skinder die dorp al oor jou wat so saam die ander kuier,” het Ouma geraas. Oupa het nie eers na haar geluister nie.
“Helena, gaan was jou hande, dan kom sit jy hier. Ek wil jou vertel wat ek vandag geleer het,” het hy gesê. Hy was altyd so opgewonde ná ’n behoorlike dag in die veld. “Nee, sy is besig om my te help knie,” het Ouma weer geraas.
“Asseblief, Ouma?” het ek gevra. “Nou toe nou,” het Ouma ingegee. Ek het my hande gewas en nuuskierig langs Oupa by die kombuistafel gaan sit. “Voëls,” het hy begin. Ek het onseker geknik.
“Voëls is baie slimmer as wat ek ooit besef het. Vandag het Whiteboy my gewys hoe hulle ontwerp is. Ons het lank gestaan en kyk hoe hulle bewegings uitvoer. Man, vliegtuigontwerpers beny hulle. Hulle het verbasende vermoëns,” het Oupa verduidelik.
“Voëls … regtig, Tossie?” het Ouma gevra. Ek het altyd gewonder hoekom Oupa nie sy kennis met Ouma wou deel nie. Maar daai dag het ek besef sy is te skepties om Oupa se wyshede te waardeer.
“Party spesies vlieg duisende kilometer oor kenmerklose oseane en kom altyd by hulle bestemming uit. Ons mense kan dit nie doen nie, Helena,” het hy gesê. “Ons mense moet hulle eerder bepaal by die mens se dinge,” het Ouma gesê.
Sy was ’n bitsige ou dame. Oupa het haar steeds geïgnoreer. Dalk was hy net te opgewonde om haar stem te hoor. “Nog ’n uitsonderlike ding van voëls wat die wysheid van ons Skepper selfs verder openbaar, is dat voëls kan praat … nes ek en jy,” het hy gesê.
“Rêrig, Oupa?” het ek gevra. “Jou oupa is mal,” het Ouma weer soos ’n ongeduldige skaap in die agtergrond geblêr. “Regtig, my kind. Hulle het hulle eie taal. Hulle kommunikeer deur middel van roepe en sange,” het Oupa net aangegaan. Ek het geglimlag.
“Maar wag nou eers met die voëls. Het my kind geweet dat vier van God se boodskappers hier in Namakwaland bly?” het Oupa gevra. “Boodskappers?” het ek gevra. “Ja, ons eie 99
boodskappertjies. Elkeen met hulle eie unieke boodskap,” het Oupa gesê en ’n sluk water gevat, sy keel droog gepraat.
“Die sprinkaan, die dassie, die mier en die geitjie,” het Oupa verduidelik. “Sowaar?” het ek gevra. Ek was mal oor Oupa se passie. Sy Afrikaans was so mooi.
“Die mier sê as ons nie sterk is nie, moet ons slim wees … nes hy. Hy is so slim dat hy elke jaar onthou om in die somer kos weg te sit vir die winter. Hulle sê ons moet altyd voorbereid wees. Hulle sê ook dat ons, onse genadegawes en genadetyd reg moet gebruik. En … ” het Oupa vir ’n oomblik gestop en vir Ouma gekyk. “En dat ons nie moet terugkyk nie, maar vorentoe,” het hy gesê terwyl sy oë in Ouma s’n gebrand het.
“En die dassie? Wat leer die vet dassies ons?” wou ek graag weet. Oupa het gelag. “My kind is nuuskierig, nè? Dis goed om nuuskierig te wees oor die regte goeters. Die dassie moedig ons aan om dapper, maar ook slim, te wees. Hy maak sy nes teen die kranse waar dit vir baie eintlik gevaarlik lyk, maar daar is hy eintlik veilig, omdat daar min gevaarlike diere is wat hom kan vang. Hulle sê ook dat ons mekaar moet ondersteun. Net soos hulle mekaar warm hou as die son gesak het,” het Oupa verduidelik.
“Helena! Dag, Ma. Dag, Pa,” het Ma in die kombuis ingestorm en Oupa onderbreek. “Jy het
’n huis, Helena,” het Ma gesê. “Sy pla nie,” het Oupa gesê. “Kom, Helena,” het Ma weer gesê. “Oupa kan my volgende keer van die sprinkaan en die geitjie vertel,” het ek gegroet.
Nadat ek Raulene leer ken het, het ek Oupa se liefde vir die bruinmense verstaan en my en Raulene se verhouding gekoester. Sy’t my aanvaar soos haar suster. Wanneer Klaskat dorp toe gery het en Baas Herman op die myn was, het ek en Raulene sommer ons eie party gehou.
Sy het haar battery-draadloos kliphard op RSG gesit. Wanneer ’n lekker liedjie begin speel het, het ons die strykwerk, skroplap en verestoffer eenkant toe gegooi en begin dans.
Ek kon nooit soos Raulene dans nie. Sy’t die vreemdste goeters met haar voete gedoen. Hulle gedraai en gerol en gestamp. Dan het sy haar boude uitgestoot. Dit het kompleet gelyk asof sy haar kop op haar lyf probeer balanseer.
“Jy dans soos ’n witmens,” het Raulene gesê. “Ek ís ’n witmens … en boonop nog ’n ver swanger witmens. Wag net tot Jess uit is. Dán gaan jy my sien dans,” het Raulene ’n speelsheid in my wakker gemaak.
“Daai baby moet nou kom dat ons drie een naweek in Pella kan gaan kuier,” het Raulene gesê. “Is jou familie daar?” wou ek weet. “Nee, my familie is mos in Alexanderbaai,” het sy geantwoord. “Nou vir wat wil jy Pella toe gaan?” het ek gevra.
“Een keer ’n maand gaan ek Pella toe. Ek gaan bid daar. Jy moet dit sien daar. Daar kan jy op die skoon geharkte plein van die katedraal gaan sit en rustig raak. Op geen ander plek slaap ’n mens so rustig soos daar nie,” het sy verduidelik.
Ek was skoon opgewonde oor Raulene se Pella. Maar ons het nooit gegaan nie … Dinge het net nie so uitgewerk nie. Ons het wel baie dae groot pret gehad.
“Hoe lank dink jy gaan die miesies nog wees?” het sy gevra. “Nee, nog lank. Het jy haar inkopielys gesien? En dan gaan drink sy mos nog tee saam met haar suster,” het ek gesê.
“Dan moet ons bietjie opdress!” het Raulene geskree.
Ons het Klaskat se grand klere aangetrek en modeparade gehou. “Ek is die edelagbare. Kyk my blink rok, my lang naels en my swaar oorbelle,” het Raulene gespot. Met haar kop
dramaties gekant na die een kant asof die gewig van die diamant-oorbel haar kop een kant toe afdwing.
Ek het gelag. “Toe, kom sit jy die ander oorbel aan. Dat jy ook kan voel hoe voel ’n gazzillian karaat oorbel.” Iets in my wou nie naby daardie oorbelle nie. Dit het my naar gemaak om na daardie oorbelle te kyk. “Jy weet, sy noem dit haar bloedoorbelle,” het Raulene gesê.
“Dis vreemd,” het ek gesê. “Nee, vriendin, dis wreed. Ek sê vir jou iemand se bloed was op hierdie diamonds. Herman het iemand vermoor vir die goed. Dis al wat sin maak. Hoekom sal die miesies andersins daarna verwys as haar bloedoorbelle?”
“Helena … Helena, word wakker,” bring ’n bekende stem my terug na die hede. “Pietertjie se prentjie het ook bloedoorbelle,” praat ek deurmekaar. “Watse goed?” vra auntie Koekie en skud my wakker.
My lyf is seer gesit op die sementbankie buite die hospitaal. My nek spasties. “Raulene wou vir my iets sê … dieselfde wat Pietertjie vir my wil sê,” probeer ek die stukkies inmekaarpas.
“Jy kan nie so lê en slaap buite die hospitaal nie. Die tsotsi’s sal jou rob,” sê auntie Koekie.
“Ek is so moeg, Auntie,” sê ek. “Jy het net ’n goeie nagrus nodig. Emosies put ’n mens uit,” sê die auntie. Haar oë is besorg.
“Hoe gaan dit by die winkel?” vra ek. “No worries. Alles is reg daar by die winkel,” sê auntie Koekie. “Hoe laat is dit nou?” vra ek in afwagting vir die volgende besoektyd. “Dis amper drie-uur,” sê die auntie.
Ek lig my lyf op en kreun. “Nee, man, Helena. ’n Mens sal sweer jy is negentig jaar oud. Vir wat kreun jy so?” vra sy. “Kom saam, ek dink sy is al geskuif,” beduie ek vir die auntie.
Jess lê in ’n groot saal. Haar wange blos weer. Sy eet jellie en custard. “Nee man, as jy self kan eet en kan toilet toe gaan, kan jy huis toe kom,” praat auntie Koekie kliphard toe sy die saal instap.
“Mamma! Auntie Koekie!” sê Jess opgewonde. Ek hou haar styf teen my vas sonder die pype en goeters. “My beurt,” stoot auntie Koekie my eenkant toe en druk en soen Jess dat die spoeg spat.
“Die dokter het gesê ek moet nog iemand sien om ’n verslag te skryf en dan kan ek huis toe kom,” sê Jess opgewonde. “Dis al wat jou ma moes hoor. Sy kry swaar sonder jou,” sê die auntie. “Ek is so bly. Ek mis jou verskriklik,” sê ek en kyk my kind diep in die oë.
’n Geitjie sit agter Jess teen die muur. Sy stertjie het reeds afgeval. “Waarna kyk Mamma?”
vang Jess my oë op die muur agter haar. “Die geitjie,” wys ek na die klein lyfie wat in ’n halfmaan teen die muur sit.
“Geitjies is boodskappertjies,” sê auntie Koekie. Ek kyk verbaas na haar. Oupa was kort ná ons gesprek vir ewig toe. Hy’t my nooit vertel van die geitjie en die sprinkaan nie. Ek het nooit weer aan die geitjie of die sprinkaan gedink ná Oupa se dood nie. “Wat is sy boodskap, Auntie?” waag ek dit.
“Die geitjie sê ons moenie bang wees om te vat wat ons wil hê nie. Jy kan ’n geitjie met die hand vang en by jou huis uitgooi, maar hy sal altyd weer terugkom, want dit is waar hy wil wees. Geitjies bly tot in paleise. As jy in ’n paleis wil bly, moet jy baie ryk wees of familie wees van ’n koning, maar nie ’n geitjie nie,” sê auntie Koekie.
Ek frons. Ek dink tog dat Oupa ’n ander verduideliking sou gee. Auntie Koekie se verduidelikings is effens oppervlakkig.
’n Pragtige jong vroutjie kom die saal binne. “Goeie middag. Is Mevrou Jessica se ma?” groet sy. “Middag. Ek is ja,” sê ek. “Haar hare is nie altyd pers nie, hoor,” sê auntie Koekie. Auntie Koekie kan soms so common voorkom …
Ek sug en kyk met groot oë vir hierdie blatante auntie van my. Jess se oë giggel. Die dame lig haar wenkbroue vir auntie Koekie en kyk dan weer na my. “Die pers hare pas jou,” sê sy half geforseerd en ongemaklik. “Dankie,” sê ek en kyk vir auntie Koekie, al voel ek self steeds onseker oor my pers kop.
“Kan ek asseblief net ’n paar minute van jou tyd kry?” vra sy. “Natuurlik,” sê ek en loop saam met haar tot by ’n onpersoonlike koue kantoortjie. “Sit maar,” wys sy na die stoel. Sy haal ’n papier uit en kyk half agterdogtig na my.
“Het Jessica enige geskiedenis van depressie?” vra sy. “Nee, sy was nog altyd ’n baie happy kind,” sê ek. “Dis net vreemd dat sy dan so ’n drastiese ding gedoen het. Mevrou is bekend met die simptome van depressie?” sê-vra sy. Ek knik my kop onseker.
“Slaap Jessica baie?” vra sy weer. “Sy slaap genoeg, nie baie-baie nie,” antwoord ek half onseker. “Het sy al ooit enige dwelmmiddels misbruik?” vra sy weer. “Nee, glad nie. Nie my dogter nie,” sê ek.
“Waar is haar pa?” vra sy. “Hy is dood,” vertel ek dieselfde leuen wat ek vir Jess al haar hele lewe lank vertel. “Hoe het sy die afsterwe van haar pa hanteer?” vra sy. “Sy is fine, regtig. Hy was nooit betrokke nie. Sy het hom in elk geval nie geken nie,” verduidelik ek.
Sy lig haar een wenkbrou weer so half snaaks asof sy ’n beroerte gaan kry. “Het daar enige lewensveranderende gebeurtenis die afgelope ruk in julle lewe gebeur?” vra sy voort. “Nee, nie regtig nie. Sy het wel ’n mannetjie wat sy sien,” sê ek.
“Is sy in ’n ernstige verhouding, dalk ’n seksuele verhouding?” vra sy. “Moontlik,” is al wat ek sê. “En keur Mevrou die verhouding goed?” vra sy. “Ek moet die mannetjie nog leer ken,” sê ek.
Vir ’n oomblik klink my woorde nie soos my eie woorde nie. Gaan ek regtig die moeite doen om die mannetjie wie my dogter se maagdelikheid gesteel het, te leer ken, wonder ek ’n oomblik.
“Hoe vaar sy op skool? Het sy baie vriende?” nog ’n vraag. “Sy doen baie goed. Sy het ’n beurs vir volgende jaar gekry om medies te gaan swot,” sê ek trots. “Ag, wonderlik,” sê die dame en skryf ’n klomp goed neer.
“En sy het baie vriende en vaar goed op sportgebied,” sê ek agterna. “Dalk is sy bang vir die onbekende wat volgende jaar voorlê? Of dalk het sy en haar kêrel stry opgetel?” Ek knik net.
“Dankie vir jou tyd. Ek gaan bietjie vanmiddag met Jess gesels. Dis belangrik dat ons die probleem nou aanspreek. Baie jong volwassenes se selfdoodpogings is ’n kreet om hulp, maar daar is gevalle waar hulle regtig hulle lewe wil neem. Die eerste poging is nie altyd suksesvol nie, maar die tweede poging is dikwels. Daarom wil ons seker maak sy kry die nodige hulp en dalk medikasie om haar gemoed te lig.”
“Baie dankie,” sê ek en loop uit. Ek weet ek moes haar seker meer vertel het, maar ek wou net nie. Ek en Jess sal hierdeur kom.
“Daai lap wat jou ma vir jou farewell gekoop het, is darem spoggerig, nè?” gesels auntie Koekie en Jess oor die matriekafskeid toe ek binnestap.
“Kan ek ’n bietjie alleentyd met my dogter kry?” vra ek vir auntie Koekie. “Sure, sien later, Nonnatjie,” gee sy vir Jess ’n klapsoen op die wang. Soos sy uitloop, sleep ek die lang houtbankie tot teen Jess se bed.
“Sussa, Mamma het nie vir die sielkundige alles vertel nie. Eintlik het ek haar net al die goeie goed vertel. Ek wil hê jy moet haar alles vertel wat jy wil. As ek jou tot waansin dryf, sê dit vir haar. As daai mannetjie jou hart seermaak of te veel van jou verwag, sê dit ook vir haar.
Of as jy bang is vir volgende jaar. Sy kan jou help,” sê ek en kyk haar diep in die oë.
’n Sagte glimlag vorm op Jess se gesiggie. “Sy kan ons dalk help. Ek moet ook verander,” sê ek. “Auntie Koekie sê sy is bekommerd oor Mamma?” vra Jess.
“Ag, auntie Koekie is bekommerd oor almal behalwe haarself. Jy weet mos hoe sy iets kan opblaas. Ek is fine. Inteendeel. Jy sal dit nou nie glo nie, maar ek is besig met baie belangrike dinge,” sê ek, maar ek hoor die twyfel in my stem.
“Watse dinge?” vra Jess. “Ag, ek probeer ook maar sin maak van die lewe,” sê ek. Jess lyk hartseer, dan glimlag sy skaam. “Ek hou baie van Mamma se pers hare,” lag sy. Die klokkie lui. Dis al weer tyd om te groet. “Mamma sien jou later,” groet ek