Etenstyd

Ons oogmerk moet wees om ten minste een maal ’n dag saam om ’n tafel te sit en eet. Die tafel kan ’n eetkamertafel, ’n koffietafel, ’n kombuiseiland of ’n piekniekkombers wees. Jy mag dalk dink: Dit sal nooit vir ons werk nie. As ek nie vir my kinders teen halfses kos gee nie, gaan hulle óf die stoele eet óf in monsters verander. Of jy dink: Saameet is nie vir ons moontlik nie, ek kom eers seweuur van die werk af. Of jy wonder: My kind kan nie eers vir vyf minute stilsit nie, wat nog te praat van saam sit, eet en boonop nog gesels ook.

Dit is moeilik as jou kinders klein is of as jy, jou man of jou tiener eers laat by die huis kom. Dalk is die volgende gevalle die naaste wat julle tans aan “saam om die tafel” kan kom:

  • Jou kinders sit in hulle eetstoele en jy trek ’n stoel nader.
  • Julle gooi ’n groot kombers op die grasperk en sit vir ’n gedeelte van julle ete saam daar
  • Dalk is aandetes onmoontlik, maar is ontbyt moontlik.
  • Dalk eet jou kinders vroeg en jy en jou man eet eers as hulle in die bed is, maar julle sit gou saam om die tafel terwyl julle saam uit die Bybel lees en die kinders hulle melk drink.
  • Net Pappa of net Mamma eet saam met die kinders.

Maak ’n plan! Eet saam! Vir nou, vir die seisoen waarin julle nou is.

Miskien moet ons dit “tyd om saam om die tafel te sit en mekaar in die oë te kyk” noem , selfs al is dit net vir vyf minute. Met verloop van tyd, namate die kinders ouer word en vir langer tydperke by die tafel kan sit en langer kan uithou voordat hulle eet, sal dit makliker word.

Navorsing is dit eens dat gesinne wat saam eet, gelukkiger is as gesinne wat dit nie doen nie. Daar is ander fisiese, emosionele en sosiale voordele soos:

  • Beter akademiese prestasie
  • Groter selfvertroue
  • Verhoogde veerkragtigheid
  • Laer risiko vir depressie
  • Verminderde moontlikheid tot eetsteurnisse
  • Laer risiko vir vetsug

In ’n wêreld waar die gemiddelde kind ’n skokkende drie tot sewe uur ’n dag voor ’n skerm deurbring, is mens bekommerd dat ons ’n generasie grootmaak wat nie die kuns van kommunikasie en gesprekvoering sal aanleer nie, laat staan nog bemeester. Die moderne mens het lui geraak  wanneer dit kom by praat met ander, connect en gesels. As ouers sal ons doelgerig moet wees in die aanleer van gesprekvoering en kommunikasievaardighede met ons kinders, want dit gaan beslis nie vanself gebeur nie.

Wanneer ons gesprekke voer, word verhoudings gebou. Dit is wanneer ons “dans” tussen ek praat, dan praat jy, dan praat ek weer, dan praat jy dat ons ontdek wat in mekaar se harte en gedagtes omgaan. En so leer ons mekaar ken. Werklik ken.  Etenstye is ’n wonderlike geleentheid om gesprekvoering te oefen. Ek wil jou aanmoedig en sê dat jou kind nooit te klein of te groot is daarvoor nie. Sommige tieners sal jou kommunikasievaardighede en gesprekskuns toets, maar praat moet jy. Met deernis en intensie moet jy aanhou en dit wat in haar hart is, uittrek al lyk dit asof sy mure rondom haar hart bou. Connection en ’n koesterende ouer-kind-verhouding is wat jou tiener nodig het. Doelgerigte gesprekke en geselsies is een van die maniere hoe ons daarby gaan uitkom. En terloops, as ons in die kar ry of iewers in ’n tou of in ’n wagkamer wag, is dit ook ’n goeie tyd vir gesprekvoering.