Dennebome is waarskynlik die swakste openbare sprekers, maar beste luisteraars uit die vier boomsoorte, met uitsondering van die dennebome wat geseën is met ’n droë humorsin. Daar is nogal heelwat van hulle.
Die res kan langdradige publieke sprekers wees – beslis nie seremoniemeester-materiaal nie. Hulle vermy buitendien die verhoog.
Almal wat al ’n denneboom met ’n monotone stem as dosent of onderwyser gehad het, weet hoe lekker ’n mens in hulle klasse kan slaap. Tussen daardie goedige eentonigheid kom daar darem kort-kort skreeusnaakse kwinkslae uit om die wakkerblyers te beloon.
Baie dennebome is egter in een-tot-een-gesprekke wonderlike gespreksmaats. Hulle het perspektief en die vermoë om net die regte woord op die regte tyd te sê. Hulle luister geduldig en kan dikwels goeie, objektiewe raad gee.
Dennebome kommunikeer dikwels deur skimpe, kyke, gebare en ander tegnieke wanneer hulle nie lus is om te praat nie, maar darem te kenne wil gee dat hulle ontevrede is. Hulle sug, rol die oë, loop brommend weg of skud net hulle koppe en wil dan nie sê waarom hulle dit doen nie.
Dit is ongewoon om vinnig by ’n denneboom se hart uit te kom. Hulle maak nie maklik oop teenoor ander nie, veral nie oor emosies of diep dinge nie.
Wat maak ’n denneboom moeg en uitgeput?
Enige groot uitset maak ’n denneboom moeg. Dennebome is lae-energie mense wat nie van een taak na ’n ander kan oorgaan sonder om tussenin te rus nie.
Dennebome word ook moeg tussen lawaaierige mense. Hulle kan nie baie lank in ’n luidrugtige partytjie uithou nie. Hulle vlug na die rante van die dansbaan en na die pawiljoene om die speelveld. Hulle word gou toeskouers wanneer die ander mense te “rof” raak.
Prestasiedruk maak ook dennebome moeg. Hulle wil graag mense tevrede stel en wanneer die eise net aanhou opstapel, ervaar hulle dat hulle kop onder die water verdwyn. Dit kan hulle so moeg maak wanneer daar gekerm en gesanik word, dat hulle byna verlam raak.
Konflik is die grootste dreineerder van ’n denneboom se energie. Hulle kan nie konsentreer wanneer daar spanning tussen hulle en ander mense of tussen mense om hulle is nie. Konflik in hulle koppe wanneer hulle met moeilike keuses gekonfronteer word, het dieselfde uitwerking op hulle.
Dennebome word baie moeg wanneer hulle ate veel detail moet luister, veral as dit boonop emosioneel gelaai is en die slotsom nie duidelik is nie.
Hoe herlaai ’n denneboom en kry weer energie?
Alhoewel dennebome lief is vir mense, het hulle baie alleentyd nodig. Hulle moet dan iets baie passiefs doen soos om TV te kyk, ’n intellektuele eerder as aksiespeletjie op die rekenaar te speel, koerant of storieboek te lees, musiek te luister, te slaap of selfs net in ’n gunstelingstoel te ontspan.
Hulle energievlakke is laag om mee te begin, en hulle herlaai dus beslis nie wanneer hulle aktief is nie!
Wanneer dennebome tieners is, raak hulle so passief dat hulle ouers oor hulle toekoms bekommerd raak. Hulle is meestal horisontaal met ’n afstandbeheer in die hand of onder ’n duvet. Wanneer ’n mens egter slapende dennebome wakker maak, stel jy net hulle slaaptyd uit – slaap gaan hulle slaap – baie en laat!
Dit help nie om by die “bek” van hulle “grot” te staan en roep nie. Hulle moet op hulle eie tyd uitkom. Die wag sal beloon word deurdat ’n baie vroliker denneboom sal terugkeer as die een wat die grot binnegestap het.
Wat vrees ’n denneboom en wat ontstel hulle?
Dennebome se drie grootste vrese is konflik, kritiek en verantwoordelikheid. Dennebome wil bo alles in vrede en rustigheid lewe daarom is hulle bobaas konflikvermyders. Hulle sal eerder net vra of almal kan aanbeweeg en vergewe as om twispunte uit te sorteer. Hulle sal om liefdeswil wye draai loop om die dinge wat hulle pla.
Dennebome se vrees vir kritiek maak dat hulle net take aanpak wat hulle voel hulle met sukses kan deurvoer. Hulle sê dus maklik: “Ek kan nie, en ek gaan nie.” Wanneer hulle een maal vir ’n ding gekritiseer is, sal hulle nie maklik weer probeer nie. Hulle is daarom eerder toeskouers as deelnemers.
Dennebome is die laaste om hulleself vir take te nomineer. Hulle doen nie vrywillig enige iets meer as die minimum nie. Dis nie luiheid soseer as die vermyding van verantwoordelikheid nie.
Dennebome is dus veral ongeneë om leierskapposisies te aanvaar. Hulle sal net voor loop wanneer daar absoluut niemand anders is om dit te doen nie.
As ’n mens vir ’n denneboom waarsku dat iets seer of moeilik gaan wees, spoor dit hulle nie aan nie – dit skrik hulle af. Hulle is nie waaghalsig of avontuurlustig nie. Risiko’s staan hulle glad nie aan nie. Hulle kies waar moontlik die weg van minste weerstand.
Dennebome vrees ook skielike verandering omdat hulle sekuriteit vind in konstantes. Hulle het gewoonlik ’n gunstelingsitplek in die kerk, ’n gunstelingparkeerplek by die werk en ’n gunstelingkruidenierswarewinkel, klerewinkel, hardewarewinkel en haarkapper wat jaar in en jaar uit op hulle lojale klandisie kan staatmaak.
Wie maak ’n denneboom kwaad en aggressief?
Die denneboom is die geduldigste van die boomsoorte. Die versreëls uit my skooldae kom altyd by my op wanneer ek aan dennebome dink: Die osse stap aan deur die stowwe – geduldig, gedienstig, gedwee.
Dit is hoe ’n denneboom meestal is, maar mense wat nie wil aanbeweeg nie, die verlede kort-kort oopkrap en dan weer emosioneel raak daaroor, brand waarskynlik die vinnigste deur daardie lang lont. Dennebome haat dit wanneer dinge “ingevryf” word.
Omdat dennebome bogemiddelde selfbeheersing het, maak onvoorspelbare, opvlieënde mense hulle ook kwaad. Hulle het dit veral teen die disrespek vir ander wat met sulke uitbarstings gepaard gaan.
Wanneer so iemand boonop nie agterna dinge regstel nie, verloor ’n denneboom alle respek vir die persoon, en skryf hom maklik permanent af. Once bitten, twice shy geld beslis vir die meeste dennebome.
’n Denneboom kan ook so moeg raak vir die druk, gesanik en kritiek van veeleisende mense, dat dit uiteindelik in woede oorgaan.
Dennebome se mensekennis en fyn waarneming maak dat hulle tweegesigte van ulled kan uitken. Hulle is allergies vir valsheid omdat hulle self nie voorgeërs is nie. Fariseërs steek ulled wars in die krop.
Hoe hanteer ’n denneboom spanning en stres?
Dennebome se spanning is nie so sigbaar soos die ander temperamentstipes s’n nie, omdat hulle al hulle gevoelens binnehou. Hulle onttrek egter meer as normaalweg wanneer hulle gespanne raak. Hulle wil spanning alleen hanteer.
Gewoonlik help dit hulle nie om te ontlaai, te gesels of weg te hardloop nie – hulle werk dinge stadig in hulle koppe uit.
Wanneer spanning deur mense van buite veroorsaak word, kan ’n denneboom heeltemal afskakel. Die druk wat ’n mens op ’n denneboom uitoefen, kan dus die omgekeerde uitwerking hê en hulle hardkoppiger en passiewer maak.
Wanneer die spanning uit konflik met ander mense voortspruit, verlam dit hulle. Hulle kan byvoorbeeld heeltemal ophou werk as hulle baas vir hulle kwaad is omdat hulle voel of hulle vasval.
Dennebome onderdruk dikwels hulle spanning so lank dat hulle op ’n mooi dag kan ontplof. Dit skok gewoonlik die mense om hulle omdat hulle andersins so gelykmatig is!
Waaraan meet ’n denneboom sukses en ’n goeie selfbeeld?
Dennebome meet sukses nie soveel aan uiterlike dinge of prestasies soos die ander boomsoorte nie. Hulle kyk na dieper dinge, gewoonlik op ’n interpersoonlike (tussen hulle en ander mense) of intrapersoonlike (binne hulleself) vlak.
’n Gelukkige gesin, vrede met jouself, sekuriteit, stabiliteit, bevredigende werk en vrede met ander mense is hulle vernaamste definisies van sukses.
Dennebome kyk ook eerder na kwaliteit as na kwantiteit wanneer hulle hulle eie sukses meet. Solank hulle een belangrike ding reggekry het, is dit genoeg. Hulle hoef nie alles vir almal te wees of op baie verskillende terreine te presteer nie.
Hulle sien die lewe as ’n reis en die eindbestemming as bysaak. Daarom is dit belangriker hoe jy speel as dat jy wen; belangriker wie jy was, as wat jy bereik het en belangriker dat jy self tevrede is as dat ander jou lof besing.
Hulle standaarde is nie hoog wanneer hulle hulle eie of ander se sukses meet nie. As elkeen sy bes probeer het, vra hulle niks meer nie.