Navorsing in Oosterse lande het aan die lig gebring dat mense se spanningsvlak by die werk verlaag kan word deur denne-aroma deur die lugversorgingsisteem te versprei.
In sekere groot maatskappye word die spanning wat soggens deur spitstydverkeer veroorsaak is met inkloktyd so weggestreel. Net voor uitkloktyd word almal weer daarmee “afgewen” voordat hulle koers kies huis toe.
Dit is een van die wonderlike eienskappe van ’n denneboom. Wie raak nie rustiger en haal dieper asem wanneer hulle deur ’n dennewoud wandel nie? Die denneboomtemperament is van nature gelykmatig en het ’n kalmerende uitwerking op die res van ons.
Toe ek ’n klein denneboompie langs ’n kwekery in die veld wou uitgrawe vir my kursusdemonstrasie, het die eienaar van die kwekery lekker vir my grafie gelag. Hy het my verseker dat die wortels so diep geanker is dat ek nie eers ’n piepklein saailingetjie sal kan uitkry nie.
Denneboommense is ook so – sterk verankerd, hardkoppig op ’n stil manier en nie gretig om verplant te word nie.
Wie het al ooit verby ’n denneplantasie gery en ’n besondere den tussen die ander raakgesien? Net so kan mense met ’n denneboomtemperament onder die radar vlieg, met die dekor saamsmelt en maklik misgekyk word. Hulle adverteer nie hulleself nie, vermy die kollig en is tevrede om op die agtergrond te bly.
Soos dennebome amper nooit alleen staan nie en geassosieer word met Kersfees, is mense met denneboomeienskappe familievas, lojaal aan vriende en lief vir tradisies. Al is hulle nie so uitgaande soos palmbome nie, is hulle ewe graag tussen mense.
Ontmoet vir Herman, die klassieke denneboompie
Herman is ’n engeltjie van ’n vierjarige. Oral waar sy ouers hom neem, kan die ander ouers nie hulle oë glo nie. Hy sit doodstil op sy stoel in die restaurant, hy sê sonder voorsê “dankie” en “asseblief” en kondig in pragtige sinnetjies aan wanneer hy ’n draaitjie moet gaan loop of nou darem al versadig is.
Hy gee nie eers om toe die kelner ’n pienk “dogtertjiemelkskommel” in plaas van die blou “seuntjiemelkskommel” aanbring nie. ’n Ma van ’n roosboompie by ’n aangrensende tafel snak hoorbaar na haar asem toe hy doodrustig opmerk: “Ag toemaar.”
Wat hierdie mamma nie weet nie, is dat Herman vir sy ouers tuis ’n groot frustrasie is – met badtyd, met slaaptyd, met aantrektyd en met inkopietyd … Hy kan nie self in die bad klim of self sy broek aantrek nie.
Hy weier om selfs te probeer om sy speelgoed op te ruim. “Ek is te klein om boeke in die rak te sit. Die legkaart het te veel stukkies. Dit sal die hele dag en die hele nag vat om in te pak. Die sandale maak seer wanneer ek hulle aantrek. Mamma moet dit doen. Winkel maak my moeg. Dra my!” So gaan dit heeldag.
Sy ousus se papegaai kan al hulle ma se stem en woorde perfek naboots wanneer sy vra, “Moet ek dan ALLES vir jou doen!?” Dit is die moedelose kreet wat al om die uur deur die huis weergalm.
Herman is ’n baie tipiese denneboompie. Vir hom is dit belangrik om nie slapende honde wakker te maak nie. Hy haat die kyk wat sy pa hom gee wanneer hy vergeet om “asseblief” te sê, daarom sê hy dit maar gedwee. Solank dit nie baie energie verg nie, is dit sy plesier om alles te doen wat van hom verwag word.
Maar ai, vra nou ’n bietjie samewerking, net ’n goeie poging of die geringste bietjie sweet van die aangesig, dan blaas die mannetjie stadig af soos ’n springkasteel waarvan die pomp afgeskakel is. Alle vermoëns verdamp en ’n hulpelose bondeltjie staar met ongeloof na die ouer wat sulke onredelike eise aan so ’n klein mensie stel!
As baba, kan jy seker raai, het hy graag heeldag in sy Snug ‘n’ Safe-stoeltjie rondgetoer. Van die kombuis waar sy mamma hom gevoer het kar toe, uit die kar winkeltrollie toe. Hier het hy lekker in die winkel geslaap terwyl Mamma twee trollies vol kruideniersware in- en uitlaai, sonder om wakker te word.
Dan weer terug in die kar in, uit die kar terug in die huis in, en dan weer so vir Mamma se volgende uitstappie. Sy het hom amper net daaruit gehaal om doeke te ruil.
Maar praat van hardkoppig! Wanneer Herman se ma skielik iewers heen moet ry, kry sy te doen met een van die eienskappe van ’n denneboom – ’n baie lang wortel, wat diep in die grond vasskop.
Waar Herman lekker voor sy gunsteling DVD sit, het sy ma ontdek dat sy wortelstelsel deur die bank en die mat tot diep in die huis se fondasie gaan. Herman word baie moeilik kar toe beweeg!
In sy tienerjare gaan hy so passief en lusteloos wees dat sy ouers kort-kort sy pols gaan neem om seker te maak daar is lewe … Hy gaan in byna niks belangstel nie. As hy wel ’n stokperdjie of belangstelling het, sal dit waarskynlik iets wees wat hy alleen en rustig kan doen. Hy gaan nie ’n kompeterende spansportspeler word nie!
Die kanse is uitstekend dat Herman se ma elke lente van sy laerskoolloopbaan die buurt gaan moet fynkam vir moerbeiblare om haar seun se sywurms van ’n hongerdood te red, want dis vir hom heeltemal te veel moeite. Hy gaan altyd ’n troeteldiertjie wil aanhou, maar sy ma gaan al die versorging moet oorneem.
Sy gaan nagte deur op die Internet aan sy hoërskooltake werk waarmee hy nie klaargekry het nie, omdat hy te laat begin het. Sy gaan hom skool toe aanry al is dit net tien minute se stap van hulle huis af.
Hy gaan op twintig sy wasgoed huis toe bring en seker maak hy doen dit net voor aandete sodat hy nie dalk – o, ondenkbare rampspoed! – sy eie aandete op ’n Maandagaand hoef te kook nie.
En wanneer Herman eendag in das en baadjie op kantoor is, gaan hy weer, soos toe hy drie was, al die regte geluide maak en mense beïndruk met sy inskiklikheid, maar wanneer sy kollegas ’n warm patat in sy skoot laat val, gaan hulle daardie selfde gesiggie sien wat nie kan glo wat van hom verwag word nie.
Sy vrou en kinders gaan ook daardie gesig leer ken. Die gesig wat sê: “Wie, ek?” Hy sal moontlik bekend wees as ’n vredemaker maar nie op die ererol vir nuwe uitvindings verskyn nie, want sy leuse is mos: “As ’n ding nie lol nie, karring ek nie daaraan nie.”
Hoe ouer hy word, hoe meer verstok gaan hy wees. Hy gaan elke dag sy gunstelingkoerant in sy gunstelingstoel sit en lees met sy gunstelingdrankie iewers langs hom. Daarna gaan hy sy gunstelingprogramme op TV kyk of met ’n boek in die bed klim. Sy gunstelingsport is een wat hy nooit gespeel het nie, maar baie graag na kyk.
Sy vriende en familie gaan mooi dinge oor hom sê. Hy gaan nie vyande hê nie, en almal sal hom onthou as ’n liewe mens.
Hoe om die volwasse denneboom te herken
Mense sê
Hoe gee en ervaar ’n denneboom liefde?
Dennebome is by uitstek die mense wat baie waarde heg aan saamwees met hulle geliefdes. Dit hoef nie opwindend, duur of eksoties te wees nie – eenvoudige saamdoendinge kommunikeer liefde in hulle taal. Hulle geniet rustige ontspanning saam met hulle lewensmaat in die fliek of saam met hulle kinders om ’n braaivleisvuur.
Dennebome verbaliseer baie moeilik hulle behoeftes. Dit maak hulle moeilik om te leer ken. ’n Betekenisvolle liefdesverhouding met ’n denneboom verg baie tyd. ’n Mens moet langs hulle kan sit en sit en sit …
Dennebome is selde veeleisend, maar hulle het hulle gunstelinge. Wanneer iemand hulle gunstelinge raaksien en hulle daarmee bederf, ervaar hulle liefde in daardie koppie tee net soos hulle daarvan hou, of die voetmassering met hulle gunstelingolie, die bord lieflingkos of die vryheid om op hulle gunstelingmanier te ontspan.
Dennebome is gewoonlik nie baie kreatief en opwindend in die slaapkamer nie, en verwag dit ook nie van hulle lewensmaats nie, borrel nie oor van romantiese woorde nie, maar wys eerder liefde deur lojaliteit en daar wees vir hulle lewensmaats. Hulle geniet egter strelende fisieke aanraking en om hande vas te hou of op hulle maat se skoot te lê.
Die meeste dennebome lees mense soos ’n boek en is besonder goed daarmee om spesifieke behoeftes raak te sien. Hulle kan ’n mens op daardie manier baie “raak” liefhê presies soos jy liefgehê wil word.
As jy egter opwindende romanse in gedagte het, mag ’n denneboom dalk nie heeltemal kan kers vashou nie …
Hoe lyk ’n denneboom se gevoelens en emosies?
Ons weet nou reeds dat ’n denneboom se reaksies stadig is. Hulle is nie impulsief nie. Wanneer hulle wel emosioneel raak, is dit van korte duur, want hulle rasionele heers oor hulle emosionele. Sodra hulle rede insien, beweeg hulle aan (mind over matter). Hulle aanvaar die dinge wat hulle nie kan verander nie.
Hulle emosies mag intens voel, maar dit lyk of klink nie so van buite nie. Hulle is gewoonlik baie selfbeheersd. Min trane en min joligheid. Daar word spottenderwys oor hierdie egalige dennebome gesê: “Stille waters, diepe grond – onder draai die duiwel rond … ”
Dis omdat die ander boomsoorte nie kan sien wat broei nie! Ander boomsoorte dink verkeerdelik dat dennebome onsensitief is omdat hulle onemosioneel voorkom. Dit is nie waar nie.
Omdat dennebome moeilik oor hulleself en hulle gevoelens praat, kan dit lyk asof hulle nie gevoelens het nie. Dennebome moet moeite doen om te leer om hulle gevoelens te verwoord en te deel, sodat hulle dieper verhoudings kan smee met veral hulle lewensmaats en kinders.