Angs en Depressie by volwassenes

Party depressievegters gaan voort met hul daaglikse pligte. Dit help hulle om die siekte beter te bestuur. Wanneer jy sukkel om die wêreld in die oë te kyk, moet jy iets doen wat kan help om weer beheer te neem van jou lewe. Neem siekteverlof of gebruik van jou gewone verlof. Dit is nie selfsugtig nie. Jy gun jou net die tyd om aan jouself en jou omstandighede (dringend) aandag te gee. Wanneer jy weer by die werk terug is, sal jy baie meer produktief wees. Professionele hulp moet jou eerste prioriteit wees wanneer jou omstandighede nie verander nie of jy die uitdagings in jou lewe nie meer op jou eie kan hante

Kyk nou die video: “Ek en my baas moet praat”.

In die werkplek

Moet jy jou werkgewer inlig of nie? Dit is ’n persoonlike besluit. Depressievegters doen dit nie uit vrees dat daar teen hulle gediskrimineer sal word of hulle moontlik hul werk kan verloor nie. Dis beter dat jou onmiddellike hoof ingelig word, want wanneer jy ’n terugslag het, kan dit verreikende gevolge inhou. Vra jou terapeut, iemand in ’n bestuursposisie (wat jy vertrou) by die werk of ’n geestelike leier presies wat jou te doen staan.

Bly in beheer

Aksieplan

Besluit op ’n aksieplan wat vir jou haalbaar sal wees om met jou dagtake en verantwoordelikhede voort te gaan ondanks die uitdagings wat angs en depressie meebring. Jy hoef nie alles op jou doenlysie af te merk nie . Prioritiseer – daar sal altyd pligte wees wat nie dringend is nie. Maak aanpassings soos die dag vorder.

Ruim daagliks tyd in vir jouself, jou gesin en jou werk

Probeer sover moontlik die balans behou. Maak ’n lys van jou dagtake en merk dit af wanneer jy ’n taak afgehandel het. Dit dien ook as motivering, want jy kan sien die lysie raak korter.

Hou jou besig met iets anders as net werkverpligtinge

Moenie jou skoolwerk (ouers wat onderwysers is) uithaal of e-posse lees en beantwoord wanneer jy niks anders het om by die huis te doen nie. Wanneer jy geen keuse het om van jou werkverpligtinge tuis na te kom nie, moet jy net op die werk fokus. Bly weg van sosiale media, anders sal dit voel jy werk die hele tyd en kry niks klaar nie. Probeer om iewers alleen die werk af te handel. Moet verkieslik nie by die televisie sit en werk om by jou gesin te wees nie.

Vermy mense met ’n negatiewe ingesteldheid

Ongelukkig kan jy nie kies saam met wie jy werk nie. Probeer om so min moontlik interaksie met hierdie suurpruime te hê.

Fisieke aanraking

Dit kan stres tot groot mate verminder. ’n Drukkie of ’n klop op die skouer kan ’n groot verskil maak.

Rustyd

Skakel af. Besluit vooraf hoeveel tyd jy nauurs aan werk moet bestee en hou daarby. Skakel alle elektroniese toerusting ’n uur voor slaaptyd af. Herlaai jou selfoonbattery in ’n ander vertrek of skakel die klank af.

 

Onderwysers met angs en depressie

Wanneer jy in die kloue van major depressie vasgevang word en jy moet werk, is dit uiters belangrik om ook by die skool ondersteuning te kry. Jy kan dalk voortgaan om klas te gee, maar voorbereidings- en merkwerk en administratiewe verpligtinge kan agterstallig raak.

Ondersteuning

Vra ’n kollega met goeie begrip vir jou omstandighede om jou soos volg te ondersteun en by te staan: Ondersteun jou op ’n praktiese manier met die fokus op dit wat jy moet doen en hoe jy voel. Gee personeellede die inligting wat hulle nodig het wanneer jy weens depressie siekteverlof moet neem: jou vordering, wanneer jy weer terugkeer skool toe en hoe die personeel jou dan moet hanteer. Kry iemand op ’n gereedheidsgrondslag wat na jou klas kan omsien wanneer jou gesondheid jou nie toelaat om verder klas te gee nie.

Jou gesondheid is ’n prioriteit

Kry genoeg rus en volg ’n gesonde leefstyl

Volg ’n gesonde dieet, verhoog jou waterinname, verminder jou daaglikse kafeïen-, suiker- en alkoholinname. Vermy die gebruik van nikotien.

Oefen

’n Strawwe oefenprogram is totaal onnodig. Doen iets waarvan jy hou, bv. gaan stap minstens drie keer per week met jou hond. Dis ’n goeie begin!

Roetine

Dit sal jou help om sover moontlik in beheer van jou verpligtinge te bly.  Hou sover moontlik by ’n spesifieke slaap- en opstaantyd. Maak tyd om elke dag ná skool iets te eet. Besluit op ’n spesifieke tyd in die dag om toetse en take te merk wanneer jy jou dag beplan.  Maak genoeg tyd vir jouself.

Ouers met depressie

Wanneer ouers depressief is, kan dit hul vermoë beïnvloed om emosioneel en fisiek beskikbaar te wees vir hul gesinne. Die roetine en daaglikse behoeftes van ’n gesin kan depressiewe ouers help om die siekte beter te bestuur.

Uitdagings met ’n depressievegter in die huis

Kyk nou die video: “Gevangenes in ons eie huis”.

YouTube video

Soms lyk dit of ’n depressievegter hom onttrek, in niks belangstel nie of geïrriteerd is met ander. Dit kan spanning tussen gesins- en familielede, vriende en selfs bure veroorsaak. Depressiewe ouers kan nie altyd hul verpligtinge tuis nakom nie. Dit plaas meer druk op die res van die gesin wat verreikende gevolge inhou. Wanneer die broodwinner depressie het, kan gesinne onder groot finansiële druk verkeer weens die hoë uitgawes vir medikasie en terapie asook ’n verlies aan inkomste wanneer hy vir lang tye nie kan werk nie. Wanneer ’n gesinslid weier om deur ’n professionele terapeut vir depressie geëvalueer te word, ly die hele gesin daaronder.  Die depressievegter moet self ook die verantwoordelikheid aanvaar om hulp te kry.

Help kinders om die siekte te verstaan

Volwassenes verstaan meestal nie eens self die siekte nie. Vir kinders is dit nog moeiliker. Hoe verduidelik ’n mens depressie aan ’n kind sonder om hom nog meer te verwar? Begin by die begin en hou dit eenvoudig wanneer jy met jou kind(ers) oor die siekte praat. Kinders hanteer die siekte en die uitwerking daarvan op die mense rondom hulle beter wanneer ouers openlik daaroor praat op ’n vlak wat die kind verstaan. Dit help kinders om sin te maak uit die veranderinge in ouers se gedrag en om te weet dat dit nie hul skuld is dat die ouer depressief is nie.

In die praktyk

Party depressievegters gaan voort met hul daaglikse pligte. Dit help hulle om die siekte beter te bestuur. Wanneer jy sukkel om die wêreld in die oë te kyk, moet jy iets doen wat jou kan help om weer beheer te neem van jou lewe. Jy is dit aan jouself verskuldig.

Kliek hier vir jou selfdoen-werkbladsye: “Angs en depressie by volwassenes”.